Thursday, February 7, 2013

Graham Ellis (e.a.). - Off the wall (2007)



Graham Ellis, Primrose Mrwebi & Heather Parker Lewis (Redakteurs.). Off the wall. ihilihili press, 2007. ISBN 1 920103 03 1.


Resensent: Joan Hambidge

Elke Maandagaand by Touch of Madness in Observatory tree ‘n genooide digter op. Hierna word die mikrofoon oorhandig aan enigeen wat ‘n gedig wil voordra. Hugh Hodge is die sameroeper van hierdie geleentheid.

Off the Wall is die versameling van gedigte van digters wat hier opgetree het en bekendes soos Geoffrey Haresnape, Gus Ferguson, Deborah Steinmair, Mike Cope saam met Ian McCallum en Jacques Coetzee se gedigte word gebundel met minder bekende name. Willem Fransman (jnr.), Primrose Mrwebi (wat die inleiding geskryf het) en Khadija Heeger is ook hier te lese. Swart, wit, Moeslem, Protestants, Katoliek saam.

Die bundel sal waarskynlik veral vir die digters ‘n lekker versamelstuk wees en die bundel moet in alle waarskynlikheid benader word vir wat dit is, naamlik ‘n verslag van gedigte wat voorgedra word.

Hier is ‘n gehoor aanwesig en die tegnieke van die orale vers – soos herhaling, sterk ritmes, klankeffekte, en dies meer -  word hier aangetref.

Gus Ferguson se kragtige “While his wife is away” ondersoek die ellendes van alleenwees en verlange. Terwyl hy kook, eet hy alreeds die bestanddele op!

Geoffrey Haresnape se “Cross Currents” skeer die gek met die “outage” wat ons in Kaapstad beleef het en wat die implikasies van hierdie woord behels. Dit is politiek korrek en die teenoorgestelde van “inage”! Hierdie skerp satire ontmasker die leuens en die effek wat dit op ons almal se lewens gehad het.

Gill Gimberg bewys met haar “Bathroom Schizophrenia” dat humor ‘n noodsaaklike deel van die digkuns kan wees. Die name op die tandeborsels in haar badkamer korrespondeer nie met die name van die huisgenote nie. Te wyte aan ‘n spesiale aanbod, staan hierdie halfprys-tandeborsels in die badkamer. ‘n Speelse analise van hoe jou naam jy is en jou eiesoortigheid vergestalt en in welke mate ons almal uitgelewer is aan die verbruikersgemeenskap se spesiale aanbod. Hierdie gedig sou waarskynlik  baie goed werk by so optrede, omdat dit iets is waarmee almal kan identifiseer.

Vir die leser wat hou van gedigte wat werk met dubbelsprake, komplekse verwysings,
sal daar nie veel gedigte wees wat die paal haal nie. Wanneer ‘n mens hierdie bundel lees, moet jy dit lees asof elke gedig voorgedra word.

“The preparation of food” van Graham Ellis is ‘n voorbeeld van ‘n gedig wat met ‘n voordrag sterker word. Trouens, Willem Fransman neem sterk standpunt in téén sogenaamde “fênsie poetry”. Hy wil skryf soos daar in die Townships gepraat word “soelat ammal my kan ve’staan”. ‘n Loflike gedagte, maar dan weet ons dat Adam Small met hierdie soort praattaal vers groot hoogtes bereik het wat sowel die gewone as ernstige leser behaag (het).

Daar word die afgelope tyd dikwels gemor oor die posisie van die digkuns. Orals is daar egter optredes, bemarkers van die digkuns, gigs waar digters optree met musikante, ensomeer. In By word ons elke week bekend gestel aan nuwe name en reeds gepubliseerde digters se kommentaar hierop, wat tereg al skerp kritiek uitgelok het. Gelukkig skryf die meeste digters ‘n gedig ten spyte van die kritiek wat hulle vir ‘n appel-en-ei verkoop! Anders as wat die meeste mense meen, verskyn daar steeds genoeg bundels en is daar  name name aan die wroet en werskaf. Rome is nie in een dag gebou nie. En ‘n digterlike kentering gebeur ook nie sommer oornag nie. Net die tyd sal oordeel.

In hierdie bundel sal die bekendes dalk bly staan; die ander ‘n blote geleentheidsdigter bly. Maar dit is soos ‘n skoolportret:  nie almal word bekend of beroemd nie. En party word vergete name.

Off the wall is beslis ‘n versameling indien ‘n mens iets van die tydsgees wil opvang.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]