Friday, February 1, 2013

Gerrit Olivier - Aantekeninge by Koos Prinsloo (2008)



Gerrit Olivier. Aantekeninge by Koos Prinsloo. Sun Press: Rapid Access Publishers, 2008. ISBN 978 1 919985 31 2.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ons het lank gewag op Gerrit Olivier se Aantekeninge by Koos Prinsloo wat sopas by Sun uitgewers en meer spesifiek Rapid Access verskyn het. Olivier het bekendheid verwerf in die tagtigerjare as ‘n vlymbekkige en dikwels satiriese kritikus en hy het ‘n studie oor N.P. van Wyk Louw geskryf wat eweneens kritiek ontlok het. Hy is tans hoogleraar in die Afrikaans en Nederlands, maar die voormalige department bestaan egter nie meer nie. Tans is hy is hoof van die Wits School of Arts en hy was die afgelope paar jaar dekaan wat ongelukkig tot gevolg gehad het dat daar redelik min resensies en artikels van hom verskyn het.


II

Hy verduidelik in die nawoord dat hierdie sy Trauerarbeit oor Prinsloo is en hy erken sy skatpligtigheid aan ‘n hele boel mense. Op die agterblad word die boek aangeprys deur Edwin Cameron en Marlene van Niekerk wat Prinsloo sonder skroom beskou as die belangrikste skrywer oor die gay beleweningswêreld. (Vergeet ons tydelik van Hennie Aucamp en Johann de Lange?)

Die boek getuig van ‘n deeglike benadering tot Prinsloo se werk. ‘n Soort stiplees en verwysing na relevante bronne en tekste. Vir ‘n werklike ‘nuwe’ of selfs psigoanalitiese benadering moet die leser maar elders gaan aanklop. Hiervoor is Olivier se teoretiese kennis waarskynlik nie diepgaande genoeg nie. Wat die teks wel ‘n lonende leeservaring maak, is die deeglike kommentaar of aantekeninge by tekste. Ons lees onder andere in voetnote oor kwessies soos Prinsloo se betrokkenheid by die UP-tydskrif Vlieg en Hans Pienaar se reaksie nou op die registrateur se dreigement oor wat alles met hulle kon gebeur.

Olivier begin met die siening dat Prinsloo se tekste ‘n soort selfopenbaring en ‘n gevoel dat enige vorm van verswyging, onderdrukking of selfs fiksionalisering van die werklikheid ‘n vorm van magsmisbruik is. In dieselfde asem is hy dan krities op lesers soos Riana Scheepers wat karakters in boeke gelykstel aan lewendes buite die boeke.

Ek weet ek is nou besig om Olivier se komplekse argument en dans van die sewe sluiers hier ‘n bietjie te vereenvoudig, maar in die praktyk is dit waarop dit sou neerkom.

“Die paradoks is dat elke onthulling ook ‘n verhulling moet wees; dat dit onmoontlik is om agter ‘n teks ‘n ek in sy volle naaktheid sigbaar te maak. Die skrywer wat hom verset teen die moontlike valsheid van die literêre diskoerse en die strategieë van die glad gepoleerde verhaal kan nie buite die konvensie iets tot stand bring wat nie self óók konstruksie is nie. Dit impliseer dat selfs die ek-figure wat as outobiografies aangebied word, nooit sonder meer met die konkrete skrywer vereenselwig kan word nie” (p. 2). Ek verskil hier: ek dink Prinsloo se tekste kan as sowel outobiografies of ‘werklik’ gelees word as konstrukte. 

Sowel Olivier se benadering as Scheepers se lesing van sy tekste is geldig. Die gebruik onder andere van paspoortfoto’s of foto’s van herkenbare persone aktiveer ‘n werklikheidskode. Dit is dan ironies dat hy Linda Hutcheon aanhaal in The Politics of Postmodernism (1980) waar sy tog die kwessie van “doubleness” en “duplicity” beklemtoon (p. 59).

Dit is duidelik dat Olivier kritiekloos, selfs bewonderend voor Prinsloo staan.

Die studie se grootste waarde is opgesluit in die voetnote en onder andere die hele geskiedenis rondom die geknoei met die Rapport-prys word onthul. Beskuldigings dat ‘n pryskomitee saamgestel kan word om ‘n bepaalde skrywer te bevoordeel en ander kwessies word vreesloos deur Olivier onthul. Dit was hoe dit was en die klimaat waarbinne Prinsloo geskryf het met onder andere sy baas, ‘n koerantredakteur wat wou weet of hy ‘toestemming’ had om as gasredakteur vir Stet op te tree wat deur Taurus geborg is!

Dit word ‘n skokkende ontbloting van die benouende tyd waarbinne Afrikaanse skrywers geleef en geskryf het en hoé daar per memorandum of klein dreigement met ‘n persoon se gal gewerk is.

Oor die omstrede Slagplaas is daar al dikwels lank geredeneer. Ek is een van die resensente of kommentators wat nie in Olivier se oë genade vind nie. Ek was tewens nie verbaas dat Kerkorrel kwaad geword het vir Prinsloo nie en Olivier speel hier ‘n bietjie Skoolmeneer wanneer hy na letterkundiges se banale uitsprake oor die teks verwys asof net hy die korrekte antwoord het. Enige grensverskuiwende teks gaan uiteraard op verskillende vlakke reaksie ontlok. Trouens, ek het nie gedeel in die ikoonstatus wat Prinsloo in hierdie tyd geniet het nie en dat elke uitspraak wat hy gemaak het in sekere kringe vir soetkoek opgevreet is.

Ons wag al jare op hierdie studie.

Dit lewer ‘n belangrike bydrae wat die stiplees van tekste betref, die uitwys van ‘n geknoei agter die skerms en die byhaal van dokumente en bronne om die tekste te verhelder.

Vir ‘n diepsinnige teoretiese of vars psigoanalitiese blik – op ‘n komplekse skrywer en samelewing – sal die leser waarskynlik moet wag. Deleuze & Guattari of Alice Miller sou verheldering kon bring. Wanneer hy Barthes se jouissance aanhaal, is dit sonder genoegsame verheldering – die erotiese plesier soos wat Barthes dit beskryf in Le plaisir du texte is waarskynlik komplekser as wat Olivier hier laat blyk (p. 109). Dit gaan immers oor die leser se vermoë om vlakke in die teks raak te lees, botsings te verdiskonteer en dies meer.

Olivier se teks speel op twee vlakke af: ‘n skerpsinnige analise van die verhale en dan die voetnote waarin hy dikwels op ‘n minder vriendelike wyse ‘n stelling verkeerd bewys. 

Verder besluit hy wannneer ‘n biografiese gegewe binne-in die teks ‘toegelaat’ mag word, maar vind o.a. Scheepers se toespelings nie altyd korrek nie. Of hy haal ‘n sin uit ‘n rubriek – van myself oor ‘n paspoortfoto – buite konteks aan.

Johann de Lange had gelyk dat Prinsloo die dinamo was vir die skep van die energie waaruit die tekste geteer het. Waarom sou hierdie opmerking onvriendelik en onjuis wees (p. 208).

Gerrit Olivier staan te bewonderend en te na aan die figuur wat hy ondersoek. Hier is nie ‘n kille distansie van ‘n Edmund White aanwesig nie en plek-plek herinner die boek aan ‘n besitlike weduwee wat jaloers en eiendomlik die manuskripte bewaar.

McHale se siening van die dood as ‘n “ontologiese grens” is relevant vir hierdie begryp van Prinsloo se optrede: o.a. die skryf van ‘n woedende brief aan die uitgewer en die eis van ‘n voorskot al sou die manuskrip nie gepubliseer word nie (!) dui alreeds op iemand wie se houvas op die werklikheid waarskynlik begin gly het.

Olivier verwys na die terapie-sessie waar oordrag plaasgevind het. Dus klein oomblikke waarin daar flikkeringe of suggesties is van ‘n dieper kyk in Prinsloo se psige en die rede vir sy simboliese vadermoorde en aanvalle op toenmalige vriende en kennisse.


III

Die gebrek aan ‘n indeks het die leeswerk beslis nie vergemaklik nie.

Ofskoon daar baie belangrike inligting verskaf word, voel die leser na die voltooiing van die teks soos oor E. Lindenberg se lesing van “Groot Ode”. Is dit waarop ons so lank moes wag?

Langverwagte tekste wat dikwels met beloftes gepaard gaan van hier kom ‘n deurbrekende grens, is niks anders as “belofte maak skuld nie”.

Vir die skerpsinnige analises van tekste kan ‘n mens die hoed afhaal. Vir ‘n diepgrondige verduideliking van die komplekse persona van Prinsloo wat in sy eie terme gelees wou word en à la Barthes sy eie filosofie wou skep waarin hy tuis en veilig sou voel, is hierdie studie helaas nie.

Eerder as om die teenstrydighede uit te wys, word dit self ‘n teks vol kontradiksies, soos uitgewys.


Bronne:

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

Gilles, Deleuze & Félix Guattari: Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia. The Athlone Press, Londen. 1984. (1972).

Miller, Alice: The Drama of Being a Child – The Search for the True Self. Virago, Londen.  1987.


Nawoord:

Uit die resensie is dit duidelik dat die studie in gebreke bly om Prinsloo se opstand teen die vaders psigoanalities te verhelder. ‘n Woede teen die vader – vaderhaat – word telkemale op ander vaderfigure geprojekteer en hierdie konflik, een van ambivalensie teenoor vaderfigure, tref die leser aan in vele verhale. In die verhouding met die skrywer as mentor (Aucamp) en die uitgewer (‘n simboliese vader).

Oedipus het sy vader Laius per ongeluk doodgemaak. By Prinsloo is dit ‘n volgehoue, meedoënlose inbeweeg en dan afwysing van die vaderfiguur. ‘n Anti-Oedipus dus. ‘n Weiering om te oedipaliseer en die gesag van die vader/Vaders te aanvaar op alle vlakke: werklik en letterkundig.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]