Saturday, February 2, 2013

Ivan Vladislavic - Flashback Hotel. Early stories (2010)



Ivan Vladislavic. Flashback Hotel. Early storiesUmuzi, 2010. ISBN 978 1 4152 0107 7.
Resensent: Joan Hambidge

Missing persons (1989) is indertyd met die gesogte Olive Schreiner-prys bekroon en Propaganda and other stories (1996) bevat twee verhale wat die Thomas Pringle-toekenning verower het. Portrait with keys het destyds my asem weggeslaan en Flashback hotel, wat sopas by Umuzi verskyn het, is dan ‘n kompendium van ou verlore verhale. Stories wat ‘n mens lees wat in die struggle-tyd afgespeel het en nou dwingend relevant is. (Ek hoef dit seker nie vir enige leser uit te spel dat die media-tribunaal op ‘n erger sensuursisteem gaan afstuur as wat Connie Mulder & kie ooit bedink het nie.) ‘n Verhaal waarin Vladislavic se métier as kortverhaalskrywer die beste geïllustreer word, is in die verhaal: “The box”.

Hier het jy die ware storieverteller aan die woord. Quentin, die fokalisator sit sy bottel Southern Comfort neer en kyk TV waar die eerste minister allerlei kwyt raak. (Gaan terug in die verlede, geliefde leser en dink aan noodtoestande, boikotte, ensomeer.) En dan gebeur die onmoontlike: Quentin ruk die man-van-gesag uit die boks en hy verklein soos ‘n speeldingetjie in sy hand.

Dan word die leser getrakteer op wat alles met hierdie mannetjie gebeur in die fynste detail.

En terwyl hy ‘n gevangene is van Mary en Quentin in ‘n aweregse Alice in Wonderland-wêreld, ontken die regering dat hy weg is. Nee, hy is net ernstig siek en media-verklarings word uitgereik om dit te bevestig. Die wêreld van die “printer tray” word geaktiveer en die mannetjie word gevoer op ‘n melkbottel-proppie.

En dan begin hierdie aanwesigheid die karakters te steur. En nog meer waansin en diefstalle. Selfs ‘n glimlag op ‘n tandepasta-advertensie word geskaai. Hierdie fantasieryke verhaal is ‘n kragtoer en illustreer die skrywer se talent, naamlik die vermoë nooit melodramaties te laat raak nie en déúr die fantasie wat geskep word, kommentaar te lewer op die werklikheid. Uiteindelik word dit ook ‘n soort kommentaar op die aanwesigheid van die media in ons daaglikse bestaan.

Wat maak Ivan Vladislavic só ‘n besonderse talent?

Waarskynlik die aweregse humor en die slim spel, sonder dat dit vervelig of akademies raak. Die oplettende leser – soos Crito – sal opmerk dat ‘n verhaal leen uit ‘n Barabra Cartland-storie én ‘n uitgewersnota van Naught for your Comfort deur Fr Trevor Huddleston.  Hierdie briljante vertelling handel oor ‘n man se ontmoeting met ene Helena. Hy koop van haar boeke by ‘n tweedehandse stalletjie en in ‘n fantasieryke vertelling probeer hy via haar boeke agterkom wié sy is.

Die slot kan as dubbelsinnig gelees word. Ontmoet hy haar werklik met die verwysing na THE END wat die verhaalmatige wil vooropstel of is ons hier in die mal verbeelding van ‘n persoon wat te veel gelees het? Hy lees immers Pirandello en ons weet wat Calvino alles in verhale aanvang.

Daar word dikwels groot gewag gemaak van Vladislavic se humor.

“Autopsy” illustreer dit. ‘n Man sit en eet in die Potato kitchen en hy sien die Koning, oftewel Elvis, of iemand wat Elvis sou kon wees. In hierdie waarnemer se gedagtegang word hy ‘n Messias-figuur.

Vladislavic se skryfstyl is dikwels digterlik in beelde wat die leser onverhoeds betrap: the sun sank like an embolus into a sea of lymph”(148).

Die verhale gee aandag aan klein besonderhede sodat die leser dikwels ‘n vergange of retro-wêreld terug geneem word. 

Dit is verhale wat nie maklik hul geheime prysgee nie en die leser dwing tot herdink en herlees.

Die voorblad verklap iets van die verhale se aard: in plaas van ‘n kop is daar ‘n gloeilamp wat helder skyn.

‘n Beeld dalk van die verbeeldingsvlugte wat hierdie verhale wakker maak?

Ivan Vladislavic is ‘n ware vakman en kenner van die kortverhaal.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]