Friday, February 1, 2013

Koos Prinsloo - Verhale (2009)



Koos Prinsloo. VerhaleHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 4940 2.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Om te skryf oor die kortverhaalskrywer Koos Prinsloo wil ek my resensie kontekstualiseer en verwys na die mini-seminaar oor sy werk.

Ek het geskryf:

Die naam Koos Prinsloo was en is gekoppel aan omstredenheid. Koos Prinsloo was ‘n tydgenoot in die onrustige tagtiger- en negentigerjare toe almal aan almal se kele was. Nie alleen was dit die tyd van apartheid, noodtoestande, seksuele ontdekkings nie, maar dit was eweneens ‘n tyd van polarisasie. Skrywers was opdrag gegee deur die ANC se ‘cultural desk’ om oor ongeregtighede te skryf. Johann de Lange se Nagsweet is deur ‘n beswaarde resensent teruggestuur oor die openhartige besinning van lyflikheid.

Dit was die tyd van Stet, die letterkundige tydskrif waar digters soos Koekie Ziervogel baljaar het en bandeloosheid, seksueel en polities, aan die orde van die dag was.

In hierdie tyd was daar die figuur Koos Prinsloo, wat met sy debuut Jonkmanskas (1982) opslae gemaak het. Oor die gedurfde verhale, die vermenging van feit en fiksie. Die kritiek op die patriargie. Hierteenoor was daar ánder kortverhaalskrywers soos Alexander Strachan, die voormalige recce, se ‘n Wêreld sonder grense en Lettie Viljoen (nou Ingrid Winterbach) se Klaaglied vir Koos. Of Etienne van Heerden se My Kubaan.

By Koos Prinsloo was daar woede, vreesloosheid, gedurfdheid, ‘n soort ‘dirty realism’ en die verhale het al hoe feller en meedoënloos geraak. Met Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) was Prinsloo gevestig as kultusfiguur. Met vele omstrede gebeure:

Die Rapport-prys is hom ontneem omdat hy, by monde van ‘n karakter,  P.W. Botha as ‘n meidenaaier uitgeskel het – hierteen het hy geappelleer en wel uiteindelik die prys ontvang;
Johannes Kerkorrel het homself herken en letterlik in ‘n verhaal ingeslaan;
‘n Literator, Tom Gouws, het vir weke se vermaak gesorg toe hy ‘n foto in ‘n Prinsloo-teks verkeerd kodeer het.

Hy het oor Vigs op ‘n onromantiese en vreeslose wyse geskryf en familiegeheime en -opstande uitgelap om sy leser onrustig te maak.

Waarskynlik is die beste wyse waarop ‘n mens Prinsloo se nalatenskap kan takseer is in Johann de Lange se Vreemde as fiksie (1996) opgeteken. Hier versoen De Lange die twee groot gay-skrywers, naamlik die mentor (Hennie Aucamp) met die mentee (Koos Prinsloo) op ‘n verbluffende wyse. Ook gee sy verhaal ‘n besondere blik op die komplekse verhouding en word ‘n gedurfde eksperiment in die grense, en grensloosheid van die postmoderne verhaal waar voetnote, werklike en fiktiewe karakters, aanhalings uit briewe, kortverhale vermeng word om ‘n blik te gee op vaderskap (letterkundig en andersins) om ‘n eie identiteit uit te werk.

Koos Prinsloo is en bly ‘n gedurfde skrywer, ‘n knap stilis wat die leuens van sy samelewing met ‘n rapier aan flarde kon sny.

Ironies genoeg lees jong lesers hom moeilik, omdat hy as tipiese eksponent van die postmodernisme geanker was in sy tyd en sy angste. Vele van die tersydes en voetnote – om van die skinderstories as interteks nie te praat nie – is vir die meeste lesers vandag gewoon onbekend.

Tog is daar verhale wat buite die kontensieuse óm bly bestaan soos “Klara se klokkies”, “In die kake van die dood”, “Die wond”, om enkeles uit te sonder.

Hoe, wonder hierdie leser, sou sy verhale nóú daar uitgesien het?

Of kon so ‘n driftige skrywer net vir ‘n kortstondige tyd bly leef? Of sou hy sterf aan sy eie ontgrensing?

Hoe ironies dat die Pop Ster ook nie meer met ons is nie.

Al lê die berge nog so blou.


II.

Hierna vra FineMusicRadio vir my om ‘n resensie te lewer en ek herlees die verhale. Sekere aspekte van sy werk kom vir my duidelik na vore:

By ‘n herlees is dit duidelik hoe doelgerig hierdie skrywer hom oorgegee aan die skryfdaad. Veral die grense tussen werklikheid en fiksie, die gebruik van herkenbare mense (soos Andrea Vinassa, o.a.) val op. Nou dat die skrywer nie meer deel van die letterkundige sisteem is nie, vind hierdie leser dat sekere tekste ‘n ander inval opeis.

“A portrait of the Artist” waarin Hennie Aucamp as mentor beskou word, raak ‘n ryk geskakeerde teks oor die ellendes van skryf en dat die skrywer – met of sonder ‘n mentor – ten slotte alleen is.

‘n Paspoortfoto van die moeder problematiseer die grense tussen werklikheid / fiksie. In ‘n literatuurgeskiedenis word gevra of dit eties korrek is dat die skrywer herkenbare mense se lewens tot teks verklaar?

Daar is verwysings na Raymond Carver se ‘dirty realism’ – voortreflik verfilm deur Robert Altman in Short Cuts – na bekende gay-skrywers, na die pynlike ervaring van PCP/Vigs, eksplisiete seks, plat woorde…

Teenoor die verestetisering van die ouer skrywer, staan die weerbarstige skrywer wat niks en niemand ontsien nie; veral nie homself nie.

Gaan koop die boek.

Die gesigslose uniform (deur Hentie van der Merwe) som dalk iets van die kondisie op: nou dat die skrywer vertrek het, is die verhale sterker en gesigsloser in fiksie gebed. Op ‘n plekke ‘n wins, op ander plekke ‘n verlies omdat die tekste van Prinsloo sterk deur sy persoonlikheid ingegee is.

Dit is uitgegee deur Human & Rousseau.


III.

Later vanjaar verskyn daar ‘n studie oor die werk van Koos Prinsloo een van die belangrikste eksponente van die postmodernisme en gayverhaal in Afrikaans. Die besonder keurig versameling verhale met die uniform wat gesigsloos voor jou staan, roep etlike assosiasies op: die grensverhaal waarin ‘n karakter P.W. Botha ‘beledig’ het en Prinsloo in omstredenheid gedompel het. Hy is die Rapport-prys ontneem, maar die geldwaarde is wel later aan hom uitbetaal, omdat hy ‘n regsopinie ingewin het.

Prinsloo was ‘n maverick-skrywer. ‘n Vreemde mengsel van ‘n weerlose jong man wat in ‘n stadium maskara gedra het met ‘n cowboy-borspeld op sy hemp.

Jonkmanskas (1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993). Die eerste bundel het by Tafelberg Uitgewers verskyn, die tweede by Taurus, die derde by Human & Rousseau en ten slotte: by Hond. Hy het dus by sowel hoofstroom-uitgewers as by randuitgewers gepubliseer.

Die rede hiervoor is by nabaat duidelik: Prinsloo se onverskrokke uitwys van magsmisbruik binne die Afrikaner-élite of gewaande Afrikaner-adel het nie goed afgegaan nie. Die aanvat van heilige koeie en tollies het eweneens dwars in die krop gesteek en ja, die wyse waarop die homoseksuele tematiek aangepak is, het eweneens ‘n wenkbrou laat lig. Vir die rekord: in die tagtigerjare was gay-wees ‘n gevaarliker arena as wat dit nou is. Skrywers is gekapittel oor hul skryfwerk en ‘n dekaan aan die Universiteit van die Noorde het my aangespreek omdat ek in die pers erken het dat ek nie alleen gay-tekste skryf nie, maar ook gay is.

By Prinsloo is daar vele klassieke tekste aantoonbaar wat in enige relevante bloemlesing sal tuishoort. Vir my is die suiwer begin in “By die skryf van aantekeninge oor ‘n reis” ook ‘n teks wat kommentaar lewer op die lewensreis.

Net so kry die slotwoorde uit Weifeling nou ‘n ander betekenis:

“Kort voor ligdag – in  die kaal jakarandaboom voor sy balkon raas die mossies al – en wel met die hulp van ‘n slaappil, sluimer hy vir die eerste keer in (p. 381).

Wanneer ‘n mens die verhale uit die verskillende bundels nou weer saamlees, is dit ‘n ander leser met ander wetes en insigte wat die tekste benader. ‘n Paar interessante opmerkings vanuit die déjà lu-perspektief:

1. Jy merk onder andere op dat Beeld-beriggie (p. 60) in “In die kake van die dood” deel vorm van die teks en nie meer ingeplak is nie. Dit was oorspronklik ‘n fout wat egter die pomo-aard van die teks onderstreep het.

2.  Die verskillende tekste kry vandag in 2008 ‘n ander betekenis. Die leser uit die tagtigerjare kan vele van die verwysings snap en verdiskonteer, ofskoon jonger lesers dikwels onduidelikheid ervaar oor wat ‘n betekenis of in-verwysing behels.

3. Prinsloo het ‘n suiwer, ongekunstelde prosa geskryf. Gaan lees “Skrot” byvoorbeeld weer.

4. Die tydsdokument is opvallend soos in “A night at the opera” waarin ‘n spesifieke tyd (Saterdag, 23 Maart, 1985 om 10h15) as’t ware die werklikheidsdimensie of vraisemblance van die teks wil beklemtoon.

5. Dieselfde geld die gebruik van foto’s van herkenbare figure of die plasing van die ID-foto van die moeder (p. 203). Persone soos Iris en Helena wat werklik bestaan of geleef het.

6. ‘n Behendige hantering van die metafiksionele of selfrefleksiewe teks soos “A portrait of the artist” en vele voetnote wat die teks in ander tekste inbed en selfs die werklikheid tot teks verklaar.

7. Die vermoë om taboe-onderwerpe of die onsêbare te verwoord tot die chagrin van die geskryfdes.

8. Strokiesprente en ander tekste wat binne verhaalverband kommentaar lewer op ‘n uitspraak van die verteller / persona / skrywer.

9. Verskillende tekste (strokies, dramatekste en fantasie) wat ‘n soort genre-vermenging deurmaak om die leser uiteindelik onseker te maak oor wat die eintlike finale punt van ‘n storie is. Ook die erkenning dat dialog gebaseer is op populistiese tekste soos Maureen Pithey se artikel in Highveld Style (September, 1985). Later het tekste geskuif na Stet (oh those were dem days!).

10. Die verhale het ten spyte van die kontensieuse aard bekronings beleef (die Rapport- en De Kat-pryse, byvoorbeeld).


IV.

Dit is byvoorbeeld relevant om te kyk hoe skrywers binne ‘n kanon verdwyn en terugkeer. Twee belangrike Afrikaanse prosateurs het as’t ware uit die dode opgestaan: Etienne Leroux en Koos Prinsloo.  Die eerste verhaal het in 1980 in Tydskrif vir letterkunde verskyn.

‘n Skrywer word weer afgestof en van die rak en uit die kas gehaal, wanneer die boodskap weer tersaaklik word. Dit strek Human & Rousseau beslis tot eer dat hul bereid was om hierdie belangrike en omstrede skrywer weer aan te bied in ‘n nuwe baadjie.

Hoe sou Koos Prinsloo nou geskryf het en teen wie sou hy nou uitgevaar het? Of het hierdie soort tekste juis gedy, omdat die skrywer bewus was van sy einde? Hierdie vrae vra ek na ‘n herlesing weer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]