T.T. Cloete. Heilige nuuskierigheid. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 9780624045069.
Resensent: Joan Hambidge
“digters droom ou drome van bevrydende / vervreemding”
Heilige nuuskierigheid. So heet die jongste T.T. Cloete digbundel wat
sopas by Tafelberg Uitgewers in sagteband verskyn het, ofskoon die digter deur
die jare net in hardeband verskyn het. ‘n Mens sou die bundel ook ‘n soort
“heilige verrukking” kon noem, geskryf deur een van die digterlike meesters in
Afrikaans. Die afgelope tyd het ons wonderbaarlike bundels van die grotes beleef:
Breytenbach, Wilma Stockenström, Krog... En alles te midde van die woelinge
rondom NALN se verskuiwings en die sluiting van Insig: die Afrikaanse
letterkunde en veral die digkuns bloei tans. Dalk soos Breytenbach meen dat ‘n
boom voor hy sterwe sy beste vrugte dra?
Reeds met Cloete
se debuut was die jukastaposisie van die banale en die heilige opmerklik, die
inspeel op Franse en Afrikaanse digters, die klankontginnings, nuutskeppinge,
innoverende tegniese truuks – soos die gebruik van wit spasies wat die vers
dubbelsinnig maak -. ‘n Idiolek dus. (Ek verwys die leser na die endnote vir
verdere inligting).
Hy debuteer op
56 en nou, in sy tagtigerjare skryf hy bundel gelyk aan sy bestes: Jukstaposisie en Allotroop.
Hy is ‘n
vernufsdigter, oënskynlik. Maar hy tref jou ook in die hart. Veral met sy
lykdigte.
Die aweregse
blik, die gebruik van geleerde/vreemde woorde, die blik op die natuur, satires,
die erkenning van die liggaamlike en blatant-erotiese, die gesprek met ander –
ook met Elize Botha deur Totius en Opperman – is van die oorheersende temas in
hierdie bundel. Immer beleef deur ‘n ouer mens. Weerloos, dog skerpsinnig. ‘n
Jukstaposisie dus.
‘n Mens is
hierdie telkemale geïmponeer met die enorme intellek en kennisveld: van ‘n
TV-tekenprent tot die oer-klassieke; van Walter Battiss tot Dali. Van ewolusie
tot die gebed.
‘n Deurlopende
motief is die breekbaarheid en weerloosheid van alles. Die oomblik wat
verbygaan. Daar is o.a. skerp kritiek op die huidige politieke stelsel en die
ontkenning van die “partikuliere taal” – soos hy in die slotvers “Shoa” dan
dig. ‘n Begrip wat in die Bybelse Hebreeus, ‘n taal wat Cloete ken, dui op
verwoesting, vernietiging.
Elkeen is in sy
ekso
is sy eie binnetoe
dig hy – en dit is
relevant vir hierdie bundel se begryp.
Ek gaan
vervolgens verskillende aspekte betrek:
1 Die aweregse blik:
Van die mees
verrassende gedigte staan in die tweede afdeling waar die digter oënskynlik kyk
na ‘n seeperdjie, ‘n mantis of miskruier. Maar dit word méér as dit. Die
natuurkenner gee ‘n matematies-presiese blik op ‘n diertjie of gogga; of selfs
‘n pynappel:
in spirale, van
links na regs soveel, omgekeer
van onderaf
boontoe klokslag ‘n paar meer
dit weet hy om
‘n rasegte pynappel te wees
(p. 33)
‘n Naakte
seeslak dans ‘n flambojante flamencospaanse dans! En die seeperdjie word gesien
as ‘n grap (ook ‘n bekende tema in die digter se oeuvre om die kosmos en God se
spel of tot ‘n grap te verklaar). Hy het ‘n perdekop en ‘n vark se snoet; die
buidel van ‘n kangaroe en die stert van ‘n aap wat hom een van die
“apokreatiewe wonderwerke” maak.
2. Die gebruik van geleerde woorde:
Cloete gebruik
dikwels die wetenskaplike of non-poëtiese woord. Hy skram nie weg van Engelse
aanhalings of woorde nie en begrippe soos “allofrasie” vind ons in gedigte. Hy
gebruik ook Franse of Latynse begrippe en die endnote aan die slot van sy
bundel is van uiterse waarde vir die speurende leser.
3. Die blik op die natuur:
Reeds in die
bundel Met die aarde praat (1992)
het hy hom onderskei as ‘n “groen digter”. Die mens se verhouding met God – in
navolging van Neruda verklaar hy God tot die grootste digter – lees hy af uit
die natuur en in die openingsgedig, die programvers “Eurinome” word hierdie
gesprek begin.
4. Satires / kommentaar:
Reeds vanaf die
debuut laat hy hom skerp uit teen oningeligtheid, teen die massa-kultuur, teen
mense wat nie hou van biblioteke nie – die kleindorpse lewe met snoppies en hoë
lui wat dink hulle is ‘n Iemand. Eiewaan, geldmag en ander vergrype kom dikwels
in sy visier.
5. Die liggaamlike en die erotiese:
Met sy verse oor
Marilyn Monroe – waarby vele ander digters aansluit – bestryk hy die
eroties-liggaamlike. Hy beskryf die vrou
as “nakont” en in die vers “maroela-ont (p. 52) proe die leser die woord kont
in die slot! In “Loopskrif in ‘n vakansiehotel” (uit Idiolek, 1986) het hy al op ‘n vernuftige wyse skryf , masturbasie
en ‘n voyeuristiese ervaring van ‘n jong meisie se orgasme behendig weergegee.
Hy kyk sonder skroom na die lyflike. Op ‘n keer dig hy van die “aanwesigheid
van die afwesigheid” – en telkemale presteer hy ongelooflike paradokse.
6. Die gesprek met ander
digters/media/die wetenskap:
By Cloete is
daar altyd ‘n gesprek met Franse digters, by implikasie: ek kan altyd die
teenwoordigheid van Baudelaire voel en Verlaine; nader tuis: Totius en
Leipoldt, Opperman – en drie pragverse oor onlangs ontslape vrouedigters:
Sheila Cussons, Ina Rousseau en Eveleen Castelyn, die onbetwiste meester van
die haikoe en tanka in Afrikaans.
Eveleen Castelyn
party digters
praat sag
alleen digterlike
ore kan hulle hoor
kies ek vir jou
leipoldt se kriek in die nag
op die solder as
metafoor
Oor Ina Rousseau
– wat hy op ‘n keer tipeer het as die digter met die “suinige hand” wanneer dit
kom by publikasie – verwys hy na “woordspaarsaam” en die lieflike vers oor
Cussons aktiveer die verse in Plektrum waarin die
obsessie met die pêrel beskryf word. Die ander een, te wete Van Wyk Louw of
dalk die digter self, staan bedremmeld voor hierdie ryk skat van gedigte.
In ‘n klein ars
poetica (“dons””, p. 116) wat inspeel op die verse in Allotroop word die skryfproses as ‘n paradoks
beleef:
my gedig
jy is nastergal
‘n dowwe
vermoedelike insig
naby effe inloer
onthuts raak en
ontroer
‘n uitroep in
dons ‘n fraktaal
sonder gewig
‘n geruislose
sagte uilveer
nouliks iets
meer
van duskant ‘n
geringe
skeel waarneming
van die
verstommende verstaan
en herken en
erkenning
van die
onverkenbare bestaan (p.116)
Hierdie
“onverkenbare bestaan” is die digter Cloete se métier: die objek word in ‘n die Baudelaireaanse
“correspondances”ontgin en elke oksimoron of matematiese samehang in die natuur
verbind aan die Goddelike of ewolusie.
Hy gebruik televisie en moderne media as sy oertekste. In sy behendige
en virtuose verse tower hy iets uit ‘n nietige of selfs lawwe insident.
‘n
TV-tekenprent, die proe van seksuele genot in ‘n maroela of ‘n geleerde barbaar
beskryf hy helder. Ook die kritiek kom in sy visier: hy gebruik hier krieket as
die verwysingsisteem:
balspel
die digter is
altyd kolwer agter
jou rug naby jou
wag die paaltjiewagter
en rondom in die
veld die lang
vingers aan lang
arms op ‘n lang nek
‘n swart bril
onder die wit hoed diep afgetrek
in die onsigbare
loens oë om jou uit te vang
voor jou die
bouler slegter
langsaan die
kras skeidsregter
beskerm teen
berisping hou dus jou bek
op straf van
boete luide kommentators
in die losies
worsmakers van jou worser
dié op die
pawiljoen die worsste wors
iewers die droë
navorser
wat jou te na
vors
(p. 110).
“the old man and
the sea” praat nie net oor Hemingway nie, maar word ‘n skitterende belydenis
van skryf as ‘n kraaines - met die lewe
van sowel die ou man as Hemingway wat inspeel op die begryp van die vers.
Met ‘n eerste
kennisname, lees ek ‘n bundel van agter na voor; dan van voor na agter.
Op hierdie wyse
kom ‘n mens op verhulde kodes af. Jy sien ook hoe verse op mekaar inbuig en die
deurlopende gedagte in hierdie bundel is opvallend: die mens(like) nietheid
versus die Goddelike oormag. Tipies Cloete is alles gelade. Die kosmos word
deur die mens bevaagteken. Wat/Wie is God? Hoe het alles onstaan? Die Groot
Knal word bespreek en daar is telkens verwysings na ewolusie en na die studies
van Philip Tobias. Die interessante debatte oor ewolusie en die Christendom wat
sig afspeel in die dagbladpers word hier relevant. By Cloete sluit die een
sisteem nie die ander een uit nie. Jy kan sowel Christelik/religieus wees as
wetenskaplik-ondersoekend. Hierom die besef van ‘n “heilige nuuskierigheid”.
Die verwysing na Eurynome, die vrrugbaarheidsgodin, het glo ‘n eier gelê
waaruit die universum ontspruit het. Mitologie en wetenskaplik word behendig as
twee kante van dieselfde munt beskou deur die digter.
Gedigte wat persoonlik aangespreek
het:
Daar is
uitstaande verse in die bundel – elke leser sal waarskynlik sy/haar bestes hier
aanstip, ‘n vers wat spesifiek met jou praat. Daar is verse wat eerstens op die
intellek en wye beleseneid aanspraak maak; dan is daar die teer emosionele
verse.
Cloete het o.a. ‘n besonderse lykdig in Afikaans gelewer
en hierdie leser het teruggegaan op die bekendstes. In hierdie bundel staan
daar die verse “Rokke”(p. 92) waarin verskillende vrouerokke beskryf word.
Rokke in al hul kleure en betekenisvelde; “Fluister-Asemhaal-van-Blomme” wat
afloop in die slot:
en dan was daar
‘n allerlaaste een
ontwerp deur
hartseerliefde nee
so menslik op
ons afgedwing
te
onvertaalbaar nee
om haar ‘n naam
te gee
Die digter
verwys hier na die lykskleed – en die krag van suggestie waarop hierdie vers
afstuur, beklemtoon die digter se vernuf. Die gedig oor Dali is ‘n klein
pronkstuk, terwyl “Aanpassings uit ‘n ou Egiptiese gedig” kenmerkend is van
Cloete se jukstaposisie-aanslag. “dagbreekmense” – ‘n eiesoortige spel met die
distigon en die wit ruimtes eie aan hierdie digkuns – is aangrypend mooi.
Die volledige
tweede afdeling getuig van Cloete se skerp blik op die universum. Wanneer
Cloete oor die erotiese dig, is hy waarskynlik gewaagd, maar goddank digterlik
so in beheer dat hy nie in beweeg in die sentimentele of platvloerse nie. Hy
kom – soos De Lange in Nagsweet –
met moord weg weens die tegniese beheer en woordvaardigheid. By ‘n mindere
digter wil ‘n mens net hande was en die boek toemaak; by die knap digter word
die grense in die gemoed en in die digkuns verskuif.
“sangeres en
gehoor” en natuurlik “maroela-ont” is my gunstelinge hier.
maroela-ont
ná baie jare kon
ek weer maroelas eet
die geur die
smaak die tekstuur ek weet
van geen ander
vrug wat so glibberig nat
is nie so
sagharig as jy daaraan vat
hoe nader jy aan
die pit
kom hoe sagter
en warmer is dit
uit die vleis
van die geheue van my mond
onthou ek niks
so ont
“dood van my
vader” is eweneens ‘n klein kragtoer: ‘n kragtige belydenis van vaderloosheid
wat ‘n mens op nuwe en ander manier laat kyk na Cloete se digkuns (“ek soek /
hom in elke foto elke hoofstuk / van elke onthutsende geskiedenisboek”, p. 67).
– (Dit dan as die gedig verwys na die werklike digter....)
“ambraal-woordeboek”
is verbluffend slim en ‘n tipiese Cloete-vers soos die skitterende “volwasse
geboorte” waarin die lewensloop van die mens as ‘n blote gewoonte ondersoek en
gekarteer word.
Die gedig
“gesprek met Walter Battiss” – wat wentel rondom die idee van die “glorious
failure” versus “little success” – laat die leser heerlik glimlag oor die
ironie dat sowel Battiss as Cloete ineie reg groots bo ander uittroon.
“klokke” met sy
besonderse klankspel is ‘n treffer, nes die gedig oor die kremetartboom. Nes
die “taren-taal” – vir Elize Botha wat hom vir die eerste keer in Tydskrif vir letterkunde gepubliseer
het onder ‘n skuilnaam en hom dus as’t ware “ontdek” het .
Slotsom:
Om op
tagtig-plus so te dig, kan deur min nagedoen word. Sy impak op die Afrikaanse
digkuns was en is groot. Hy het die kontoere van die digkuns verander soos
Breytenbach en Stockenström voor hom. Met sy debuut het Opperman hierdie bundel
“koningskos” genoem. ‘n Ryk feesmaal is ons hier berei.
Endnote:
1. “Die hipnose
van die digkuns. T.T. Cloete-gedenklesing 2005” kan geraadpleeg word op Litnet
of op hierdie
blog.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Seminaarkamer: Litnet geplaas.]