Sarah Nuttall (Red.). Beautiful/Ugly: African and
Diaspora Aesthetics. Duke University
Press, 2006. ISBN 0 7957
0186 1.
Resensent: Joan
Hambidge
In hierdie
belangrike toom van ‘n studie word die verskillende aspekte van Afrika estetika
onder die loep genoem. Onder die redaksie van Sarah Nuttall – verbonde aan Wits
se se Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing – word hierdie kwessie
beskou: daar is bydraes van figure soos Mark Gevisser en die kunstenaar William
Kentridge; die Mosambiekse skrywer Mia Couto en Isabel Hofmeyr, om enkele name
uit te sonder.
Binne die bestek
van hierdie resensie gaan ek op sekere belangrike aspekte let vir die
belangstellende leser wat sowel literatuurwetenskaplike as kunskritikus mag
wees. Die boek beslaan ‘n gewigtige 414 bladsye.
Rita Barnard
gebruik o.a. Dolly Parton as ‘n vinjet om die komplekse kwessie van Estetika te
ondersoek in Zakes Mda se “The heart of redness”. Hierdie kontemplasie oor
Afrika word gelees o.a. teen die agtergrond van Elaine Scarry se On Beauty and
Being Just. Barnard se blik is ‘n illustrasie van die Derrideaanse parergon:
dat daar geen buite-teks kan wees nie, in Derrida se terme, omdat Mda se teks
alreeds ‘n dubbel/ironiese blik weergee, Scarry se lesings problematiseer.
Barnard, boonop as eks-Suid-Afrikaner en eks-skoonheidskoningin, lees tereg
raak hoé Scarry se idees net van toepassing gemaak kan word in ruimtes waar
kulturele konflik minimaal en identiteit sekuur is. Daar is ook ander ingeboude
ironieë in hierdie essay: die buiteblik, die mites rondom Dolly Parton (as ‘n
opgeblase, (self)dekonstruerende ikoon), swart/wit, manlik/vroulik en die
tragiese geskiedenis van die amaXhosa’s in 1856-1857 en die optrede van die
profetes, Nongqawuse. Verskillende mites en historiese gebeure dus netjies in
boksies verpak.
William
Kentridge se bydrae is uiteraard ‘n belangrike essay as kunstenaar wat op
soveel fronte standpunt inneem en die bekende grense van die beeldende kuns
laat meng met musiek, opera en video. En, sy omkering van die private en die
politieke word ‘n kunstenaarshandtekening.
Hy gee vir ons
twee gedagtes weer oor die (be)teken(is) van skoonheid. In ‘n kort en kragtige
essay ruk hy die leser se hart oop oor politieke geweld en hoe hy sy eie oog
deur die jare “re-educated” het. Hy het dit oor Germiston. En hy is nie seker of vasgevang is tussen die
objek en die papier, of gewoon verlore is nie (p. 101). En sy onsekerhede oor
presies wát ‘n “mooi landskap” behels, lê waarskynlik aan die basis van sy “dromende
denke”.
Die resensent
sou verlei kon word om ‘n opsomming van Nuttall se inleiding weer te gee, maar
hierdie leser het verkies om stil te staan by pakkende of omstrede essays en
sodoende iets by te dra rondom die diskoers van Estetika wat nou onlangs weer
‘n hewige polemiek ontlok het met die Picasso-uitstalling en die gewraakte
siening dat Pablo P Afrika-kuns geplunder het vir sy eie doeleindes. In hierdie
verband is Simon Gikandi se analise van Picasso ‘n kragtoer en ‘n kritiese blik
op die “enshrinement” van Westerse kuns. Hierdie essay lewer kragtige
kommentaar op dit ‘n mens die verpakking en vervoer van kuns vanuit een konteks
na ‘n ander en die implikasies wat dit het vir die Objek – hierdie Afrika-mens
– wat so geapproprieer word.
Michelle Gilbert
bespreek in “Things Ugly” die implikasies van populistiese skilderwerk in Ghana
– ‘n uiters onthoubare en belangrike bydrae veral in ‘n postmodernistiese
kultuur waar die sosiale kommentaar van Bitterkomix opnuut weer die aandag
trek.
Onderliggend aan
haar argumentasie is die siening van Mary Douglas dat die diskoers oor
Nie-Skoonheid en dit wat ons afkeur – ‘n mens dink hier aan Kristeva se
“abject” – meer verraai as die diskoers oor Skoonheid.
Die invloed van
die kunswerke op die waarnemer se resepsie van dramas en die effek van
stereotipes op ons waarneming, is van die belangrikste bydraes wat sy in
hierdie essay maak wat van relevante kleurafdrukke voorsien word. Trouens, ‘n
mens sou hierdie studie gewoon net kon aanskaf vir die belangwekkende afdrukke.
Die onderhoud
wat Nuttall wat met Rodney Place voer oor o.a. Johannesburg is waarskynlik een
van die mees seminale tekste in hierdie studie, aangesien dit die sogenaamde
“mapping” van Johannesburg dekonstrueer. Hy merk onder meer op dat die modernistiese
struktuur van hierdie stad al hoe mooier geword het sedert dit losgemaak is van
die oorspronklike ideologiese bedoelings en betekenisse! (p. 335).
Ek het sowat
ses jaar gelede ‘n internasionale argitektuur-kongres bygewoon wat my hele
siening van “mapping” dramaties verander het – hoe stede se uitleg ‘n invloed
het op mense se psiges. Mense wat in byekorf-woonstelblokke woon soos in Hong
Kong het ‘n ander siening van die lewe as iemand wie se huis omring is met
plantasies. Rodney Place is nie alleen teoreties
ingelig nie, maar sy teks getuig van geweldige kennis van ander landstreke en
stede wat sy bydrae opwindend en
seminaal maak vir enige kultuurteoretiese navorsing.
Een van die
opwindendste aspekte van hierdie boek is die implisiete en eksplisiete gesprek
tussen bydraers: Hofmeyr analiseer Mia Couto se twee verhale; Scarry se siening
van Skoonheid word krities bevraagteken in Patricia Pinho se lesing van die
Braziliaanse Afro-Estetika.
Daar is subtiele
vinjet – soos ‘n foto van ‘n woonstelblok van Justin Fox, reisskrywer - wat
boekdele spreek. Dominique Malaquais se ondersoek na Vryheid – Wat(ter) ‘n
vryheid! – wys o.a. daarop dat die Kameroen die enigste eks-kolonie was waar
die leier teen bevryding gekant was! En om “dread-locks” in die Kameroen te
dra, word as ‘n teken van opstand gesien.
Pippa Stein
ondersoek die probleem van geletterdheid en hoe mense poppe maak uit ander
mense se débris – in hierdie armoedige, bewegende stede skep mense kunswerke te
midde van ontsaglike armoede. So verfraai hulle hul lewens in “shacks” waar
dood en verbranding ‘n daaglikse realiteit is. ‘n Manlike eggenoot se
kommentaar (Is jy besig met voedoe?) word ‘n uiters belangrike stuk
metarefleksie oor presies hoe Skoonheid ervaar word.
Hierdie studie
neem die leser op die komplekse roete van Skoonheid wat skok, ontroer en
ontstig. En op onrusbarende analises van ‘n gemeenskap soos ons s’n met wette
wat ‘n jong Mark Gevisser se bewussyn ten goede geaktiveer het. In ‘n briljante
outo-biografiese analise word rasssime en seksisme se tande uitgetrek. Daar word ook oor Kos/Kook kommentaar
gelewer. Hoe dan anders: reis en kosmaak is tans die moderne mens se grootste
obsessies en die kartografie van die kolonialisme word teenoor die woordeskat
van kos(maak) geplaas (p. 250).
Soos Francoise
Vergès dit klinkend stel:”You eat food sweatened with the bitter sugar of your
oppression”(p. 251).
En inderdaad
handel kos ook oor begeerte.
Cheryl-Ann
Michael kyk eweneens na kos (“On the slipperiness of food”): ‘n fyn kulturele
analise wat skerp geanker is in haar jeug.
In ‘n belangrike
voetnoot erken die samesteller haar skatpligtigheid aan Yale se biblioteek en
die Internasionale Simposium wat in Kaapstad in 2001 plaasgevind het.
Sos dikwels die
gevolg is van so ‘n projek is dat sekere essays waarskynlik nie noodwendig net
in hierdie studie tuishoort nie. In hierdie verband is die dansstrukture van en
in Kongolese musiek – waaroor Achille Mbembe skryf – ‘n voorbeeld. Net so sou
Kentridge se artikel in ‘n studie oor die Beeldende Kunste kon tuishoort. Maar
onder die noemer van kulturele studies word ‘n belangrike aantal onderwerpe
aangespreek.
In ‘n boek van
hierdie allure is dit jammer om te lees dat Kentridge in 2005 die Towerfluit
sal regisseer!
Dit is wat my
betref ‘n uiters belangrike studie waarby ek lank stilgestaan het, met
kanttekening en met plesier.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]