Herman de
Coninck. Die lenige liefde. (Uit
Nederlands vertaal deur Daniel Hugo)
Protea
Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919 302 7.
Resensent: Joan Hambidge
Daniel Hugo het
met sy vertalings ‘n regmatige plek ingeneem binne ons Afrikaanse digkuns as ‘n
vertaler van statuur. Hierom is dit so jammer dat sy vertalings nie in die
jongste Groot verseboek opgeneem is nie. Hierdie kwessie is al deur vele
resensente en kommentators aangeraak in die debat oor Groot verseboek, maar die
samesteller swyg steeds in alle tale.
Oor vertalings
is daar al dikwels geskryf. In Afrikaans het ons die werk van Uys Krige wat
veral met sy Spaanse en Portugese vertalings ons siening van die digkuns
verruim het; daar is die werk van Gunther Pakendorf wat verbluffende Duitse
vertalings gelewer het en nou onlangs vertel Johann de Lange in ‘n onderhoud op
die Versindaba se webwerf hoe hy met Wilma Stockenström saamgewerk het aan die
Engelse vertalings van haar gedigte.
Vertalings is
verraaiers. Gedigte is herskeppings. Die goeie vertaler moet in staat wees om
‘n nuwe vers te skep wat binne die nuwe taal met sy eiesoortige klankpatrone,
ritmes, metrum, beelde en wat nog ‘n nuwe vers moet word. En dit is min digters
beskore. De Lange presteer dit, volgens my, met sy lieflike vertalings ook van
ander bekende digters vanuit Engels na Afrikaans.
Hugo is ‘n
getroue vertaler van De Coninck en miskien is hy die regte vertaler vir hierdie
digter se werk, omdat beide digters oënskynlik maklik en speels is. Maar beide
flous jou dikwels. Hugo verskaf vir die leser ‘n goeie, leesbare inleiding om
die gedigte te verstaan.
Hy plaas die
oorspronklike teks op die linkerblad sodat die leser na regs kan vergelyk wat
hy met die woordgimnas se werk vermag het.
Omdat Hugo self
‘n punteneurige digter is van die woord- en klankspel, is hy uiteraard bedag op
dubbelsinnige beelde. Soms moet die vertaler egter handdoek ingooi omdat die
teikentaal (hier Afrikaans) nie dieselfde dubbelsinnigheid registreer nie.
Die elliptiese
sintaksis is ‘n handelsmerk van De Coninck se digkuns wat uiteraard besondere
eise aan die vertaler gestel het. Laure-Anne Bosselaar en Kurt Brown skryf soos
volg oor The plural of happiness:
“His work, sewn
with puns, double entendres, unconventional rhymes and syntax in concise,
intricate forms, presents the translator with formidable problems. How to
represent such linguistic acrobatics, how to preserve the formal grace and
delicate wit without losing the lightness of touch, the deftness of thought,
the quips and jabs that mark his poetry?”
De Coninck is besonder vroeg oorlede:
op 53-jarige ouderdom op 18 April 1996 en reeds met Hugo se vertaling, Liefde,
miskien, het hy hierdie digter aan ‘n groter leesgehoor voorgestel. Die liefde
is ‘n universele tema in die digkuns en ‘n deurlopende tema in hierdie digter
se werk. Koop hierdie bundel gerus aan: dit is mooi uitgegee deur Protea
Boekehuis en kos ‘n skamele R120!
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]