Piet van Rooyen. Kwansuis. Human & Rousseau, 2008. ISBN 978 0 7981 4994 5.
Resensent: Joan Hambidge
Kwansuis, uitgespreek in die
volksmond as konsuis, beteken immers voorgee, nie die waarheid praat nie.
Kamma, kastig. In hierdie vierde digbundel tree die digter en bekroonde
romanskrywer Piet van Rooyen weer die digkuns aan. Hy dig oor die liefde, die
aarde, die see, die dood, vergange dinge en wat nog. Sy verse is oënskynlik
eenvoudig in aanbod, maar met elke lees, wen dit aan betekenisse wat die digter
netjies wegsteek.
‘n Gedig in al sy vorme handel oor
iets wat verby is en die gedig probeer daardie verlies of indruk in ‘n gedig
natrek of weergee. In afdelings “swemmers”, “spene van die aarde”, “ek en jy”
en “die dood stoot oral sy hopies” .
Die delikate balans tussen
waarneming en vergestalting is die koorddans van die digter. Of om diep te duik
sonder ‘n snorkel. In ‘n handvol verse kry die digter ’n balans tussen vorm en
inhoud.
Soms is die gedigte (vir my
gevoel) te vormloos, todat jy dieper kyk en besef dit is ‘n liriese,
praataanslag. Jy moet die verse hóór. En veral voel.
Reeds plaas die openingsvers ons
binne die nostalgie. En Van Wyk Low se Nuwe verse praat saam in die gedig “warm
dag” (p. 63) waar die runnikende perd sowel die seksuele as die digterlike
(Pegasus) aktiveer.
Daat is “doepa in die spreekwoord”
en die gedig word ingespan om die wolf van die deur weg te hou. In die
slotafdeling (en slotte is immers sleutels het ‘n digter ons al gewaarsku)
staan werklik verruklike verse wat terugwaaier oor die res van die bundel. Daar
is onthoubare metafore en reëls soos
Die skedel is ‘n leë huis
waarin eenmaal ‘n mens gewoon het
(p. 59).
Die digter speel met ou woorde en
begrippe (“om filosofie te rook’’, p. 60); begrippe soos doepa en paljas word
geaktiveer en die digter kyk op ‘n vreemde, nuwe manier na die wêreld om hom
(“die berge lê soos ou murasies”, p. 64). In “bitterlik beroemd” (p. 66) word onder
meer Plath se dood beskryf (sy had ‘n seun en dogter; nie seuns nie!) en Anne
Stevenson se biografie Bitter fame geaktiveer. In “digter van lemoene” (p. 68)
is dit Uys Krige wat gekarteer word en “begrafnisbome” (p. 69) sou ‘n mens as
uitmuntend kon tipeer:
ek sou verreweg verkies
dat sipresse by my begrafnis huil
as dat bloekoms amegtig en half
vervel
hul oor my aardse heengaan
verknies
Die digter is nie onaangeraak nie;
hy bely in ‘n epifaniese oomblik hoe hy langer vertoef om iets te beskryf (“openbaring”,
p. 72) en te weet dat die geskiedenis vloeibaar is.
Dis ‘n bunde vol ryk insigte: die
geliefde is ‘n teenstander (aldus oud-kantonees); die verlange oor verskillende
kontinente vra vir ‘n moenie vergeet nie…
Daar is ook humor in die bundel
soos wanneer ‘n orang-oetang beskryf word of daar met die geliefde gedans word
“voor die bullebak van dagbreek”. Of die heerlik-satiriese “koei” (p. 29)!
En wrede ironie wanneer ‘n
liefdeskind sonder ‘n voorgeslag se naam in begraafplaas gesoek word.
Vir hierdie digter is die digkuns
‘n musiek van stilte (p. 20) en ‘n sentrale ars poëtiese vers is “blouwildebees” (p. 26)
Die politiek van die dag word
subtiel aangespreek in “brood smaak beter” (p. 32).
Die temas is dikwels maskulien
soos in die vele verse vanuit die manlike blikhoek, verse oor jag, ‘n ervaring
van ‘n poolreisiger. En dis reg so. Die feministiese verse kry hier hul
teenpool in die manlike ervaring wat eweneens getuig van pyn én ontnugtering.
Die butch man het ‘n hart so tussen die jag en diepsee-duik deur.
Aan die deur van die uitgewer: my
bundel het met ‘n derde lees uitmekaar geval weens swak bindwerk. En die papier
is darem werklik nie jul beste nie! Die laaste voegsel hang aan ‘n draadjie. A
nee a CTP Boekdrukkers. Die buiteblad van Nico Roos (“blou landskap”) en die
tipografie van Etienne van Duyker maak wel hiervoor op.
Piet van Rooyen is ‘n regte
digter. Hy is nie kamma-kastig nie. Om sy woorde aan te pas: hy breek sy
kartetse op ons digkuns.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]