Karel Schoeman. Op ‘n eiland. Human &
Rousseau, 2009. ISBN
Resensent: Joan Hambidge
Karel Schoeman
se roman het in 1971 verskyn en is pas weer deur Human & Rousseau
gepubliseer as deel van die klassieke romanreeks. In 1975 was dit een van ons
eerstejaar-voorgeskrewe werke aan die Universiteit van Stelenbosch. Die boek
het so ‘n lelike blou omslag gehad.
Toe moes ons die
vraag beantwoord: bespreek die simboliese funksie van die versonke stad in die
roman. Of soiets.
Die subtiele
verhouding tussen Johan en Ruud wat afspeel op die Griekse eiland bly ‘n
besondere uitbeelding van ‘n subtiele homo-erotiese aanraking. In daardie tyd,
die laat sewentigerjare op Stellenbosch, was hierdie liefde nie in die klas
openlik besê nie. Hennie Aucamp se kortverhale het begin aandag trek.
Die bekende
aanhaling uit die roman is wel deur vele lesers van buite geken.
“Daar is eilande
wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie;
daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is
gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit ‘n naam
gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die
branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil – o ja, daar is
eilande”. Tereg is hierdie aanhaling op die buiteblad afgedruk.
Onbeantwoorde
liefde dus. In 1992 doseer ek aan die UK die roman en die eksamenvraag word
meer eksplisiet aangebied oor die ‘aanraking’ tussen die mans: wat het werklik
tussen hulle gebeur? In 2009 lees ek die
roman weer, vanuit ‘n derde perspektief: en steeds bly die roman ‘n mens
aanspreek ten spyte van die feit dat vir die leser van vandag die besoek aan
die versonke stad dalk té vaag beskryf word?
Die leser moet
dus self besluit wat hier gebeur (het).
Ons lees die
roman post-Koos Prinsloo en -Johann de Lange se vertellinge van die
homo-bestaan. Tog tog. Dit is juis die suggestieryke aspek van die roman wat
aan ‘n mens bly knaag. Die twee mans se ‘aanraking’ aktiveer ‘n klassieke
liefdespatroon. Die reisiger, die besoeker van buite (Ruud), is tydelik op
besoek. Die verhouding tussen die egpaar, met hul kind, is kompleks. Daar is
toespelings op ‘n verbintenis tussen die vrou en ‘n vriendin, wat eweneens kom
besoek aflê. Die relasie tussen die twee vroue is verby; dog hulle bly vriende.
Ons weet egter dat Ruud weer gaan vertrek. Die tydsaspek is eweneens
fassinerend: dit begin in die presens en beweeg na die verlede tyd, en terug na
die presens, juis om die durendheid op te vang. De roman is in ‘n sirkelgang
vertel: die aankoms en vertrek van die reisiger (dit is ‘n lang reis van… en
na…).
Daar is
hartgrypende passasies oor onvervulde liefde en begeertes regdeur die teks:
mense wat mekaar
toevallig in ‘n trem aanraak, by haltes afklim – maar die begeerte word nooit
opgelos nie.
Op ‘n eiland is
‘n roman oor onvervulling en eensaamheid. Dit is egter ook ‘n teks wat die weë
van die liefde uiters behendig opvang. Trouens, as dit nie vir hierdie
‘aanraking’ was nie, was daar geen verhaal nie. Dit heet Op ‘n eiland, en nie
Op die eiland nie, ‘n soort iteratief-duratief oor die liefde wat drie
verskillende tydvakke se leesbenaderings kan dra.
In die woorde
van Schoeman: “In die sin van alles, van die beskaamde hoop en die onbevredigde
liefde…”(181).
En hierom is en
bly dit tereg ‘n klassieke teks.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, Flapteks geplaas.]