Saturday, February 2, 2013

Justin Cartwright - To heaven by water (2009)



Justin Cartwright. To heaven by waterBloomsbury, 2009. ISBN 978 0 7475 9814 5.

Resensent: Joan Hambidge

Justin Cartwright word op die voorblad van sy jongste roman aangeprys deur die Guardian as een van die beste romanskrywers tans werksaam. Hy is ‘n gebore Suid-Afrikaner en dit is sy tiende publikasie. Hy was al op die kortlys van die Booker-prys en hy die Whitbread-, Hawthornden-pryse ingepalm.

Cartwright se jongste To heaven by water vertel die verhaal van die afgetrede TV-nuusankerman, David Cross, wie se vrou hom ontval het. Die lewe van die wewenaar is skielik op sy kop gedraai, maar met die wete: dat hy na veertig jaar gelukkiger is as ooit te vore. Dit skep spanning in homself, omdat hy dit vir sy kinders, Ed en Lucy, moet wegsteek. Die leser word onder andere bekend gestel aan wat die verteller dink van Gordon Brown (onvleiend) en herinneringe aan Richard Burton wat hy meegemaak het op ‘n filmstel in Rome, maak van die roman iets sappigs en skinderagtig.

Hierdie gegewe, ‘n dramatiese dénouement of wending, herinner aan die romankuns van Saul Bellow of Philip Roth. ‘n Mens dink onwillekeurig aan Bellow se Seize the day of Herzog. Of Roth se aserbiese romans. ‘n Everyman is dit helaas nie.

Die roman is vlot vertel en die titel is ‘n verwysing na James Joyce se Ulysses: “James M’Cann’s hobby to row me o’er the ferry…To heaven by water”.

Die roman is vlot geskryf, die intriges en spanninge hou lesersaandag.

Die basiese tema wat in hierdie roman aan bod kom, is die wete dat mense se lewens komplekser is as wat op die oog af mag voorkom (80).

Die ingewikkelde familie-romanse ( in Freud se terme) kom aan bod en die roman bereik ‘n besondere hoogtepunt in die beskrywing van Jenni se verdrinking. Dit het sy lewenspad verander van akteur na nuusman. In hierdie vinjet word die dood van sy vrou en Jenni se einde behendig gesinkopeer. Hierdie dood word weer later ‘n belangrike motief in die grusame dood van sy broer (288).

Dit is ‘n roman wat aanvanklik traag begin, maar wanneer die verskillende karakters se binnelewens onthul word, neem die roman ‘n besondere tesktuur aan. As daar gepraat word van “an Englishman in New York”, kan ons hier verwys na ‘n Suid-Afrikaner in Londen met ‘n besondere skerp blik op die sosiale struktuur van die moderne Britse gemeenskap.

Die roman lewer dikwels kommentaar oor die metafisika en Gerard Manley Hopkins se “The Windhover” is ‘n belangrike sleutel. Die hoofkarakter besoek die Kalahari-woestyn en daar is sinvolle uitlatings oor die moderne mens se belewenis van die lewe teenoor dié van die San.

Daar is eweneens belangrike meditasies oor die rol van die moderne stad, en meer spesifiek Londen, se invloed op ‘n mens se lewe; tereg anders as die Londen van Dickens (141).

Die outeur het ‘n besondere skerp waarnemingsvermoë oor die lotgevalle van die moderne mens: huweliksontrou, swangerskappe, familie-intriges, die dood. Hy beskryf dan dikwels mense wat ‘n soort oorgang beleef van een dimensie na ‘n ander, een lewenservaring of –insig wat ‘n nuwe begin inlei.

Ed, Lucy, Josh, David word almal skerp geteken. Dit is ‘n roman wat ‘n mens as ‘n aangename leeservaring kan beskryf. Boeiend, maar beslis nie groots nie. Dit is asof die outeur te veel bestanddele wou ingooi in die roman en te veel kommentaar wou lewer oor hoe ons van lewe na dood of tot selfontdekking kom dat die roman platval.

Skitterende oomblikke is daar wél.

Die skrywer word vergelyk met Ian McEwan en Kazuo Ishiguro; bepaald geskryf deur ‘n reklameman van Bloomsbury.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]