Monday, February 4, 2013

Hennie Aucamp - Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2010)



Hennie Aucamp. Die huis van die digter en ander liefdesverhaleProtea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 339 3.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs verskyn daar ‘n gedig van Hennie Aucamp op Litnet wat “Metamorfoses” heet. Dit kritiseer die postmodernis as ‘n figuur wat ander se oeuvres plunder en die gedig eindig met ‘n guitige, stuitige, bitsige profetiese boodskap. Nou lê Aucamp se jongste verhalebundel voor my: Die huis van die digter en ander liefdesverhale en skielik besef ‘n mens hoe ‘n gedig, waarskynlik bedoel om ‘n mode of denkwyse aan die kaak te stel, op die skrywer sélf van toepassing gemaak kan word.

Aucamp het al belangrike werk gelewer. Sy beste verhale het hy reeds geskryf. Hulle staan in ‘n Bruidsbed vir Tant Nonnie (1970), in Dooierus (1976), in Enkelvlug (1978) en veral in Volmink (1981).

Wanneer ‘n mens hierdie jongste, nogal dunnerige Protea-boekie benader waarin die parapsigologie via Edgar Allan Poe en Eugène Marais sy beslag kry en die liefdesverhaal bekyk word, besef ‘n mens die verhale klink na self-parodieë. Trouens, op ‘n plek verwys ‘n karakter selfs na ‘n lewenswysheid van Aucamp se siening van die geëmanispieerde vrygesel (84).

Maar vir hierdie aarts-postmodernis is dit geen probleem dat ‘n skrywer so gaan kuier in sy eie lêplekke of as selfkoesterend mag oorkom nie. Dit moet net goed gedoen wees.
En dis hier selde die geval. Die boerewysheid, verhaal, die bo-natuurlike, die liefde (en dood) is al meer bedrewe deur Aucamp beskryf.

Hy word dus daardie rara avis wat teer op sy eie tekste. Tekste buig in op ouer verhale. In Waar die wolke middag maak”, verklap Aucamp iets van sy werkswyse en hoe hy telkens terugkeer na die plek van sy jeug. Con Viljee, daardie oorskatte boerefilosoof, pronk hier met die volgende: “'n Mens besit net wat jy vir altyd verloor het” (93).  En daar is ‘n dwarsklap na ‘n Broederbonder wat hom gedreig het, omdat hy geweier het om vir ‘n “wankelkandidaat” ‘n positiewe verslag te skryf. En daarna was daar klippe in die pad. Is dit nodig vir die vertelling, hierdie stukkie wraak?

Aucamp het bykans elke prosa-prys in Afrikaans ingeoes en deesdae skryf hy ook gedigte, behendig maar nie groot nie.

Hierdie jongste bundel het ek deurgelees en bly vra: where is the bloody horse?

Hoeveel van hierdie verhale sal werklik – binne die grootse In een kraal-versameling – die paal gehaal het?

Hoeveel van hierdie verhale sou in Die blote storie die kritiese oog van Aucamp deurstaan het?

Van die verhale vang ‘n ou-wêreld, selfs rassitiese bestaan op: daar is ‘n kleinooi (9),  kwêdien (28) – maar hiermee gee die vertelling die korrekte weergawe van presies hoe mense gedink het en sou ‘n vervalsing van die werklikheid wees om daardie “vraisemblance” (Barthes) nou aan te pas. “In rooi grond, tussen kanniedood en vuurklip” is ‘n antropologiese verslag wat iets vir ons van ‘n vergange wêreld weergee. “Die stolp” loop weer uit op ‘n voorspelbare slot – ‘n beswaar wat in die verlede nooit teen Aucamp ingebring kon word nie.

En die voorbladfoto is werklik nie goed nie.

Die goeie taalvermoë is steeds daar en verhale het oomblikke. Maar dan dink jy: dit is nie vintage-Aucamp nie. Oor die oujongnooi of lelike vrou (“Die stolp”) het Aucamp al beter geskryf (“Die hartseerwals” en “Vir vier stemme”); oor bittersoetliefdesonthou (“Kouekoors”) ad infinitum-keer beter en pakkender geskryf.

Van die ongesêde wat ‘n mens agter die oppervlak-vertelling moet dekodeer (á la Mark Shorer) is hier nie van veel sprake nie.

Behalwe miskien vir “Al kwyn die sonlig teen die hange”.

Daar is te veel water by die whisky.

Net die tyd sal oordeel hoeveel van hierdie vertellinge in hierdie bundel sal bly duur. Ek het weer na Elize Botha se versameling van Aucamp se werk, In een kraal (Tafelberg Uitgewers, 1979) gaan kyk my om self tot verantwoording te roep. Wat het geword van die “nugter argwaan”, soos Botha dit noem, wat Aucamp se sterkste verhale nog altyd begelei het?

En vir ‘n skrywer wat soveel keer bekroon is, kan hierdie bundel allermins goed gepraat word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]