Dana Snyman: Op die toneel. Human &
Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981
5121 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Dit is
waarskynlik ónnodig om ‘n boek van Dana Snyman te resenseer. Hy het reeds so ‘n
groot aanhang met sy stories wat op ‘n onpretensieuse wyse die lotgevalle van
die gewone mens opvang. “Die mens is die storie, die storie is die mens”,
volstaan die raconteur. Hy kyk na die eenvoudige mens sonder om hulle uit of af
te lag en die agterflap praat tereg van die verhale as eerlik en eg.
Toe hierdie
leser hom die eerste keer in Beeld ontdek het en
daarna sy ontwikkeling meegemaak het, het ek ‘n bietjie my hart vasgehou.
Gedink die aandag, bekronings en loftuitinge gaan hom bederf.
Inteendeel. Hy
het sy vertellinge al hoe sterker en meer vaartbelyn gemaak. In die nawoord gee
die skrywer erkenning aan waar hy stories “geleen” en herskryf het. Twee titels
is by onderskeidelik Chris Barnard en J.C. Steyn geskaai. En ja, waarskynlik moet
ons dan ook besef dat van die verhale wat ons lees, is al iewers gehoor, gesien
en opgeskryf. Die orale teks is allemansgoed. As iemand vir jou ‘n storie
vertel en jy skryf hom oor, is dit ‘n ander vertelling as die een wat jy gehoor
het. Dit word verwerk deur die skrywer en kry sy eie stempel. Dis soos
Boeregrappe wat permutasies beleef van grappe uit Ierland en elders.
In “Groet” ( 9)
kom die boeregroet onder die loep. En wat dit alles beteken. En ons lees van
Oupa wat taisis in die myn gekry het en een valstandlose nag in 1999 in die
plaaslike hospital dood is. Kweek spartel steeds uit die tuinpaadjie en die
gevoelige leser sien soms ‘n digter aan die woord.
Die vertellinge
is nie essays nie. Hulle wil net stories wees en niks anders nie. Maar jy
onthou hulle. Vir die humor, die skerp waarneming, die ingeboude ironie en die
lekkerte van lees aan hulle.
“Die lewe is
eenvoudig” (157) verduidelik dat die lewe nie eenvoudig is nie.
In “Die dag toe
ons agtergekom het dis nie oorlog nie” (49) word ‘n snydende blik gegee op die
politieke opposisies in hierdie land, met humor en deernis. Die papegaai kan
nie AWB reg uitspreek nie!
Dalk sou ‘n mens
Dana Snyman ten beste kon opsom as ‘n beoefenaar van nostalgie en sy beskrywing
van ‘n nagmaalfees op Soebatsfontein (135) kan as een van die sterkste
voorbeelde hiervan gesien word.
Hy het hierdie
wêreld verlaat, maar hy kan in die fynste besonderheid elke optrede registreer
met deernis en hy lag nie hierdie mense uit nie. Hy beskryf alles met
erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en optekenaar daarstel.
Sonder om
kommentaar te lewer, maak hy ‘n Boereoom na wat vra dat die “ou skepsel” moet
mooi kyk na alles en juis hierom word die vertelling ‘n skrynende verslag van
rassisme én neerbuigendheid.
Hierdie
vertelling word meer gelade wanneer dit saamgelees word met “Regstellende
aksie” (58) en mense se kommentaar, van binne en buite, hierop.
Dana Snyman is
die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en
Alleman bedoel is.
Alles word
beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan is dit met
woorde soos “sideboard” wat sy plek in die volksmond gekry het. In ‘n verhaal
word hy as “kleindominee” aangespreek (43) en wanneer hy met sy pa gesels is
daar vergifnis en begrip. Dana Snyman het ‘n natuurlike talent. Sy vertellinge
sou ‘n mens as oefeninge in die nostalgie kan beskou, ‘n ewige terugkeer na dit
wat nou vir altyd verby is. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit stories gee hy
‘n nuwe lewe aan gemoedelike lokale realisme waarop daar al neergesien is.
Tereg word daar dikwels gevra en geïmpliseer: wie onthou nog dit of dat?
Dalk doen hy met
P.G. du Plessis wat P.G. met Mikro gedoen het? Hulle hou daardie vertellyn
lewendig! Soos ‘n plaastelefoon.
‘n Mens mag nie
die plek van Jaco Kirsten, Johannes Bakkes en Dana Snyman in ons vertel- en
rubriekkultuur onderskat nie.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]