Wynand Coetzer. Skerpioen. Lapa uitgewers, 2009. ISBN 978 0 7993 4498 1.
Resensent: Joan Hambidge
Op die buiteblad van hierdie
debuut word die boek aangeprys as ‘n juweel van ‘n roman. Iewers het ‘n resensent
dit glo met Etienne Leroux vergelyk.
Ons beleef nou ‘n tyd waarin
Dana Snyman met Raymond Carver in dieselfde asem genoem word. Twee resensente
het alreeds hoog opgegee oor hierdie roman: Skerpioen van Wynand Coetzer en dis
waarom ek dit gelees het.
Dit is ‘n roman met ‘n swaar
mitologiese ballas wat die storielyn ondermyn eerder as verhelder. Daar is
verwysings na die 1001 Nagte, die tarot, Freud, Lilith, Persiese towerspreuke,
Die Boek van die Dood, Isis en Osiris, en wat nog. Karakters se name is Siegfried,
Nimrod en Anahita. Waar Leroux met ‘n mitologiese verwysing die storie ‘n
tweede betekenislaag gee, word die mitologiese stramien hier ‘n belemmering.
(Terloops, die toepassing van die tarot op bladsy 260 is foutief. Afhangend van die ligging van die kaarte tot
ander kaarte, en of dit na bo of onderstebo lê,
word betekenis uitgewerk. Dit word dan weer ondermyn deur te beweer dis
nie regtig ‘n tarotsessie nie!, 261. En dis dan presies wat hierdie roman doen:
dit gebruik kennis, maar sonder ‘n diepgaande toepassing of begrip daarvan.
Webwerwe paradeer hier as belangrikste en nie aanvullende bronne. Die tabel
agterin bedui dat hierdie roman bedoel is vir iemand wat werklik niks weet nie.
Geweet die Weegskaal staan ook bekend as Libra?)
Anahita, die sielkundige,
moet die vermeende moordenaar, Nimrod, se lewenstorie aan ons onthul. Natuurlik
word die rolle omgeruil en ons beweeg na die sjamanistiese dimensie. Sy is ‘n
Boesmanmeisie (sic!) van die Kalahari en verder word die verhaal deur ‘n
aanslag onderstreep wat dikwels onverwagse en onbedoelde komiese effekte het.
“As ‘n man ‘n Lamborghini
koop. Weet ek hoe hy voel,” argumenteer hy heftig. “Glo my. Ekself is ‘n
Ferrari-man. Gee my die pronkende perd…” (30).’n Hond word ingespan om die
binnespraak weer te gee, soos onder andere op bladsy 36.
Daar is ‘n bronnelys en
etlike erkennings. Kyk hier is gestudeer, hoor! Die cannelloni wat berei word,
is glo losweg gebaseer op ‘n resep uit Peter Veldsman se Suid-Afrikaanse
Seekos-Banket. En dan? Dink die skrywer iemand gaan na die lees van hierdie
boek die resep beproef? As ons J.Hillis Miller se ‘”reading as eating” inspan,
moes die skrywer meer aandag gegee het aan die bestanddele in die teks.
Gaan lees eerder Etienne
Leroux vir die ragfyne hantering van die mitologie. Of lees Thomas Pynchon vir
‘n behendige hantering van verwysings. Of Ingrid Winterbach vir kostelike
vermenging van die sublieme en alledaagse.
“In Afrika se onmeetlike
gewesenheid” (369) verneem ons. En ja, die roman lewer kommentaar op die
ordentlike man se begeerte na die hoer.
Dit is ‘n roman wat onder ‘n
sterker redakteurshand iewers kon kom.
Ek voel om die bos gelei
deur die hoogtastende uitsprake van mede-kritici.
Dit is ‘n roman in ‘n
drukkoker: te veel, te vinnig.
Daar skuil te veel stories
en mites in hierdie boek wat uitasem vertel is.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]