Saturday, February 2, 2013

Finuala Dowling - Notes from the dementia ward (2008)



Finuala Dowling. Notes from the dementia ward. Kwela Books, 2008. ISBN 978 079570274 7.

Resensent: Joan Hambidge

In haar derde bundel. Notes from the dementia ward, sit Finuala Dowling die besondere aanslag voort wat haar debuut I Flying en tweede bundel Doo-Wop girls of the universe gekenmerk het. Die jongste bundel is van Kwela, in samewerking met die Snailpress. Die tweede een het by die gesogte Penguin uitgewers verskyn wat dan bewys dat sy ‘n besondere posisie beklee binne die Engels Suid-Afrikaanse digkuns.  Die eerste een was deur Carapace uitgegee. (Dowling is ook ‘n gedugte romanskrywer soos o.a. What poets need en Flyleaf.)

Ek hou van Dowling se werk. Die aweregse humor, die Dorothy Parker-sinisme, die spel met tegniek (soos rym, binne- en verdoeselde rym), die wrang slotte – wat jou dikwels diep in die maag tref.

Die eerste bundel het gehandel oor die lewe van die geskeide vrou, haar kind en hoe sy die digkuns as ‘n toevlugsoord ervaar. Hierdie bundel is tereg bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

In die tweede bundel is daar die soeke na vryheid: jy word een van die “doo-wop girls” op soek na ‘n straight man in Kaapstad.

Hier is daar dan gedigte wat die dekorum van aanvaarbaarheid toets en uitdaag: hoé die intimiteitspolisie nie hou van die gewaagde beeld of uitdrukking nie. Ons onthou immers hoe ‘n kritikus versoek het dat Anne Sexton eerder haar privaat-belydenisse tussen aanhalingstekens moet plaas.

In die tweede bundel, bekroon met die Sanlam-prys, word die familie as die toevlugsoord gesien, ‘n tema wat sy dan verder ontgin in die pas verskene Notes from the dementia ward. Hier word die aftakeling van die geliefde moeder ondersoek, die dood van ‘n broer, die belewenis van Kaapstad met sy natuurskoon endersyds en bewuswees van ontheemdes en verskoppelinge andersyds.

Steeds versaak Dowling se sin vir humor haar nie. Sy stel die moeder aan die woord en agter die groteks-humoristiese aanslag, beleef ons die pyn.

Jou ouers is immers jou identiteit, al rebelleer jy en kom jy in opstand teen hierdie bloedband.

In ‘n aangrypende vers oor die verhouding met die ouers, “Hearts of stone”, sien ons waarom Dowling se gedigte so geslaagd is. Daar is geen selfbejammering nie; nee, eerder ‘n keiharde blik op haar waarneming van die twee falende figure. Die vaderfiguur luister na Brel se “If we only have love”; hy is ongerehabiliteerde alkoholis. Die moeder op haar beurt is immuun teen die vader se roepstem via

Brel. Sy lees aan die kinders voor uit klassieke werke – en die ironiese slot (“and we wept for little Nell”) aktiveer die pyn wat die kinders ervaar het, en steeds bly ervaar, uit hierdie onvervulde verbintenis. Die aktrise moeder bly deurentyd toneelspeel, selfs in die inrigting.

In die lykdig “Daniel don’t die alone” word die lyding van ‘n persoon wat nie sy Vigsgeskiedenis en daarmee gepaardgaande aftakeling met sy familie wil deel nie, op ‘n hartgrypende wyse beskryf.

Deur gebruik te maak van die taxi-metafoor  (“Daniel caught a taxi to his death because / he didn’t want to disturb his family or bother his friends”, 42) word die pynlike alleenheid van sy dood beskryf. Dus, hierom as jy weer sterf, moenie ‘n taxi bel nie. Bel iemand met die wete dat jy dit nie alleen kan doen nie.

Die gedigte ontgin rym (verdoesel en eind), is ooglopend praatverse, amper mymeringe, maar tegnies vaardig. Dit is verse wat goed aanmekaar gesit is.

Miskien is hier in ‘n minder aserbies, skerp Dorothy Parker-aanslag. Die dood en afskeid van die moeder het waarskynlik die digter vermild.

Tog, daar is wel die vers waarin sy bely dat ‘n digter meer werd is dood as lewendig! (“My fellow writers”).

En grappige swenkslae is daar ook: die metaforiese gebruik van wurms en wat dit alles mag inhou vir ons of daar is ‘n gesprek met ‘n broer wat ‘n ystervark as ‘n alibi gebruik toe ‘n hek omgery is!

En hoe som ‘n mens jou lewe op?

You die. You go to the dentist.
You take your car to the mechanic.
You look out of the window.

Of is daar dalk meer?

In ‘n vers oor hoe slopend die ervaring van die moeder se aftakeling op die digter ingewerk het (“How I knew it wasn’t me”) word die selfmoord van ‘n jong meisie weergegee. Daardie meisie wat gesterf het, het egter in haar plek in die see gespring – al kan sy haar broer verbaal, en by wyse van ‘n gedig vir ons, almal oortuig dat dit nie sy was nie.

Hierom kan google ook nie antwoorde bied vir die pyn wat jy ervaar nie.

All the world’s a stage nie waar nie, konkludeer sy dan in “Mere oblivion”.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]