Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 7. Washington D.C., stad van leegheid (Shunyata)


Volmaan oor Washington © Steven Heap 

Washington, die hoofstad, benader ek met omsigtigheid. Ek doen al die toeristiese dinge soos om die Wit Huis te besoek en ook ander bakens in die stad.

My aandag word dadelik getrek deur die Spy museum, met my liefde vir thrillers en speurverhale. Die National Air and Space Museum tiek ek ook af op die boksie: gedoen. Op elke bustoer in die V.S.A. is dit opvallend dat elke gebou of baken gemeet word aan waar dit staan in terme van die beste of die grootste. Niks is net nie. Alles is in terme van iets ander, trappe-van-vergelyking wat op die lange duur opvallend raak. Die Washington National Cathedral vind ek aangrypend. Hier het die stad gerou oor 9/11. Die res is helaas faux. Behalwe die hotel waar Ms. Lewinsky glo vir Bill ontmoet het.

Keerweer

Op die hoek van Dunbarton en Wisconsin, Washington
verloor ek ‘n  gedig oor Chicago.
Daardie gedig, dit weet ek,
sal my agtervolg soos ‘n slegte gewete
of ‘n droom van iemand, iewers op ‘n hoë gebou
wat val en woordeloos roep om hulp.
Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)
in ‘n ander vorm, langs ‘n ander roete,
kopsku die opwagting maak:”Hier’s ek.”
Dalk het daardie vers
beland op ‘n ander busroete
of dalk gaan asiel soek by die Ambassade?
Of vermoeid en rooi-oog
‘n naam op die waglys geplaas:
“Ek was in Chicago,
‘n bootvaart meegemaak,
bewonderend gestaar na Mies van der Rohe se geboue,
die koue waters voel rinkel
soos ys in ‘n glas, verby die Chicago Tribune,
die speakeasies,
van die boot afgeklim,
na links gestaar na ‘n standbeeld
van Marilyn Monroe in haar bekende pose,
my glas gelig op Chicago:
“my kind of town”.



Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.