Jane Fox. The
killing bottle. David Philip, 1999. ISBN 0 86486 396 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Jane Fox is veral bekend vir haar gedigte wat in
verskeie literêre tydskrifte verskyn het. In 1992 verskyn The dancer and other poems
(Snailpress). The killing bottle is
haar debuut as romanskrywer en vertel die verhaal van 'n ou skuur waarin
verskeie bottels met motte en skoelappers staan. Dit het behoort aan 'n
beroemde lepidopteris. Daar is ook die seun, William, van die beroemde
wetenskaplike, sewentig jaar oud en eensaam; Mapunye, die geskonde swartman.
Die hele tematiek staan dus in die teken van
transformasie (in Jungiaanse terme) en herinner ook aan Nabokof se obsessie met
vlinders.
Die verhaal word gejukstaponeer tussen verlede en hede.
'n Jong ongetroude egpaar, Meg en Ash, se motor raak onklaar en so raak hulle
dan betrokke by William en Mapunye.
Hulle aankoms lei tot 'n oplossing van konflik tussen
William en Mapunye en die slot van die roman is werklik uiters subtiel hanteer.
Die roman is mooi geskryf en is vol subteks. Daar is
baie momente wat primordiaal gelees kan word, soos die verwysings na die
sogenaamde bottel wat deur die hele vertelling geweef word.
Ook word die verlede en die hede goed vir die leser
aangedui in kursiewe en gewone druk sodat 'n mens die hele tyd die verskillende
vlakke van vertellling kan vergelyk. Maar die roman wil kennelik ook 'n
spanning tussen die simboliese en die reële uitwerk, Afrika-kultuur en Westerse
rasionaliteit.
Dit word alles goed hanteer. Daar is klein momente in
die roman wat 'n mens lank na die lees bybly, soos die kragtige beskrywing van
geweld op bladsy 115. Ook die verhouding tussen die twee jong mense sit vol
spanning.
Ook wanneer Meg droom tydens haar prekêre swangerskap,
word daar soveel psigo-analitiese beelde gebruik wat die leser verder laat
speur.
Die titel slaan dus duidelik op die onbewuste wat soos
Jung en al die ander psigo-analiste beweer, 'n ruimte is waarin alles geberg
word wat ons dink en beleef (het). Ook kan ons ervarings nooit negeer nie en
kan dit uiteindelik op onverwagse momente ons lewens verander.
Dit is geen groot roman nie, maar 'n genoeglike
leeservaring waaraan 'n mens bepaald plesier het. 'n Mens kan sien dat die
romanskrywer 'n digter is. Hierom die dikwels poëtiese beskrywings in die mooi
versorgde boek van David Philip.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]