Tuesday, March 26, 2013

J.D.U. Geldenhuys - Son of the son (2000)

J.D.U. Geldenhuys. Son of the son. Gnomic Press, 2000. ISBN 0 620 25556 0.

Resensent: Joan Hambidge

Die bundel ondersoek die mens se plek op aarde. Talle digters het al aan hierdie kwessie aandag gegee. T.S. Eliot in The wasteland, Neruda in Canto General en Opperman Joernaal van Jorik. Om net 'n  paar digters uit te sonder wat in die epiese vers hieroor besin het.

“Son of the sun” met sy vyf afdelings is dan ook so 'n vers, ofskoon dit speelser in opset is. Dit vermeng geleerdheid met alledaagse verwysings. Die buiteblad aktiveer ook die tarot: die son as simbool van verhoudings (major arkana XIX) en dit is ook die kaart van uitbreiding, oftewel ekspansie. En dit is wat ons hier vind: Cosmo Naut se reis deur wetenskaplike ontwikkeling. Die reis lewer verslag van sowel die uiterlike as die innerlike reis. Daar is ook 'n maanlanding, verwysing na Newton se kwantumfisika, kwantumfisika, maar alles gelukkig vermeng in 'n speelse aanslag en geskryf met 'n bedrewe, vaste hand sodat die leser hieruit kan genot put.

Dit is net jammer dat hierdie digter nie die voordele van 'n gerekende uitgewershuis en goeie redakteur het nie. Ek verwys nie net na die bemarking van boeke nie, maar ook na die raad van 'n Charles Fryer-figuur wat met 'n skerp lanset kon snoei of prik.Om daardie ou “darlings” dood te maak. Soms dreun dit darem net te veel (taram taram tam tam) en ook is die rym 'n iets gedronge so tussen die skitterende momente deur. En as die leser voel “hulk” gaan met “bulk” rym, is dit al fout.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]