Thursday, March 28, 2013

Michael Ondaatje - Anil's ghost (2000)



Michael Ondaatje. Anil's ghost. Knopf, 2000. ISBN 037540538.

Resensent: Joan Hambidge

Die romankuns het sedert Henry James se verskyning op die toneel al hoe meer gerig geraak op die sogenaamde binnespraak of sogenaamde sream of consciousness-tegniek. By die Kanadese skrywer, Michael Ondaatje – gebore in Sri Lanka – word hierdie tegniek bykans iets poëties.

Die leser betree die landskap van digterlike taal en verskillende vinjette word saamgebind om 'n uitsonderlike verhaal te skep. Reeds met The English patient – waarvoor hy tereg met die gesogte Booker-prys bekroon is – het Ondaatje hom bewys as 'n eiesoortige storieverteller. Sy romans beweeg in konsentriese sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die feit dat hy – in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n assosiasie begin.

Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles vrywiilig.

Die roman maak definitief 'n kniebuiging na moderne vroulike speurverhale, soos die van Patricia Cornwall waarin dr Kay Scarpetta die manlike domein van die forensiese antropologie/geneeskunde betree. Ondaatje gee ook aandag aan die identiteit van sy vroulike hoofkarakter wat haar naam van haar broer oorgeneem het. (Wou die skrywer dalk hiermee kommentaar lewer op moderne feminismes se obsessie met naamgewing en vroulike identiteit?) 

Die roman word meer as 'n speurverhaal. Dit is ook 'n verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief, ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend verbeeld. Ou liefde roes bepaald nooit(p. 211).

Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.

Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies word ook hier kreatief aangewend.

Dit is 'n roman geskryf deur 'n ervare storieverteller en 'n bedrewe digtershand. Dit was ook 'n voorreg om die skrywer te hoor voorlees by die sesde Harvard Square Boekefees in die VSA.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]