Monday, March 11, 2013

Nancy Huston - The mark of the angel (2000)



Nancy Huston. The mark of the angel. Virago, 2000. ISBN 0 099 28364 6.

Resensent: Joan Hambidge

Nancy Huston se The mark of the angel is 'n goed geskrewe en lekkerlees roman. Me. Huston is die eggenoot van die Bulgaars gebore Tvzetan Todorov, onder andere 'n kenner van vertelteorie.

Die roman behandel die oorbekende gegewe: dit is die jaar 1957 en Parys herstel van die aanslag van die WO II. Saffie, 'n jong Duitse vrou, word aangestel as die bediende van Raphael 'n musikus. Twee sisteme word dus hier teenoor mekaar gestel, te wete die werkers- en gegoede klas.

Aanvanklik is Saffie en Raphael gelukkig en die leser ontvang baie inligting oor die fluit (is dit dalk simbolies?). Raphael moet dit elke dag skoon maak, anders kan die spoeg sy instrument laat roes. Op 'n dag - na huweliksgeluk en 'n kind - moet sy die fluit laat regmaak by 'n Hongaarse instrumentemaker. Die twee raak verlief en hierdie hartstog het 'n effek op almal se lewens om hulle.

Die roman word telkens geplaas teen historiese gebeure wat die leser laat blyk dat dit vir die meer intellektuele leser bedoel is. Daar is verwysings na Camus, die pied noir en ander klein intellektuele kopknikkies. Tog was dit vir my gevoel 'n roman wat tekstuur mis. Die boek lees eenvoudig te maklik en sonder enige weerstand. Dit word aangeprys deur Arthur Golden (van Memoirs of a geisha-faam) en selfs Alberto Manguel is oordrewe vleiend.

Interessant is die verteller se analise van die gegewe: soos dat daar in elke liefdesverhouding 'n draaipunt (dénouement) kom. Dit is 'n siniese siening oor die liefde wat meen dat die geliefde nooit werklik die ander persoon kan verander of kan heel nie (p. 158). Ook kan die uitwerking van die liefde nie verduidelik word as dit nog nie beleef is nie (p. 191).

Wanneer die ontdekking gemaak word, sing Doris Day Qué sera, sera wat die markante verskil tussen droom en realiteit wil uitwys. ook ontdek Saffie dat haar geliefde, wat uit Hongarye moes vlug, 'n Kommunis is. Sy anti-Semitiese siening ontstig haar. So word die politieke verwysings en die Algerynse bevryding deel van hul lewe.

Ook sy dra swaar aan haar verlede wat hul verhouding verder vertroebel.

Vir diegene wat belangstel in die postkoloniale letterkunde behoort die roman 'n insiggewende blik te gee op die pre-koloniale tydperk en die bevrydingstryd van die Algeryne.  Politieke werklikhede soos klokreëls en Moesliemdiskriminasie kom aan bod. Dit is 'n roman geskryf voor dat die kolonie teruggeskryf het, gedagtig aan die studie The empire writes back.
                 
Die verteller se kommentaar op die karakters se optrede en hul lot, maak hierdie roman deel van die sogenaamde ouktoriale tradisie. Hiermee wil die verteller ons deurgaans herinner aan die feit dat ons besig is met 'n verhaal en dat ons moet leer uit die gebeurde. Ook die nawoord bevestig dit wanneer die twee mans mekaar na jare weer sien na die dood van die kind en Saffie se verdwyning.

Die titel word hier verklaar en die invloed wat engele of spirituele gebeure op ons lewens het soos in  Wim Wenders se rolprent. Die sosiale en politieke kommentaar - van De Gaulle tot Brigitte Bardot, brylcream en hoe Parys vandag daar uitsien  - is baie goed nagevors.

'n Bo-gemiddelde roman, maar beslis nie een wat die fondamente van die letterkunde sal skud nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

No comments:

Post a Comment