Thursday, March 28, 2013

Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel, Tertius Kapp - uit die stof die see die skald se handevuurvoet tracks en die verstuite trein van wat verlange (2001)



Robert Bolton, Jac Kritzinger, Gert Vlok Nel, Tertius Kapp. uit die stof die see die skald se handevuurvoet  tracks  en  die verstuite trein van wat verlange. Fenomeen publikasies, 2001. ISBN 9780620272834.

Resensent: Joan Hambidge

Kom ons probeer vandag 'n resensie skryf sonder waardeoordele. Is die volgende beeldspraak vir jou mooi?

“die reën se smal motte wat nooit stil is buite wyl
die vloer hou skeef nes 'n kind se vers” (p. 15)
“teen die wind se ergste vleisasem” (p. 17)
“agter leeukoel ure aan”(p. 18)
“en ek het jou sien staan die ryp perske van jou keel” (p. 23)
“my wil het geklap soos 'n enkel” (p. 23)
“selfs jou woede is nou sonder pit” (p. 31)
“soos jou hakke nou wegslym deur die gange” (p. 31)
“ek proe nog jou vrot in my snot” (p. 31)
“ek dra springstof in my ballas rond” (p. 34)
“(bang vir alleenwees
soos 'n digter vir kanker)” (p. 35)

Hou van jy van 'n Allen Ginsberg-nabootsing wat aanrammel oor die see en sy “peril”?

Hoe klink dit?

and for the lovely young taken to the sea for the first time
and for the unlovely unyoung taken to the sea for the last time
and for the unlovely young untaken to the sea
and for the lovely young taken to the unsea (p. 63)

Mag ons hiervoor lag?  Laat weet asseblief:

my father and his brother
took her to the madhouse sy't soos 'n vissie gelê en spartel
agterop die geleende Datsunbakkie (p. 69)

En wat van?

Low phoney to talk about
phoning home from another country. (p. 68)

Vind jy 'n gedig interessant wat na 'n eerste lees gedaan is soos 'n Bottel Klipdrift in 'n hoerhuis met “happy hour”?

Hou jy van 'n boek wat na een aand se lees uitmekaar val?

Vind jy swart-en-wit uit fokus-foto's kosbaar?

Wil jy 'n boek lees waarin Derrida se “sous rature” ook 'n draai gooi?

Wil jy 'n gedig lees wat net stelling bly en nooit vers word? Probeer gerus “intimate distances”.

Dan is dit net die boek vir jou! Bestel onverwyld van Posbus 1300, Stellenbosch,  7599.

Suider Kollege digters, oppas, julle word onttroon! 

Onthou net: die mure het ore! En 'n resensie sonder waardeoordeel deug nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]