Philip Roth. The
human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [1]
Resensent: Joan
Hambidge
The human stain van Philip Roth, die skrywer van die opspraakwekkende Portnoy's complaint en vele ander
gerekende romans, is met een woord pakkend. Ek het hierdie metaroman 'n
Saterdagmiddag begin lees, 'n afspraak vir die aand gekanselleer en die
volgende dag nog met stygende bewondering verder gelees.
Roth is, soos dit alle goeie romanskrywers betaam, ook
'n implisiete kritikus van sy gemeenskap. In hierdie geval die skynheiligheid
van die Amerikaanse gemeenskap wat bykans 'n president laat sneuwel het weens
'n indiskresie in die Oval House. Dit gaan nie om hierdie transgressie vir Roth
nie, maar om die wyse waarop die media en die hele gemeenskap hierop gereageer
het.
Inderdaad soos sy nou reeds bekende skrywer-in-die-roman
Nathan Zuckerman opmerk: in daardie somer was die penis van die president van
Amerika in almal se gedagtes. Teen hierdie agtergrond plaas hy die verhaal van
'n Jood (wat nie werklik Joods is nie), Coleman Silk, 'n dekaan, wat skuldig
bevind word aan rassisme. Hy verwys na twee afwesige studente as “spooks” en
alle hel bars los as die studente wel swart is.
Dit lei tot 'n heksejag (universiteite is immers die
plek waar implisiete byltjies geslyp word as so 'n skandaal hom aanbied). Nie
alleen verloor hy sy werk nie, maar sy vrou sterf ook weens die spanning. (Disgrace en Donkermaan praat bepaald saam.) Meer nog, Silk begin 'n verhouding
as 71-jarige met 'n jonger, oënskynlik ongeletterde vrou en die skrywer,
Zuckerman, speur die redes vir die skandaal èn nuwe die verhouding na in 'n
verhaal wat 'n mens eenvoudig op sowel 'n storievlak as morele dimensie moet
bewonder.
Ook die verhouding met die ongeletterde word as “verkeerd”
en uitbuiting gesien. 'n Anonieme brief, ná forensiese analises, blyk 'n
vroulike kollega van die universiteit te wees wat destyds op die dekaan jag
gemaak het. 'n Hoofstuk oor haar is suiwer erudisie en storievertel op sy beste
soos die hoofstuk oor die skrywer.
Nathaniel Hwathorne se The scarlet letter is 'n ander belangrike interteks, soos Thomas
Mann se Death in Venice, die pivotale roman oor
onbeantwoorde liefde of obsessie. Op 'n behendige wyse word die verteller se
prostaatkanker en impotensie (ook inkontinensie) geplaas teenoor Silk se herontdekking
van sy seksualiteit. Viagra, selfone en e-pos word ook hier rolspelers.
Coleman Silk se studieveld is die klassieke en Sofokles
se Koning Oedipus word direk by die
naam genoem. Hierdie klassieke werk analiseer immers die betekenis van menslike
lot wat nie ontsnap kan word nie (p. 127). Die titel word met groot sinisme
verduidelik dat puring onmoontlik, in wese futiel is, omdat daar teruggegaan
word na die klassieke en hoe wraaksugtig en ontugtig die gode was (p. 242). Die
kollege waar alles afspeel en leuens kleintjies kry, heet nie om dowe neute nie
Athena.
Die roman sluit aan by die tradisie van die akademiese
roman (soos The groves of academe en
Saul Bellow se The dean's December) en is 'n moet vir die ernstige romanleser.
Dit bewys ook dat daar iets soos Jungiaanse sinkronisiteit bestaan: drie
gerekende manlike skrywers pak as't ware dieselfde onderwerp.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]