Friday, March 15, 2013

Michael Ondaatje - Anil's ghost (2000) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Michael Ondaatje. Anil's ghost. Picador, 2000. ISBN 0 330 48077 4.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Michael Ondaatje se Anil's ghost is wat my betref die wenner.

Die verhaal speel af in Sri lanka. Anil Tissera, gebore te Sri Lanka, het haar opleiding in Engeland en die VSA ontvang. Sy is forensiese antropoloog en sy word deur 'n internasionale menseregte-organisasie gestuur om die moord deur georganiseerde skenders op die eiland te ondersoek. Die leser moet, soos sy, die kodes analiseer en die roman is 'n soort speurverhaal wat metafories gedronge vertel word.

Sy romans beweeg in konsentriese sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die feit dat hy - in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n assosiasie begin.

Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles vrywillig.

Die roman is meer as 'n konvensionele speurverhaal. Dit is ook 'n verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief, ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend verbeeld.

Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.

Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies word ook hier kreatief aangewend.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]