André P. Brink. Groot
verseboek 2000. Tafelberg
Uitgewers/Human & Rousseau, 2000.
ISBN: 0 624 03931 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Dit is waarskynlik ironies dat die nuwe Groot verseboek 2000 in sy uiterlike
voorkoms nogal sterk herinner aan Harold Bloom se The western canon! Beide is tome van boeke. Maar waar Bloom se
epogmakende studie die kanon probeer herstel en die Groot Boek wil huldig, is
Brink se bloemlesing in vele opsigte 'n bevraagtekening, selfs dekonstruksie
van die kanon met 'n groot K. Opperman se “barometer van gehalte” het 'n huis
met baie kamers, aangeboude vertrekke en buitekamers geword.
Groot verseboek 2000 verskyn teen die agtergrond van 'n polemiek waarin
Gerrit Komrij se keuse Die Afrikaanse
poësie in 'n duisend en enkele gedigte
bevraagteken èn aangeprys is. Dit verskyn ook te midde van vraagtekens oor
die keuring van die bundel. Onder meer is die uwe aangestel as keurder en moes,
na 'n versoek van die uitgewer Hannes van Zyl, liefs die “leesskap” neerlê
weens besware dat 'n digter nie keurder kan of mag wees nie.
Omdat 'n geliefde digter met onttrekking van sy eie
werk, en 'n groot digter gedreig het, was dit dus wenslik om hierdie roete te
volg. Meer nog, die versoek het na hierdie leser gekom tydens 'n reisbesoek aan
Harvard en die kleingeestige eis was te midde van die Cambridge, Massachusetts
intellektuele aura belaglik. Terselfdertyd is 'n belangrike lesing gemis weens
'n dringende oproep uit die Suid-Afrika en wou hierdie leser die saak afhandel,
ook die digkuns ontwille. (Die Afrikaanse letterkunde kan nogal so vanuit die
vreemde na 'n kaartehuis lyk, hoor.)
In retrospek, reflekteer hierdie reaksie egter iets
omtrent kanonisering. So 'n beswaar - dat 'n digter ook nie
leser/keurder/kritikus mag wees nie - wys dat daar nog geglo word aan die idee
van kanonisering as 'n Tempel.
Die postmodernistiese klimaat maak van die Tempel 'n “take
away”. Die Ewige, immer blywende, duursame Tempel van marmer het nou iets van
'n tydelikheid gekry. Môre is daar dalk 'n ander winkel in die plek van die “oue”.
Die postmodernisme maak ook plek vir 'n nuwe blik op ras, seksualiteit,
stemhebbend, swygend, identiteit, mooi, lelik, goed, sleg.
Trouens, vir elke uitspraak of waardeoordeel, kan 'n maar of miskien geponeer word. 'n Gedugte leser soos Brink is nie net 'n
bekwame kritikus nie, maar hy ken ook al die slaggate. Hy weet dat die al span
jy die net hoe wyd, sal daar altyd 'n vissie verlore kan gaan. Of die net mag
skeur onder die gewig van 'n ou walvis. Maar vaderdank vir die forelle wat hy
wel gevang het!
Maar laat ons nou nie in slim beelde verval nie. Die
Tempel vs die “take away” of die beeld van die bloemleser as visvanger. Die
boek, soos Foster & Viljoen se Poskaarte,
vul 'n hiaat vir die dosent van die digkuns.
Pablo Neruda het by geleentheid geskryf dat daar nie
digters is nie; alleen 'n digkuns. As 'n mens hierdie verseboek so benader, kan
jy die volledige psige van die (Suid)Afrikaanse gemeenskap hierin aflees. Ook
dat Afrikaans 'n lewende, bruisende taal is wat sy man kan staan! Dit is 'n
bloemlesing wat sy plek kan inneem langs
Rosenthal se deftige versameling van die Engelse poësie.
En diegene wat kerm dat Brink met Opperman se kalwers
boer: dit is gebruik binne die letterkunde dat na die afsterwe van 'n kritikus
word die naam van die eerste redakteur behou en die nuwes word of in die
kolofon genoem, of op die buiteblad vermeld. Omdat hierdie versameling so 'n grondige
hersiening van die ou verseboek word, is Brink se naam buite op en die 2000
bygesit. Opperman se handskrif is wel op die buiteblad wat dus as 'n erkenning
gelees kan word.
Dis 'n ongelooflike uitgebreide versameling. Vir die
dosent is dit meer as welkom (al sou dit dalk vir die jong student 'n duur boek
wees). Met Poskaarte en Komrij neffens Groot verseboek 2000 kan jy letterlik alles, of dan, die belangrikste, wat jy behoort te lees, gelees kry.
In sy inleiding (wat nou eers gelees word sodat die
oordeel nie beïnvloed word nie) artikuleer Brink die belangrikste probleme
rondom kanonisering en bloemlesings. (Moet 'n mens dalk ook dink aan verbloem,
om weg te steek en verblom om mooi te maak?)
Daar word akkoord gegaan met Brink se bevraagtekening van
die ouer verseboek as die enigste verseboek. Hy wys op hiate en verkeerde
voorstellings: soos dat Visser verkeerd voorgestel is en dat daar hopeloos te
min verse van Peter Blum opgeneem is. Visser is nie net geestig nie; hy is ook
'n voortreflike liefdesdigter.
Ook wys hy op die onreg om vertalings weg te laat. In
hierdie opsig is Uys Krige sterk te na gekom. Vertalings is in elk geval die
mees radikale vorm van intertekstualiteit!
Krige se Neruda vertalings is waarskynlik 'n hoogtepunt
in ons digkuns en Spaanse dans (onder
redaksie van M.M. Walters) is 'n lieflike bundel.
Brink bely in sy skitterende voorwoord dat hierdie
verseboek 'n liefdesverklaring aan die digkuns is. Dit is ook so dat hy deur
geweldig baie bundels (ek meen 400 het sedert 1980 verskyn) moes werk om
hierdie keuse vir die leser te maak.
Nou sal enige resensent kan gaan sit: daar is te min van
Lucas Malan en te veel Hambidge. Tom Gouws is nie in 1939 gebore nie! Hy is mos
nog 'n jong bokkie, nie waar nie? Is daar setfoute? Dis die werk van andersoortige snuffelaars.
Hoekom is digters wat hul name soos e.e. cummings met
kleinletters skryf (soos fanie olivier, marlise joubert, tom gouws) nou
ge-hoofletter?
Waar is Elizabeth M. du Toit se Towertuin (1968)? Sy het weer stem gekry in Komrij se bundel, maar
hier is sy afwesig. Daar kon ten minste een gedig hier staan.
Dieselfde geld Freda Plekker wat ook beter
verteenwoordig kon wees, omdat die kanon juis belangrik is waar die mindere
stem nou helder(der) opklink en ons dus kan besin oor verskillende poëtiese
diskoerse. Poskaarte met die klem op 'n meer pomo-gedig het
waarskynlik vir die meer snobistiese leser te veel oppervlakkige of speelse
verse geplaas. In Johan van Wyk se SA in
Poësie / SA in Poetry is daar weer te veel 'raasgedigte'.
Brink stel die perspektief reg: Marius Titus is hier;
ook Matthews Phosa; André Boezak; Valda Jansen; Vincent Oliphant (al is dit
hopeloos te min. Ook is Koos du Plessis, gedugte liedjieskrywer verteenwoordig
en selfs Dan Roodt staan hier. Sy Kommas
uit 'n boomzol is nog nie na behore neffens Komas uit 'n bamboesstok geplaas nie. En die ghitaarspeler van “Aartvark”,
Willem van der Merwe se “The carnival is over”. (Waar is Robin Hawkins? Was hy
nie destyds in so 'n versamelbundel saam met Anlen Marais en Carol Clark nie?)
Johann de Lange word ook hier beter voorgestel en “Twee
matrose wat pis” en “Tongnaai II” is opgeneem. Hulde, hulde. Want De Lange is
op sy beste in Nagsweet.
Maar wat 'n lekkerte om nie al die waterskeidende
digters in Afrikaans te lees nie! As 'n bonus is daar 'n paar nuwe Krog-verse
uit haar bundel wat binnekort verskyn. Die digkuns beleef tans 'n bloei en
hierom is GV 2000 'n welkome publikasie vir sowel vir gewone leser as die
akademiese een.
Wys my jou bloemlesing, en ek vertel jou wie jy is! Die
samesteller se siening van die digkuns, kanonisering, representasie en
ideologie word verraai deur die samestelling.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]