Tuesday, March 26, 2013

Starling Lawrence - Montenegro (1998)



Starling Lawrence. Montenegro. Black Swan, 1998. ISBN 0 552 99807 9.

Resensent: Joan Hambidge

Montenegro vertel die verhaal van 'n Engelse reisiger, Auberon Harwell wat 'n gehuggie besoek. Hy gee voor om botanis te wees, maar dit blyk gou uit die vertelling dat hy 'n soort agent is. Die Eerste Wêreld oorlog mag enige oomblik uitbreek...

Die roman lê ook klem op die gewelddadigheid van die Montenegro Serbe. Danilo Pekocevic is die patriarg van die verhaal en in 'n soort moderne Romeo en Juliet-aanslag is sy seun Toma verlief op 'n Moeslim-buurdogter. (Die foto in Time van die Romeo en Juliet wat uit verskillende politieke agtergronde bereid was om te sterf vir hul lewens, word dan ook geaktiveer.)

Asof dit nie genoeg is, raak Harwell, die buitestaander, verlief op Toma se moeder, wat weet welke weerwraak opgesluit lê in haar seun se dwase liefde vir 'n Moeslim-meisie. Harwell se outsider-skap word opgehef deur sy betrokkenheid en so gesien, lewer die roman dan kommentaar op medepligtigheid en onbetrokkenheid.

Die skrywer word opgehemel as 'n moderne Rudyard Kipling, 'n  H. Rider Haggard, 'n Erskinde Childers, 'n Joseph Conrad. Sak Sarel!

Avontuur is daar beslis soos wat 'n mens by al hierdie skrywers vind, maar die werklike unieke taalaanslag van Joseph Conrad vind 'n mens nog lank nie hier nie. 

Die aanslag is definitief wat my betref meer populisties en om dit verder ook nog met The English patient te staan en vergelyk, klink vergesog.

Miskien maak dit 'n oortuigende film. Boeke wat met maklike opposisies werk en die politieke kwashale lekker trek en dit met 'n liefdesintrige omraam, mag op die silwerdoek oortuig.

Die historiese verwysings is imposant en die etlike kultuurverwysings verbreed 'n mens se kennis. Ook die verwysings na blomme is goed nagevors.

Dit is nie 'n roman wat my van my voete afgeruk het nie. Maar is daar iets méér persoonlik as literêre smaak? Veral as 'n mens dit vergelyk met Salman Rushdie se The ground beneath her feet (wat sopas verskyn het) en ook politieke kommentaar lewer.

Die uitgewer het die boek ook verkeerdelik loop staan en vergelyk met o.a. Conrad. So word verkeerde verwagtings geskep.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]