Saturday, March 16, 2013

Drie vroueromans: Voorvaders kan vlieg, sê Dolores / Slagoffers / Jacoba Afrikaner (2001)



Reinet Nagtegaal. Voorvaders kan vlieg, sê Dolores. Tafelberg Uitgewers, 2001. ISBN 9780624040323.


Dine van Zyl. Slagoffers. Tafelberg Uitgewers, 2001. ISBN 978-0624040231.


Maretha Maartens. Jacoba Afrikaner. Tafelberg Uitgewers, 2001. ISBN 978-0624040309.

Resensent: Joan Hambidge
(Insig/Sanlam se romanwedstryd)

I.

Voorvaders kan vlieg, sê Dolores is die debuutroman van Reinet Nagtegaal. En hierdie verbluffende debuut aktiveer 'n tendens binne die Afrikaanse romankuns: drie Afrikaanse romans wat elkeen op unieke wyse 'n cantadora aan die woord stel onafhanklik van mekaar. Dine van Zyl se Slagoffers en Maretha Maartens se Jacoba Afrikaner praat as't ware met mekaar.

Die cantadora of storieverteller is 'n begrip van die Jungiaanse kenner Clarissa Pinkola Estés wat in haar bekende kultusboek Women who run with the wolves (1992) die mag van storievertelling, en meer spesifiek, vroulike storievertelling aan die orde stel.

Die genesende mag van stories lê aan die basis van hierdie studie. Om deur verhale weg te kom van die versmorende stem-loosheid wat vroue binne 'n patriargale of manlike orde ondervind.

Die belangrikste waarde van Women who run with the wolves is die afwisseling tussen fabel/verhaal/feëverhaal en die uiteindelike toepassing of kommentaar daaromheen. Sy gebruik bekende verhale ten einde die argetipiese kwaliteite van hierdie verhale te illustreer. In die afdeling "Making Territory: The Boundaries of rage and Forgiveness" gebruik sy 'n klassieke Japannese verhaal, "Tsukina Waguma" ("The Crescent Moon Bear"), 'n verhaal wat handel oor 'n vrou wat haar man emosioneel verloor het weens sy blootstelling aan die oorlog.

Sy besoek 'n geneser wat haar van praktiese raad bedien. Die man kan genees, maar hiervoor word 'n spesiale bestanddeel benodig: 'n haar van die maanlig-beer se keel. As sy hierdie haar terugbring, sal haar lewe weer normaliseer. In die fabel word die vrou se stryd uitgebeeld. Sy moet aanvanklik die beer met kos omkoop en wanneer sy dan wel die haar na vele omswerwinge en teenstand in die hande kry, neem sy die haar na die geneser.

Wanneer die geneser die haar sien, erken sy dat dit 'n outentieke haar is. Sy gooi dit dan onverwags in die vuur tot groot ontsteltenis van die vrou. Die geneser herinner haar egter aan al die opofferinge waarmee die proses gepaard gegaan het. Dit, beveel die geneser, is wat sy moet onthou en toepas wanneer sy met haar man praat.

Hierdie verhaal lewer ook implisiete gender-kommentaar: die vrou wat afhanklik is van die man se emosionele goedkeuring en wat geïntimideer voel deur sy passiewe aggressie. Sý neem dit op haar om 'n oplossing te vind en hiermee word 'n belangrike argetipe na vore gebring: die vrou as die aktiewe vredemaker en behager; die man as die swygende aggressor.

In haar vernuftige analise konfronteer Estés die effek van woede op die psige ("Rage as Teacher"). Haar siening van die descansos (letterlik die kruise langs 'n pad waar mense gesterf het in Suid-Amerikaanse plekke) of mylpale is tersaaklik: elke ervaring verander ook die waarneming van die self en van ander. 

Ofskoon die verskillende afdelings sterk vrou-gerig is, is dit nie anti-man nie. Sy vra haarself byvoorbeeld af of die energie in die vroulike psige noodwendig die animus hoef te wees, soos Jung aantoon. Sy dink eerder dat dit ook 'n vroulike energie is en in die afdeling oor kreatiwiteit ("Clear Water: Nourishing the Creative Life") beklemtoon sy dat kreatiwiteit te make het met die kapasiteit om energie reg te kan kanaliseer.

Dit is vir sowel die manlike as die vroulike psige relevant. Daar word ook nie verminderend geskryf oor die manlike psige nie: "However, many women psychoanalysts, including myself, have, through personal observation, come to refute the classical view and to assert instead that the revivifying source in women is not masculine and alien to her, but feminine and familiar. Nevertheless, I believe the masculine concept of animus has great relevance” (1992, p. 310).   
 
Tog kodeer sy wel negatiwiteit met die aanvalle van die manlike animus wat die vrou aanval en as't ware van binne verteer (1992, p. 314). Maar wanneer daar 'n regte balans bestaan tussen die animus en haar ander psigiese kapasiteite, funksioneer dit nie as 'n negatiewe invloed nie: "Further, animus is an element of women's psyches that must be exercised, given regular workouts, in order to be able to act. If it is neglected in a woman's psyche, it atrophies, exactly like a muscle that has lain inert too long” (p. 312).

Daar word dus gesoek na 'n balans tussen die meditatiewe en die uitwaartse optrede en hierom is dit dan tog belangrik om die animus te aktiveer in die vroulike natuur. In hierdie opsig is Women who run with the wolves 'n teks waarin die feministiese nie as eensydig gesien word nie soos 'n mens dikwels aantref in werke van hierdie opset.  In "Self-preservation: Identifying Leg Traps, Cages, and Poisoned Bait" bestudeer sy psigiese letsels aan die hand van die verhaal van die meisie met die rooi skoentjies. Hierdie analise kommentarieer in welke mate self-destruktiewe figure - Judy Garland, Janis Joplin, Anne Sexton  -ironies genoeg hul wonde juis vergroot het in die proses waarmee hulle dit probeer besweer het.

Wanneer die meisie haar oorspronklike skoentjies verruil vir die nuwe skoentjies (die media, verslawing, oormatige kunsuitings) kan dit ironies genoeg juis tot haar ondergang lei. Dit noem sy die hambre del alma (sielhongerte): “The red shoes are burned to ashes when we paint, act, write, do, be in any way that causes our lives to be diminished, weakening our vision, breaking our spirit bones. Then a woman's life is overcome by pallor, for she is hambre del alma, a starved soul. All she wants is her deep life back. All she wants are those handmade red shoes. The wild joy that these represent might have been burnt in the fire of disuse, or the fire of devaluing one's own work. They might have been burnt in the flames of self-imposed silence” (1992, p. 228).

In "Joyous Body: The Wild Flesh" word die implikasie van liggaamlikheid besing. In hierdie opsig keer Estés terug na die plesier self. Sy het 'n afkeer aan enige vorm van projeksie: daar kan nie net een soort liggaam wees nie. Hierdie is metaforiese uitinge vir die psigiese self-aanvaarding en hierby inbegrepe gender-versoening(1992, p. 202). Trouens, hierdie hele afdeling bespreek die implikasies van pyn en onopgeloste konflik. Vrouens is dikwels die slagoffers van gender-verwagtinge wat hulle verwond.

En enige pynlike ervaring in die hede (her)aktiveer so 'n herinnering. Ook die leesproses is diep ingestel op hierdie konflikte in die self. Tekste raak hierdie konflikte/wonde en werklike groot letterkunde is in wese in staat om mense se argetipiese strukture aan te spreek, al is hulle onbekend met die intellektuele implikasies van 'n teks.

II.

Voorvaders kan vlieg, sê Dolores is 'n boek van transformasie. New Age, sou iemand wou byvoeg. Pynlike ervarings – verkragting en die ontdekking dat die lewensmaat/minnaar/geliefde gay is – word op 'n vermaaklike wyse hanteer. Dit bewys opnuut die ou stelling: humor is die lag met die traan.

Want uit hierdie pynlike, versmorende en vernietigende ervarings groei die karakter en maak sy wonderbaarlike stellings oor die lewe. Dit is 'n boek (let wel: dit is nie net 'n roman nie!) wat onder meer beweer dat depressie 'n emosie is wat jy ervaar juis omdat jy dink jy is te goed om deur so 'n pynlike ervaring te beweeg.

Dit is volledig, maar volledig met die hart geskryf en wanneer die leser teen die einde snuf in die neus kry en dink hier is dalk sprake van 'n metaroman (of self-refleksiewe teks) word dit so behendig hanteer dat dit nie steur nie. Nes die sjarmante hantering van die voorvader as 'n parapsigologiese dimensie en 'n gesprek met die muse. Dit is 'n voel-goed-roman. Jy glimlag en hoewel die boek soms na aan die been sny, word dit nooit banaal of groteks nie. Waarskynlik omdat hierdie cantadora so eerlik en sielvol bely. Sy het as't ware die "joyous flesh" ontdek.

Heeltemal in 'n ander toonaard, maar eweneens aangrypend, is Dine van Zyl se Slagoffers waarin die Angola-oorlog se uitwerking op vroue verhaal word. "Hulle het my saam met 'n klomp ander 'spioene' in 'n gat in die grond gesit, waar ek die son nie kon sien nie. Die mure daarvan was gebou met sement, die gat was met pale en gras bedek. Ek het gehuil. Ek het geskree. Ek het tot God geroep. Die ander vroue het vir my gesê: God is nie hier nie. God kom nie tot in die gate nie."

In Nagtegaal se roman word die donker gat van verdriet oorkom. By Van Zyl word daar eerder gefokus op die uitsiglose effek van 'n oorlog op vroue, op die werklike slagoffers. Dit is 'n roman wat die leser steur, omdat 'n mens as't ware in 'n soort litanie van verdriet ingelui word. Jy beweeg al hoe dieper saam in die put van verdriet - in Pinkola Estés se terme word die bene hier lewendig gemaak - en geen leser kan hierdeur onaangeraak bly nie. Dit is ook die woede as leermeester beginsel in haar terme wat hier aan bod kom.

Dit is bykans soos 'n Danteske inferno en die roman sluit nie af met 'n oplossing nie. Inteendeel. Juis omdat die roman in 'n sirkelgang beweeg, weet die leser dat die hoofkarakter, die filmmaker, nie onaangeraak sal bly deur hierdie ervarings nie. In die vertrekkende vlug huil sy oor die "mutilados", die verminktes. Die verteller is 'n psigiese verminkte wat deur al hierdie ervarings blootgestel is aan die pyn en lyding van oorlog en die uitwerking wat dit het op vroue wat byvoorbeeld swanger raak en gedwing word om 'n kind te baar en na enkele dae weer te vertrek.

Dit is 'n vroulike antwoord op Alexander Strachan se 'n Wêreld sonder grense en Etienne van Heerden se My kubaan en ironies genoeg is dit die oorlogroman waarop ons almal vir jare gewag het, omdat dit die grusame emosionele ervaring van die oorlog weergee. Die perspektief het verskuif van die aksie na die binnelandskap van pyn. Dit is 'n roman wat 'n mens ook nie kan neersit nie, omdat jy hier op die verwerkingsreis van Menina beweeg. En hoe ironies is dit nie dat hierdie roman deur 'n vrou geskryf is nie. Wat 'n prestasie!

Maretha Maartens se Jacoba Afrikaner vertel eweneens die verhaal van oorlog. Die letterlike oorlog (grensoorlog) en die oorlog van die binneste wanneer daar sprake van self- en gelooftwyfel is. Ook 'n seun se toestand van "bossies" raak, word vernuftig vertel. En ja, daar is natuurlik ook Jacoba se storie...

Aan die basis van hierdie komplekse vertelling lê verkragting opgesluit: en hoe dit in ons samelewing op alle vlakke mense se lewens raak.

Waarskynlik sou 'n mens hierdie roman 'n boek van selfkennis en identiteit mag noem. Maartens hanteer groot onderwerpe eweneens behendig. Dis 'n roman vir herlees en nadink. Bas Pretorius en Jacoba en Tuvahi Kapuuo...

Ook is die seksuele tonele goed weergegee. Daar is baie subtitiliteit aanwesig. Die slot word besonder goed hanteer; in die hande van 'n mindere skrywer kon dit verval in batos.

III.

Drie verhale wat elkeen op 'n unieke wyse die sielshongerte an vrouwees aktiveer en in die gesig staar.


Bibliografie

Estés, Clarissa Pinkola: Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman. Rider, Londen. 1992.

Hambidge, Joan: Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde:  'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. PhD, UK. 2001. (Hoofstuk vier: Gender en die primordiale.)

Maartens, Maretha: Jacoba Afrikaner. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 2001.

Nagtegaal, Reinet: Voorvaders kan vlieg, sê Dolores. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad. 2001.

Van Zyl, Dine: Slagoffers. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad. 2001.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]