Tuesday, March 26, 2013

Jeanette Winterson - The.PowerBook (2000)



Jeanette Winterson. The.PowerBook. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06103 8.

Resensent: Joan Hambidge

'n Jaar of drie terug verskyn daar 'n onvleiende resensie van een van Jeanette Winterson se romans in 'n Britse dagblad. Buite haarself van woede, ry sy en haar vriendin na die resensent se huis. Stop, maak lawaai (en ander lelike dinge) voor sy huis. Binne hou die man party en die volgende dag spoel die skandaal oor die Britse pers. Veral met haar gewraakte woorde wat sy die dom resensent toegesnou het: “Ek is die grootste lewende skrywer in Engels.”

Gemeet aan haar eie siening van haar werk, kan 'n mens werklik nie akkoord gaan nie. Miskien was Written on the body haar beste roman. Maar ek kon nog nooit die ekstase oor haar romans deel nie. Oranges are not the only fruit en Sexing the cherry het ek nie klaargekry nie en Art and lies was so self-bewus dat dit 'n mens die keel uithang.

Haar jongste The.PowerBook is ook maar aan die mindere kant. Weer eens 'n knap idee. Dit is 'n e-vertelling waarin die leser ook sy/haar fantasie kan uit toets. Ali/Alix (ou truuk om haar skrywer genderporblematies te maak) plaas ons in Londen, Capri en die kuberruimte. Daar word gebruik gemaak van boekomslae, feëverhale, populêre kultuur.

Winterson spreek die invloed van komputers op ons lewens aan. In die eerste vertelling word die “hard drive” 'n ruimte vir seksuele fantasie en meer in die besonderheid, vir seksuele bedrog. 'n Tulp paradeer hier as die oempabaloelie en hiermee wil die skrywer (deur onder meer te verwys na The passion) die fantasie rondom lesbiese seks prik.

In die afdeling “New document” word die gegewe verder gevoer en die hele vertelling ondersoek die spanning tussen werklikheid en fiksie. Fiksie, word daar gekonstateer, iks soos om na mense te luister in goedkoop hotelle. Die mure is dun en jy kan alles afluister.

Dis 'n knap idee hierdie roman wat virtuele realiteit ondersoek en bevraagteken. Die tulpe aan die begin, word netjies saamgetrek in 'n analise van Rembrant se selfportrette en kunstenaarskap. So gesien, wil die roman kommentaar lewer op Winterson se ondersoek na self en representasie.

Ook word verskillende personas aangeneem en tydvlugte. Die roman is ook 'n soort kladboek vir presies wat in 'n skrywer se gemoed aangaan wanneer 'n roman geskep word wat uit die werklikheid spruit. Tog het sy, wat hierdie leser betref, al oortuigender geskryf oor die liefde in Written on the body. (Die tema van die geliefde wat haar sonder waarskuwing en sonder 'n adres verlaat, is al bykans 'n refrein haar werk.)

Geskiedenis is 'n malman se museum (242) en hierdie boek flits tussen verskillende historiese momente. Van Lancelot tot Jack the Ripper, by wyse van spreke. Ook die wil die verwysing na die kuberwêreld impliseer dat die leser medeskepper word. Ook dit is al in ander romans vernuftiger aangepak soos in Italo Calvino se If on a winter's night a traveller of Julio Cortazar se Hopscotch.

The.PowerBook is knap ja; groots, nee.  

Gelukkig is Kaapstad ver genoeg van haar.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]