Sunday, March 10, 2013

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Poetry (2002)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Poetry. Ad Donker, 2002. ISBN 0 86852 224 4.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman is professor in Engels aan die Universiteit van Natal wat dikwels al die wind van voor gekry het oor sy omstrede uitlatinge oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Oor kanonisering  is hy al gestriem deur Johan van Wyk en Helize van Vuuren. Tog is die konsep van “Southern African Literatures” (waaroor hy ‘n boek laat verskyn het in 1996) nie ‘n verkeerde rigting nie, hoewel daar min, indien enige, litetarore bestaan wat al die verskillende tale en literature in ons Suiderland ken en kan behartig.

The New Century of South African Poetry probeer dan om die verskillende tale in hierdie land in digvorm te representeer. Die voertaal is natuurlik veral Engels. Hier en daar slaan ‘n swart taal en Afrikaans deur. ‘n Ysingwekkende werk. En ‘n bloemlesing wat by die titel al vra om polemiek, kanttekening, kritiek en vraag.

Die Afrikaanse letterkunde het onlangs die Brink en Komrij bloemlesings gesien. Eersgenoemde het redelik ‘stil’ en met ‘n akkoord verbygegaan, terwyl Komrij se samestelling met groot geraas begroet is. Wanneer ‘n samesteller afwyk van die bekende norme of opvattinge moet reaksie te wagte wees.

Die positiewe aspek van ‘n aweregse samestelling soos Chapman s’n wat as ‘n ‘post-apartheid’ en ‘nuwe millennium’ bloemelsing aangebied word, is dat dit vir die leser nuwe insette bring. Dieselfde geld ook Krog se vertaling en herdigting van swart digters in Met woorde soos met kerse: die leser word van die stilgemaakte stem bewus.

Bekende figure soos Roy Campbell, Van Wyk Louw,  Kunene, Douglas Livingstone, Mongane Wally Serote, Kelwyn Sole en Antjie Krog is hier, maar waar is Breytenbach?

Peter Blum is daar, Jan F. Celliers, Johann de Lange, Clinton V. du Plessis, Eybers, Us Krige, Langenhoven, Leipoldt, om ‘n paar name uit te sonder. Johann  de Lange is eintlik meer as een keer daar weens sy skitterende vertalings van ander digters wat opgeneem is.

Daar word ook handige en bondige notas geplaas. Dikwels van hulp, soms niksseggend. Soos onder meer oor Tatamkhula Afrika wat raakvat, maar waar ‘n hele boel digters onder een noemer ‘saamgegooi’ word soos De Lange saam met Ingrid de Kok en Metelerkamp, word die indelings gesog. Soos dat hulle almal aan universiteite verbonde is! En dis hierdie kwashaal oor die doek wat ‘n mens laat besef dat daar dikwels met veralgemenings gewerk word wat nie korrek is nie.

Boonop word daar ook ‘n hele spul gedigte opgeneem wat ook Guy Butler se idee van wat ‘n goeie vers is, dekonstrueer. Is dit werklik ‘gedigte’? Of is dit eerder opstanduitinge? Disparaat word dikwels eerder desperaat vir my smoel. Dieselfde geld dan ook vir die massiewe (soos Chapman dit noem) opgawe van Johan van Wyk e.a. in SA in Poësie/ SA in Poetry dat dit nie net historiese inligting of politieke cliché is wat in korter reëls opgebrek word nie. Nee, ‘n vers moet as’t ware die wêreld ‘re-make’. Gebeur dit orals?

Die veralgemenings oor Suid-Afrikaanse digkuns is eweneens problematies wanneer hy skryf: ”Whereas Eliot believed that modern poetry was bound to be difficult, poetry in South Africa achieves an immediacy of communication” (p. xviii). ‘n Fronsontlokkende uitspraak, veral omdat hy ‘n paar asemteugies voor dit oor Van Wyk Louw skrywe!

Hier meen hy: ”Van Wyk Louw’s massive image-structures cannot exclude the voice of the Afrikaner Calvinist disgusted at people’s eagerness to embrace crass bourgeois materialism”. Ek wonder wat dink die Louw-kenners hiervan? Die aweregse blik hou nie op wanneer hy skryf oor die invloed van jazz en die Beats op die digkuns nie.

Chapman gaan nie akkoord met Stephen Watson se siening dat Engels Suid-Afrikaanse digkuns gebuk gaan onder die juk van ‘n linguistiese dooierigheid nie. Maar is dit nie dalk so nie? Is dit nie dalk wel waar dat ‘n digter soos Isobel Dixon juis lewe geblaas het in hierdie digkuns nie, omdat ‘n mens ‘n Afrikaanse invloed kan voel nie?

Aan die positiewe kant word daar wel ‘n klomp interessante digters vir ons gegee. Maar daar word ook ‘n onnoembare aantal weggelaat. En wat sou ‘n kenner van ‘n Afrika-letterkunde dink?

Chapman besef die gebreke van sy allamagtige taak: daarom vra hy sy leser om die bloemlesing te lees saam met ander versamelings of antologieë. En ja, waarskynlik sou verskillende redakteurs een groot Bloemlesing met ‘n hoofletter moet saamstel. ‘n Bloemlesing met die oorspronklike vers neffens die vertaalde gedig.

Wat baie interessante en leersaam was – altans vir hierdie leser – is om begaafde vertalers soos Guy Butler, Johann de Lange en Rosa Keet in aksie te sien by ‘n Wilma Stockenström-vers. Miskien is ‘n digter tog nie altyd die beste vertaler van ‘n eie vers nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]