Tuesday, March 26, 2013

John Conyngham - The lostness of Alice (1998)



John Conyngham. The lostness of Alice. Ad Donker, 1998. ISBN 0 86852 216 3.

Resensent: Joan Hambidge

The lostness of Alice deur John Conyngham is 'n asemsnakkende leeservaring. Selde nog het hierdie kritikus so 'n bedrewe roman gelees oor die geweld in hierdie land. Teen die agtergrond van die geweldgeteisterde Natal, raak 'n jong meisie weg.

Sy verdwyn met al die impliksies wat dit tot gevolg het: is Alice vermoor? is dit 'n seksmoord? 'n politieke daad? Die pers - en meer in die besonder - Sally, 'n joernalis, raak geobsedeer met hierdie saak. Van buite af kyk haar vriend, Chris(topher) Jameson toe. Hy is 'n boer en eweneens getref deur die misterie rondom Alice se verdwyning.

Nou as u hierdie roman wil lees, beveel ek u aan om my op my woord te neem en dit dadelik te gaan koop. Moenie verder lees nie, want enigiets wat ek verder skryf, sal die impak van hierdie boek se trefkrag verminder.

Die verteller-as-waarnemer word in hierdie roman ingespan. Chris lees Sally se dagboek sodat hy sake kan rekonstrueer en so stadig maar seker besef die leser dat Chris net van buite af as 'n koel, macho boer lyk. Binne-in hom woed dit van emosies: sy ouers is vermoor; hy had ervarings in Angola wat hom waarskynlik nie ongeskonde gelaat het nie.

Inmiddels raak sake tussen Sally en Chris vertroebel wanneer hy dink (weens inligting uit die dagboek) dat sy ontrou is aan hom en 'n affaire het met die speurder. En dan ruk dit hom so, dat hy op vlug slaan sonder om iemand daarvan te vertel. Hy vertrek na Londen; later spandeer hy tyd in Spanje en in Marokko.

Op hierdie reis besef die leser: jy is as't ware besig om die roman (eerder 'n lang brief aan Sally) te lees. In al sy omswerwinge praat hy met 'n Professor Mason in Gibraltar oor hoe die tyd van 'n persoon se dood bepaal kan word. Uit die aftakeling en die siklusse van insekte word dit afgelei.

Hier dan word die roman iets van 'n speurverhaal want hy stuur 'n brief - gekonstrueer uit koerantletters - na Sally se koerant. Wat dit natuurlik dan publiseer as sou hy die moordenaar wees en dat Interpol hom binne vier-en-twintig uur sal vastrek.

Die leser weet dis 'n blufspel: Chris is nie in Londen nie, maar in Gibraltar en hy reeds die Noord-Afrika polisie ontglip vir 'n aanranding.

Dis 'n verbluffende roman wat op soveel vlakke simultaan afspeel. Die kodes van die speuverhaal (skuld, paranoia, ondersoek en misverstand) à la Georges Simenon word hierin geaktiveer. Een “leuen” of misverstand kan 'n mens skuldig laat lyk. Ook betrek die skrywer die moderne kodes van 'n Patricia Cornwall-verhaal met die wetenskaplike aanslag van outopsies, en ander wetenswaardighede wat moorde help oplos.

Nou weet ek, liewe leser, u het in elk geval bly lees, ten spyte van my “waarskuwing”. Maar dit sal nog steeds nie die roman bederf nie. Die roman werk met die spanning van die film Picnic at hanging rock van Peter Weir. Ook word besoeke aan sieners ingespan om die moord te help ontrafel.

Die leser is uiteindelik die een op wie se oordeel aanspraak gemaak word. Hy/sy “sien” binne-in Chris se kop en glo hierdie karakter. OOk word die roman in drie afdelings verdeel: The farm; Wanderings en The rock - dus vertel vanuit die agterna-perspektief, maar soms aangebied asof dit nou afspeel.

Die roman word versier met 'n mooi buiteblad en Barry Ronge spreek die regte oordeel uit wanneer hy die skrywer, John Conyngham loof vir sy ontsettende taalbeheer.

Ek is nie 'n clairvoyant nie, maar hierdie boek gaan al die pryse inpalm.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]