Friday, March 15, 2013

Kobus Lombard - Geknipte naelstring (2001)



Kobus Lombard. Geknipte naelstringProtea Boekehuis, 2001. ISBN 1 919825 35 5.

Resensent: Joan Hambidge

Moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Hopelik ook nie op sy bundel se titel nie, wil 'n mens byvoeg, want hierdie verskriklike titel kondig wel 'n paar mooi verse aan. Veral wanneer hierdie digter oor sy verlore jeug dig ('n aangenome kind as die verse 'waar' is) of verlies in die algemeen aanspreek, sien 'n mens dat hier 'n fyn en sensitiewe blik aanwesig is.

Soos die vers oor die dood van 'n kind:

  geen
  boom
steek 'n gat
  so grou
in die lug
  soos 'n
  sipres
   oor
   die
   oop
   graf
   van
   'n
  kind (p. 62)

Die leser bly deurentyd bewus van 'n mineurstem in hierdie bundel: 'n soekende mens wat dig oor sy familieverband, die verlange na 'n  geliefde of die metafisika. Wanneer die digter oor die skryfproses hom uitlaat, is die verse minder.

Die vers oor sy ma ("28 Oktober", p. 23) is skreiend eerlik. Die afgetekende kind se gesprek met die moeder en die "ongesegde" word hier knap verwoord. En dit is juis 'n gedig soos "Kinderdae" (p. 8) met sy trefseker woordgebruik wat die leser laat besef: dis jammer hier is so min verse. Miskien moes die digter langer gewag het sodat daar 'n lywiger bundel was? 

Dis delikate gedigte. Asof 'n mens luister na 'n kamerorkes. Belofte is hier bepaald.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]