Monday, March 25, 2013

Hennie Aucamp - Koerier / Hennie Aucamp - Lyflied (1999)



Hennie Aucamp. Koerier: 69 opdrag- en ander kwatryne. Human & Rousseau, . ISBN 0 7981 3891 2.


Hennie Aucamp. Lyflied. (Daniel Hugo, samest.). Tafelberg Uitgewers, . ISBN 9 780624 037569.

Resensent: Joan Hambidge

Hennie Aucamp se publikasies word dikwels vergesel van 'n nuttige inleiding. Nie alleenlik word hierdie essay dan 'n soort rigtingwyser van hoe die outeur wil hê die leser 'n bepaalde teks moet benader nie, maar dit verskaf ook wenke vir die ywerige navorser vir verdere ondersoek. In hierdie verband is sy Wisselstroom uit 1990 'n belangrike dokument. Sy uitsprake oor die kortverhaal soos in Kort voor lank of Die blote storie 2 (1994),'n werkboek, is seminale handleidings in ons letterkunde.

As kortverhaalskrywer het hy fundamentele werk gedoen en etlike  klassieke verhale gelewer - eintlik te veel om op te noem, maar durf 'n mens ooit “Vir vier stemme” uit Volmink miskyk?

Die afgelope paar jaar herskryf hy sy oeuvre en is daar blyke van 'n bestekopname en ook 'n interessante afbreek van grense: 'n verhaal word essay, self-ironie, intellektuele of emosionele kladboek wat dikwels in reliëf met die dagboeke of egodokumente gelees moet word.

In die geheel gesien 'n skrywer wat sowel kortkuns as intellektuele diskoers beoefen. Tussendeur ook die beoefenaar van die kwatryn en kabaret. 'n Bespreking kan helaas nie verval in 'n opsomming van hierdie produktiewe skrywer se uitset nie.

Die bundel Koerier word tipeer as 69 opdrag- en ander kwatryne wat by die kritiese leser miskien die reaksie sou kon uitlok dat dit by die private moment of agter op die sigaretboksie moes bly. Tog is daar werklik bul-oog kwatryne soos:

vir Ernst van Heerden

Gekonsentreerd is die kwatryn -
astrak van liefde of venyn.
Gelukkig is dié spel jou erns,
die soet verraad van digter pyn (p. 32)

of

vir Elize Botha

Die essaie, het Montaigne geleer,
is proef en worp en weer probeer
en kyk hoe met verbale sette
die waarheid hom teen ons verweer. (p. 28)

Die Elize botha is natuurlik die akademikus en tans kanselier van die Universiteit van Stellenbosch en soos Aucamp 'n aller-fyn stilis. Trouens, daardie manier van skryf word opgevang in 'n huldeblyk vir Dirk van Schalkwyk, 'n woordeboekmaker:

Wie breek nog af en toe 'n lans
vir woorde soos “lumier” en “trans”?
Die bittereinders van 'n eeu
wat al hoe meer na binne skreeu. (p. 44)

Die bundel handel ook oor ander bekende Aucamp-temas: die landskap van die natuur en lyf, verganklikheid en bestendigheid. Aucamp noem die kwatrynskrywer 'n “gefrustreerde miniaturis”, 'n raak opsomming van hierdie bedryf.

In Vuurslag (1991) 'n bundel kortkort verhale skryf hy eweneens treffend oor die meganisme van die kortkort verhaal. In Koerier bely hy sy skatpligtigheid aan Ernst van Heerden wat talle kwatryne aan vriende geskryf het; kwatryne wat helaas nou verlore of vergeel geraak. In Aucamp se dagboeke sien 'n mens die vrees iets mag verlore gaan, hetsy die Afrikaanse taal of letterkunde. Aucamp het niks te vrese nie. Hy is gekanoniseer èn bekroon. Trouens, 'n mens kan jou nie 'n letterkunde sonder 'n Aucamp voorstel nie.

Hy bely ook in die woord vooraf:”Vandag eers besef ek dat ouer skrywers óók aanmoediging nodig het; en al hoe meer, soos die selfvertroue minder word”(p. 9). 'n Vreemde uitspraak, dink 'n mens, van 'n skrywer wat soveel erkenning gekry het en sowel die Hertzogprys as die Recht-Malan-prys verower het.

Lees hierdie bundel waar die skrywer probeer om “Die Onse Vader” op 'n posseël te skryf, en natuurlik beland die helfte van sy boodskap op die tafelblad!

Lyflied is 'n keur uit die liedtekste deur Daniel Hugo saamgestel en bevat 'n belangrike nawoord. “Al hoe meer kom my liedtekste tot my in die ryk, tragiese stem van Amanda Strydom” verneem ons op die agterblad. En hierdie vrou se lieflike stem het vele van Aucamp se tekste bittermooi die wêreld ingedra. Daardie navrante stem en pynlik-eerlike vertolkings is wat Aucamp se tekste behoef.

Hugo betoog dat Aucamp ook erkenning as digter moet kry. Nou iks dit ongelukkig maar 'n verskynsel in onse ou letterkunde dat 'n skrywer se kenmerkendste genre sy of haar etiket word. En wanneer 'n skrywer besonder goed presteer in 'n bepaalde genre is die komplimente suinig of skraps in die tweede genre; of die wenkbrou lig: vir wat dan nóg 'n rigting inslaan? Nog 'n boek publiseer?

'n Nuwe genre eis 'n nuwe of ander aanslag op en hierdie leser is positief oor die ontginning van nuwe genres of moontlikhede. Hugo skryf 'n mooie nawoord oor Aucamp se bydrae. Hy gaan in op die spesifieke aard van Aucamp se aanslag en hy kontekstualiseer telkens 'n argument of stelling.

Hugo was in alle waarskynlikheid die regte persoon om hierdie nawoord te skryf, omdat hy as kenner van die speelse vers reg kan laat geskied aan juis dít wat hierdie tekste wil wees.

Hy haal ook Ernst van Heerden se uitspraak oor Aucamp aan:”Aucamp se verskuns styg ver uit bo die banaliteit van die gangbare pop- en treffertekste: sy lirieke is meteen 'n selfstandige en literêr-beduidende kunsvorm - opwindend, skrynend, eietyds.”

Lyflied gee nie alleen die tematiese ontwikkeling weer nie, maar ook die stilistiese skakeerdheid van die digter. Vir my is puik in sy navrante oomblikke soos “Elke liefde het sy deuntjie”(p. 62). Ander mag weer meer hou van die sosiale kommentaar. (Nie om dowe neute nie word die kabaret sommer hier as 'n hoerkind getipeer!)

En Toergenjef se motto (“Watter nut het ironie in eensaamheid?”) is 'n belangrike aanwyser vir Aucamp se tekste wat waarskynlik 'n skeutjie ironie weg het.

Die geselekteerde diskografie is uiters handig.

Dis twee genoeglike boeke en welke skrywer kan in hierdie dae deur sowel Human & Rousseau as Tafelberg uitgewers op die hand gedra word? 'n Woord van kritiek: R79,95 is darem peperduur vir  Lyflied!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]