Wednesday, March 20, 2013

Eveleen Castelyn - Kubermens (1999)



Eveleen Castelyn. Kubermens. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3922 6.

Resensent: Joan Hambidge

Eveleen Castelyn is vir haar debuutbundel Tussen hemel en aarde tereg met die Eugène Marais-prys bekroon. Haar gedigte het nog altyd geïmponeer om hul eenvoud, die gewone praattrant en ironiese selfvermindering wat skerp blik op menslike lyding en bedrog meebring. Daar is ook Menslikerwys gesproke (1984) en Minder as die engele (1990).

Haar jongste bundel is 'n klein kragtoer. Kubermens bepaal die invloed van die moderne media soos rekenaars, e-pos, televisie op ons psiges en in welke mate dit die binneste domein van die mens aangetas en verander het. Ook word die digter se naam geskryf asof dit 'n @-adres is is! Ons lees of onderskep dus haar e-pos aan die wêreld.

Dit is waarskynlik ook tersaaklik om te vermeld dat mevrou Castelyn nie 'n jong mens is nie en dat sy eintlik as 'n ryp, ouer mens na die wêreld kyk aan die einde van die millennium en dat sy verstommende raak uitsprake maak. Soos dat die mens rekenaars skep wat hom weer skep. En dat rekenaars persoonlikhede van hul eie ontwikkel.

Die bundel word tereg tipeer as 'n eksistensiële bundel en deurgaans bly die leser bewus van die skerp blik op die mens se (self)vernietiging.

Manuel Castells se The information age is van toepassing op hierdie bundel om die effek wat komputers, e-pos, die internet op ons psiges het. As Marshall Mcluhann beweer het ons leef in 'n global village, lyk ons psiges seker nou soos besige markplein.

Die bundel bevat onpretensieuse, egte verse wat die menslike kondisie besê. Sy dig dan ook na die soeke en ervaring van liefde (“Begin van 'n dag”) en seksualiteit. Trouens, mevrou Castelyn het al vir ons mooie gedigte op die babbeljoentjie gegee. Daar is verse van 'n verlangende, tobbende moeder en ouma. 'n Bekommerde intelligente mens wat tersaaklike vrae vra oor die deurmekaar-land waarin ons woon.

Wrang-ironies is die gedig oor 'n huishulp wat spaar vir 'n eie huis en skerp blik op siekte en die aftakeling wat ouderdom meebring. Dis verse wat mineurgestem is. Maar hulle tref 'n mens en bly lank na die lees in jou nawerk.

Soos in haar bundel Minder as die engele word die religieuse en bparapsigologiese ook betrek. 'n Voorgevoel oor die dood van 'n broer en die aanvoeling van iets onsigbaars by iemand se sterfte word ook deur haar beskryf.

Haar gedigte oor kuberruimte bring 'n tematiese verruiming in ons digkuns (soos “Die reus van IBM”, p. 11 en “Kuberkomponis”, p. 15), maar vir my is mevrou Castelyn trefseker wanneer sy oor die kleinste, bykans onbenullige momente dig. Hierom dan was haar haikoes in vorige bundels ook so goed:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde (uit Minder as die engele).

Die bundel bevat ten slotge ook 'n paar tankas (oftewel waka of uta gedigte), die sogenaamde Japannese liriek bestaande uit 31 sillabes in reëls van 5,7,5,7,7 sillabes.

Die vorm is waarskynlik in die Weste minder bekend as die haikoe en hierom maak mevrou Castelyn dus 'n verdere bydrae. Die soort gedig handel oor die natuur, die liefde, gelukwensing of verdriet.

die maan is aandblom
blink satyn op swart fluweel
die nag se juweel
skitter aan die hemeldak
môre bleek gebleikte blom
p. 62

*

Die Here het gegee
die Here het geneem
sê die predikant by die kissie
van die kind, droewig
huil die moeder en die wind
p. 52

En 'n verdere voorbeeld van hoe aangrypend sy dig:

Begin van 'n dag

die maan sit laag
voor die agterdeur
soos winterverdriet
in 'n boom swaai
'n sjinese lantern
aan 'n dun swart riet

die dag begin bibberend
in my kamerjapon:  roosterbrood
en tee bitter marmelade
verkluimde lemoen
soos 'n liefdesballade
soet op my tong
die wildepiesang-smaak
van jou gulsige soen (p. 40)

Kubermens was die wag werd. Eveleen Castelyn is 'n suiwer digter waarsonder die Afrikaanse letterkunde veel, veel armer sou wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]