Julian Barnes. England,
England. Random House, 1998. ISBN 0 224 05275 6.
Resensent: Joan
Hambidge
In Amerika bestaan die nosie van Great American Novel
wat 'n skrywer soos Philip Roth al goed gesatiriseer het. In 'n neutedop behels
dit 'n roman wat die psige van die volk en al hul gewoontes sal vasvang. Hierop
reageer Julian Barnes vernuftig met sy jongste roman England, England.
Onlangs is sy Metroland
verfilm en vir my is Barnes se beste roman Flaubert's
parrot, 'n spel oor die onmoontlikheid om 'n dooie skrywer se lewe en werk
ooit regtig te kan versoen of begryp. Dan is daar ook onder andere A history of the world in 10 1/2 chapters
en 'n bundel kortverhale Cross channel.
England, England handel oor die waansinnige projek van die tycoon Sir
Jack Pitman om Engeland in te pas op die Isle of Wight. Hy konstrueer “The
Project” waarin alles wat Engels is te siene en te kry sal wees vir die toeris.
Natuurlik begin die projek die regte ding te bedreig en
dis hier waar die storie heerlike draaie met die leser loop. Dis 'n roman wat
Barnes ses jaar lank aan gewerk het en hy lewer kommentaar op dit wat in die
literatuurwetenskap geleerd heet: representasie en fabulasie.
Maar moenie skrik nie. Dit is so onderhoudend geskryf
dat alle lesers sal kan saampraat. Dis net dat Barnes se roman – soos die van
David Lodge – op vele vlakke funksioneer.
Die karakters pas inmekaar soos 'n legkaart. Elke
skakeltjie verteenwoordig iets van die gemeenskaplike projek om Engelsheid te
definieer. So word die vyftig kwintessensiële kenmerke gegee, waarvan ek 'n
paar noem:
1. Royal family
2. Big Ben/Houses of parliament
3. Manchester United Football Club
4. Class System
5. Pubs
6. A Robin in the Snow
7. Robin Hood and his Merrie Men
8. Cricket
9. White Cliffs of Dover en natuurlik no. 49. Not Washing/ Bad
Underwear.
Die boek gee ook 'n onvergeetlike beskrywing van Gary
Desmond se porno-manewales en hoe meisies mislei. Ook die tycoon se infantiele
seksuele ervarings is goed weergegee.
Die roman moes ontsettende navorsing geverg het omdat
alles wat Brits is so goed op sy kop gekeer word. Geen wonder dit het die
kortlys van die Booker-prys gehaal, maar nie gewen nie!
En ja, daar is 'n lag-kurwe ingebou, iets wat ek meen 'n
goeie roman moet dra, te wete die ironie. En ons weet hoé “stiff upper lip”-mense
op dié aanslag reageer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]