Tuesday, March 26, 2013

Leslie Forbes - Fish, blood & bone (1998)



Leslie Forbes. Fish, blood & bone. Weidenfeld & Nicholson, 1998. ISBN 0 297 645 80 3.

Resensent: Joan Hambidge

Forbes se Bombay Ice het lof ingeoes en was deur 'n Londense resensent beskou as 'n een van die beste thrillers van die jaar. Glo net omkoopgeld en waansin kon dit van hierdie benoeming weghou.

'n Tweede romans skep 'n verwagting, veral as die eerste een so suksesvol en goed was. Waarskynlik probeer 'n  skrywer ook (onbewustelik) hierdie resep herhaal. Fish, blood & bone ondersoek die liefdesdriehoek en die invloed van opium op die menslike gemoed. Die roman begin met 'n motto wat as 'n spirituele padwyser vir die leser wil dien.

Claire Fleetwood, 'n forensiese fotograaf, se beste vriendin word wreedaardig vermoor. Sy is Amerikaans en bevind haar in Londen. Vanuit hierdie perspektief as buitestander moet sy dus die wrede moord evalueer en vreemde sosiale kodes begryp. Ook reis sy verder na Tibet wat 'n verdere vervreemdende dimensie aanbied. Immers oor die reisende karakter is daar al veel geteoretiseer: dit is die persoon wat van buite, en dus nuut, kyk na die landskap en mense wat vir die inwoners alledaags is. Die gegewe word ook verbind aan 'n familielid wat sowat 'n honderd jaar vantevore dieselfde reis onderneem sodat 'n mens benewens die spannings- en reisroman ook 'n  sterk epiese roman beleef.

Waarskynlik is die sterkste kwaliteit van hierdie roman die geweldige navorsing wat dit moes behels het. Jack the Ripper, plantkunde, forensiese ondersoeke, Griekse begrippe soos 'anagnorisis', en dwelms, speel mee om van hierdie roman 'n leeservaring te maak. Ook die argeologie lewer 'n inset tot hierdie uiters onkonvensionele en skitterend geskrewe roman.

Dit gaan ook hier om waarneming en sosiale kodes. Darwin had nie nodig om na die South Pacific te reis om sosiale ordes te begryp nie - Londen verskaf al die sleutels murmureer die siniese verteller.

Ironies genoeg is die slim afwys van kennis iets wat die leser ook op die duur vervreem van die verhaalgegewe. Dit is bykans asof die skrywer al haar navorsing wil afwys. Ook is die leser gekondisioneer om 'n oplossing te vind in hierdie andersoortige speurverhaal. Dit is in wese 'n speurverhaal van die genetika, oftewel, die soeke na daardie sel wat van 'n persoon 'n  moordenaar maak.

Dit is opnuut ironies dat 'n skrywer van buite - Forbes is van Kanada - so 'n fyn analise van die Britse klassesisteem maak! 

Dit is 'n sewe uit 10 roman.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]