Tuesday, March 26, 2013

Salman Rushdie - The ground beneath her feet (1999)



Salman Rushdie. The ground beneath her feet. Jonathan Cape, 1999. ISBN 0-340-73897-9.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die verhaal van Vina Apsara, 'n geliefde sangeres wat verdwyn in 'n aardbewing. Haar minnaar, Ormus Cama se soektog (op verskeie vlakke) word ook in The ground beneath her feet verbeeld. Dit word hulle storie, maar die gegewe speel ook in op die verhaal van Orpheus en sy Eurydice se verbintenis wat verby die kenbare lewe strek.

Hulle verhaal word nie direk bely nie, maar vertel deur die wyse fotograaf Rai, 'n jeugvriend van Ormus. Die roman wil dan ook in sy wye doekaanslag kommentaar lewer op die verskillende “waarhede” wat ons lewe tans beheer: mitologie, die verbintenis tussen die Ooste en Weste, populêre en hoë kultuur, modernisme en postmodernisme, leuen en waarheid, en les bes, fiksie en werklikheid. Soos die flaptekskrywer tereg opmerk:”In short a tale of love, death and rock'n'roll”.

Rushdie is waarskynlik die één skrywer op aarde wat 'n groot prys moes betaal toe die Ajatolla nie wou glo dat daar 'n verskil tussen feit en fiksie is nie! Hy is voëlvry verklaar en 'n mens kan dan ook nie anders as om hierdie roman te lees as 'n indirekte kommentaar op 'n úiters onaangename periode in sy lewe nie.

The Satanic verses sal waarskynlik altyd die roman bly waarteen hy gemeet sou word, maar The ground beneath her feet word nie om dowe neute nie opgehemel deur 'n ánder voorste kommentator van al die verskillende strominge in ons (post)moderne wêreld, te wete Don DeLillo. Hy noem Rushdie tereg die meester van metamorfose en hierdie roman wys dat die skrywer juis deur middel van fiksie die fatwah kon oorleef.

Die roman lewer kommentaar op die verband tussen mag en liefde en dat 'n mens eers by die verlies daarvan kan bepaal hoé 'n belangrike uitwerking dit op jou lewe had. Rushdie hou 'n baie goeie vertelpas vol. 'n Mens word nooit verveel nie (soos dit dan dikwels die geval is in lang romans). Hy kies dan ook hoofstuk-titels om so à la die negentiende eeuse ouktoriële roman die verhaal kripties op te som en onderbreek.

Toni Morrison verwys na die betowerende invloed wat die taal op die leser het en Rushdie skryf 'n baie poëtiese Engels wat deurgaans met Indiese sleng versier word.

Die tyd in afsondering het kennelik die skrywer baie bewus gemaak van al die strominge wat dreig om ons almal te oorweldig. Ook lewer die roman kommentaar op die funksie van geloof, die mistieke of epifaniese ervaring wat 'n gewone ervaring kan ómtower.

Die hele gegewe is baie sterk ingegee deur die spiritualiteit kenmerkend aan die einde van die millennium en Rushdie, soos DeLillo, se romans is vlymskerp analises van sowel van die modes van ons tyd as die stand van die romankuns as sodanig.

In hierdie verband is uitsprake soos op bladsy 154: ”We leave home not only to make room for ourselves but to avoid the sight of our elders running out of steam (...) Life's bruises demythologise us all. The earth gapes. It can wait. There's plenty of time” of “If friendship is a fuel, the supply of it is not endless” (bladsy 490) waarskynlik  van Rushdie sélf wat die vertelling binnetree soos 'n Thackary of 'n Dickens wat bekend was vir hul wyshede oor die wêreld waarin hul geleef het.

Behalwe vir die kommentaar op musiek, word die vertelling waargeneem deur 'n fotograaf. So word die roman dan ook tersaaklik vir ons begrip van die elektroniese en fotografiese blik wat tans die woord bedreig. En al hierdie media kan, soos die slot benadruk, 'n mens verewig.

In die afdeling “Vina Divina” erken die verteller dat sy geen Callas of Sutherland was nie. Maar haar geheul met die pers - die feit dat sy die private openbaar kon maak - het van haar tot 'n ster verhef en so is lae kultuur verhef tot die hoë! En met haar tragiese dood is sy dan tot Godin verklaar; nes 'n Marilyn Monroe. Rushdie via sy verteller lewer felle kommentaar op skep van gode en in welke mate die populêre kultuur vergelykbaar is met die mitologie.

Ook het die dood van Prinses Diana en die media-histerie wat dit to gevolg gehad het Rushdie se waarnemings beïnvloed. Vina het kennelik ook iets van Madonna.

Dit is 'n lánge kluif van 'n boek, maar 'n wonderbaarlike leeservaring van 575 bladsye, en besonder keurig uitgegee deur Jonathan Cape. Die roman bewys ten slotte dat die suksesvolle romanskrywer ook 'n knap teoretikus is. Dit kon 'n mens al seker van Flaubert gesê het met sy wyse woorde dat die romanskrywer soos God orals aanwesig moet wees in sy skepping, maar nêrens sigbaar nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]