Monday, March 25, 2013

John Irving - A widow for one year (1998)



John Irving. A widow for one year. Bloomsbury, 1998. ISBN: 0-7475-3678-3.

Resensent: Joan Hambidge

In die letterkunde word daar van die Garp-sindroom gepraat; overgesetsynde, die sindroom van daardie een wonderbaarlike boek waaraan jy as skrywer vir ewig en altyd gemeet word.

Die uiters produktiewe en innoverende skrywer John Irving word telkens gemeet aan The world according to garp (1979). En dit is jammer, want elke roman wat hy daarna geskryf het, is in eie reg belangrik, onthoubaar of gewoon uit 'n vertel-perspektief interessant.

En die verfilming van sy boeke - die twee wat ek kon deurworstel, te wete The world according to garp en The hotel new hampshire -was juis om sy vertel- en taalgevoeligheid, rampe.

Irving se handelsmerk is dan die uitbeelding van die ongewone: die dwerg, bloedskande, die skrywer met die oorwerkte verbeelding...

Ondertussen het daar tien belangrike romans verskyn en sowat tweejaar terug die pragtige A son of the circus. Die jongste is ook 'n dikke roman en dit heet A widow for one year.

Dit is die drieledige-verhaal van Ruth Cole. Sy is vier wanneer die storie in 1958 begin. In die tweede luik is ons in 1990 wanneer sy 'n skrywer is, ongetroud met 'n siniese uitkyk op die liefde. In die derde luik is sy 'n moeder en 'n weduwee (1995) en op 41-jarige ouderdom raak sy die eerste keer verlief.

Hier is tipiese Irving-truuks aanwesig: die spel met die ongewone (soos Eddie se versorging van Ruth as jong kind); die uitstel van die onthulling van die ongeluk én hoe dit mens se lot bepaal; 'n knolskrywer wat sy verhaal probeer neerskryf, maar te na aan sy eie pynlike werklikheid staan.

Dit is egter wanneer die karakter-Ruth self skrywer word en die grense tussen fiksie en werklikheid beginne vervaag, wanneer die roman 'n kragtoer word. Sy word gekonfronteer met haar verdwene moeder se roman en op die koop toe ervaar sy 'n skrikwekkende doeblering van fiksie: sy is ooggetuie van 'n moord en 'n kinderverhaal van haar pa word so werklikheid.

Graham Greene se biografie speel 'n belangrike rol in hierdie roman: dit lewer kommentaar op Ruth se werkswyse en op Irving se siening van fiksie. Greene wat as jong man Russiese Roulet speel, omdat sy geliefde hom versaak het, weerklink in hierdie roman wat handel oor onbeantwoorde en versaakte liefdes.

As kleindogtertjie beseer Ruth haar vinger. Die idee van verwonding, skending, litteken word 'n refrein in  die roman en wanneer sy Eddie (haar moeder se jeugdige minnaar) weer na jare ontmoet, druk hy haar vinger in tamatiesous om haar letsel vir haar te wys. Dit wat haar anders maak èn haar 'n insig gee sodat sy kan skryf.


Dit is 'n boek oor verlies en hoe dit mense verskillend aantas: die dood van haar broers laat die moeder vlug; dit maak van die vader 'n maniese rokjagter en van Ruth waarskynlik een van die mees onthoubare karakters, soos Ms Smilla, in moderne fiksie.

In die derde luik word al die drade saamgetrek, die titel verklaar en hier het ons dan te make met 'n soort  speurverhaal à la Simenon. Ruth moet uiteindelik die emosionele en morele rekening vir haar roman betaal - meer gaan ek nie uitblaker nie! Dit sal al die pret bederf, maar dit het iets te make met haar navorsing in die Amsterdamse Rooibuurt en die polisieman wat al die drade saamtrek oor die moord wat sy per ongeluk gesien het.

Daar is al baie geskryf oor ideale lesers van roman: in Irving se storie is die ideale leser 'n polisieman wat speurverhale verslind! 

Dit is 'n roman wat aanspraak maak op die mitiese status van “The Great American Novel”. Nie alleen om die omvang (dis oor die 500 woorde!) nie, maar ook om die emosionele diepgang en die disseksie van verdriet en die invloed van verganklikheid op 'n mens se lewe. (Die enigste kritiek: die slot is darem net-net te vlot wanneer almal bymekaar uitkom.)

Daar is min skrywers wat sub-teks (a, die “undertoad”!) soos Irving kan hanteer. Dit is 'n verruklike roman.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]