Thursday, March 21, 2013

Marianne Frederikson - Simon & the Oaks (2000)



Marianne Frederikson. Simon & the Oaks. Orion, 2000. ISBN 0 75282 515 1.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die opvolgroman van die suksesvolle blitsverkoper Hanna's Daughters. Marianne Frederikson is 'n Sweedse skryfster en vir haar debuut is sy bekroon met onder meer die Sweedse boek van die jaar-prys en Skrywer van die jaartoekenning in 1994. Simon & the Oaks is 'n sogenaamde quest-roman of daardie soort verhaal waarin self-identiteit 'n soektog word.

Die verhaal speel aan die begin in die landelike Swede af teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog. In hierdie dramatiese tydperk ontdek hy dat hy aangenome is en hy raak vriende met Isak, 'n psigologies-gestremde Joodse kind wat sy vader uit Nazi Duitsland gevlug het. Die effek van al die pynlike gewaarwordinge word vertel in hierdie gevoelige verhaal. Die leser sien ook sy ontwikkeling as jong man in die oorlog. Ook is daar 'n destruktiewe liefdesverhouding met Isak se niggie, wat pas uit die konsentrasiekamp gevlug het.

Die titel verwys na die bome van sy jeug wat sy verbeelding aangegryp het met hul geheimenisse.

Waarskynlik het daar baie poësie verlore gegaan met die vertaling deur Joan Tate, maar die leser bly deurgaans bewus van die primordiale krag van die vertelling en die simboliek van die gegewe.

Vie my is die eerste gedeelte van die roman die beste. Die beskrywing van die spanning tussen die mense en die jeugjare is baie goed hanteer. Daarna word die karakters as't ware voertuie  vir die ideologie van die outeur. Wat wel vermelding verdien, is die komplekse afhanklikheid van die karakters vanaf die jeugjare.

Tipies van hierdie soort roman is daar dan ook 'n sirkelgang in die vertelling te bespeur en daar word ook direk na Jung se argetipes verwys om die lees van die roman te vergemaklik.

Die roman het my geboei, ofskoon hierdie leser soms die gevoel had dat iets - waarop jy nie die vinger kon lê nie, in die vrtaling verlore geraak het. Maar daar is ook tonele wat 'n mens altyd sal bybly: soos die Nazi's wat 'n jong kind aanrand in 'n kroeg en Simon se uitsprake wat ontroerend is.

Dit is 'n mooi boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]