Wednesday, March 27, 2013

Karel Schoeman (Red.) - Witnesses to war (1999)



Karel Schoeman (Red.) Witnesses to warHuman & Rousseau, 1999. ISBN 978-0798138482.


Resensent: Joan Hambidge

Witnesses to war dra as sub-titel: Personal documents of the Anglo-Boer War (1899 - 1902) from the collections of the South African Library. Die samesteller is Karel Schoeman, een van ons voorste romansiers en historiese navorsers.

Telkemale publiseer Schoeman saam met 'n roman 'n stuk historiese navorsing. Hieruit kan 'n mens dan aflei dat hy vir die leser agtergrondsinligting wil gee vir die bestudering van sy eie fiktiewe tekste. Witnesses to war moet dus saamgelees word met sy jongste reeks romans.

Volgende jaar is dit die herdenking van die Anglo-Boereoorlog en nou onlangs was daar 'n kongres in Pretoria aangebied oor die kongres. Ons noem dit nie die Suid-Afrikaanse oorlog nie, sê Swart historici wat nie almal was daarby betrokke nie. Selfs oor die naamgewing gaan die vonke spat. En wie se oorlog was dit presies? En as daar 'n gender-analise gemaak word - soos Helen Bradford van die Departement Geskiedenis aan die UK gedoen het  - dan is daar ook nie eenstemmigheid nie.

Schoeman skryf in sy Voorwoord dat mense oorloë romantiseer. Hierdie oorlog was egter een verveling, frustrasie, futiliteit en fisiese ongemak, skeiding, destruksie, swak vervoer en kosvoorsiening, disenterie, blase, stof, modder, vlieë, luise - teen die konstante agtergrond van potensiële geweld en gevaar.

Dit is 'n fassinerende boek wat tydig op my lessenaar geland het. Dit bevat tersaaklike persoonlike kommentaar op 'n oorlog wat volgende jaar herdenk word. Antjie Krog het op Donderdag 22 Oktober (in 'n forum op Stellenbosch) 'n relevante vraag gevra oor ons historiografie: hoé is dit moontlik dat ons vir dertig jaar in hierdie land met blindheid geslaan was? En waarom is dit vir ons maklik om oor die Boereoorlog te kan praat en skryf? Is dit omdat die Afrikaner toe 'n held was?

Gewoon net die hewige reaksie op haar Country of my skull aktiveer 'n belangrike vergelyking tussen die Waarheids- en versoeningskommissie versus die dokumentasie rondom die Anglo-Boereoorlog, die term wat ek verkies.

Schoeman se Witnesses to war bevat hartverskeurende passasies. 'n Mens kan werklik nie ongeroerd staan teenoor die waarnemings en ervarings oor die onmenslike toestande van die konsentrasiekampe nie. Die beskrywing van moeder se totale magteloosheid ten aanskoue van haar kind se siekte, is werklik aangrypend. Ook wanneer die “lijkwagen” opdaag - en die ritueel vangesange sing - laat geen leser koud nie.  En niemand kan sê die buite-wêreld het nie geweet nie. Mevrou Jacoba Lorentz het in Switzerland etlike lesings gegee oor die kondisies in die kampe.

Die belangrikste effek van hierdie roman is dat dit onwillekeurig 'n mens dink aan al die verhale wat jy as kind oor die Boereoorlog gehoor het. Ma weet te vertelle van Ant' Breytie Breytenbach-hulle wat na die oorlog op hul plaas in Frankfort opdaag. Die Engelse het alles geplunder. Behalwe: langs die varkhok staan die boerpampoene dik gestoel van die pitte wat die varke uitgespoeg het.

Daar is vir my nie 'n meer gepaste metafoor as hierdie een vir die Boereoorlog nie.

Of die verhaal van die boereoom wat verflenterd opdaag na vele ontberinge in die oorlog, sy ou vrou vir die eerste keer sien na sy uit die konsentrasiekamp weg is en meteen besef: sý oorlog was absoluut niks in vergeleke met hare nie.

Of die mite dat die boere gesê het: moenie 'n Engelse generaal skiet nie. hy is ons beste vriend wat sy swak oordeel en bevele het die boere menige keer goed te staan gekom.

Schoeman se boek bevat vele wetenswaardighede. 26 370 wit vroue en kinders is dood in hierdie oorlog; en daar is meer swart mense dood as die 14 154 as wat die offisiële statistiek aangee.

Dit is werklik 'n boek wat 'n mens keer op keer tref. Soos die profetiese droom van die twaalfjarige Anna Kloppers (p. 161): in hierdie droom vertel die man vir haar dat God nie die klein volkie sal uitwis nie.

Of die beskrywing van die lykwaentjie wat die dooie kind moet kom haal en die ritueel van afskeid. Of die jong kinders wat in die kampe op die kiste slaap.

Die moderne historiografie is dan ook besonder geïnteresseerd in die orale oorlewing of persoonlike dokument wat dikwels 'n verrassende bydrae lewer tot 'n epogmakende insident.

Ook die foto-materiaal in hierdie studie verdien vermelding. Op bladsy 109 sien 'n mens duidelik hoe swartmense weliswaar deel gevorm het van die oorlog, uniform en al. Met hierdie publikasie word sodanige bydraes aan die vergetelheid ontruk. 


Ek het lanklaas 'n non-fiksie boek só geniet. In aansluiting by al die bekendste studies oor die Boereoorlog - waarvan Spies se Methods of barbarism vir my persoonlik die meeste beteken het - is hierdie dokumente-studie 'n moet alle belanghebbendes.

Die teks is uiters goed versorg en die Engels vloei goed. 'n Mens is werklik dankbaar vir Schoeman se ywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]