Tuesday, March 26, 2013

Philip Roth - The human stain (2000) [2]



Philip Roth. The human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [2]

Resensent: Joan Hambidge

Party romanskrywers het dit gewoon net. So een is Philip Roth. Met elke roman is hy meer aserbies, prikkelend, onderhoudend en vernuwend. The human stain ondersoek die debakel rondom 'n  vermeende klag van rassisme en die effek wat dit op die hoofkarakter se lewe het.

Coleman Silk se gebruik van die woord “spooks” (onwetend dat die afwesige studente wel swart is), het 'n funeste uitwerking op die kollege Athena. Natuurlik is Koning Oedipus van Sofokles 'n interteks en die impeachment-verhoor rondom Bill Clinton.

Nathan Zuckerman is weer die romanskrywer in hierdie metaroman wat vooroordeel en politieke korrektheid tot op die been oopsny. Op die koop toe begin die hoofkarakter 'n verhouding met 'n 'ongeletterde' vrou wat toe wel kan lees. Ook is Silk ('n klassikus) se antagonis 'n vroulike dosent.

Hier word heerlike steke uitgedeel na die moderne literatuurteorie en die groot geleerdheid. Die vroulike kollega se gebruik van e-pos ten einde 'n vendetta teen die protagonis te begin, is werklik verbluffend hanteer.

Nes jy dink jy het die “waarheid” beet, ondermyn die vertellende instansie dit. Dis 'n onderhoudende roman: by tye woedend oor die leuenagtigheid van die Amerikaanse gemeenskap wat so deur die “vicarious thrill” op ander se psiges ry, maar terselfdertyd 'n briljante gesprek met die akademiese roman vanaf Mary MacCarthy, David Lodge, Saul Bellow tot by J.M. Coetzee.

Philip Roth se jongste roman maak 'n analise van die moderne samelewing (en al sy ekstensies soos e-pos, selfone, Viagra) en hoe alles nog steeds deur ou waarhede gereguleer word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]