Monday, March 25, 2013

William Kowalski - Somewhere south of here (2001)



William Kowalski. Somewhere south of hereTransworld Publishers Ltd., 2001. ISBN 9780385602433.

Resensent: Joan Hambidge

Kort op die hakke van Eddie's bastard verskyn Kowalski se tweede roman: Somewhere South of Here en hoewel die kritiese vraagtekens waarskynlik gemaak sal word oor die blitsige opvolg, is die tweede roman net so 'n leesbaar.

Miskien het die roman 'n bietjie aan digtheid en tekstuur ingeboet, maar die styl en karaktertekening is goed dat die leser eenvoudig nie die roman kan neersit nie. Billy - wat indertyd op sy oupa se voorstoep geland het as 'n weggooi-kind - is in hierdie vertelling op soek na sy moeder. Hy vertrek op 'n motorfiets en Robert Pirsig se klassieke roman Zen and the art of motorcycle maintenance is kennelik 'n kortpad vir vele van die filosofiese opmerkings wat die karakter maak.

Ook word Sante Fe in Nieu Mexiko goed beskryf en deurgaans aandag gegee aan die kos- en milieu (wat die meeste van ons net via die Spur ken). Hy ontmoet vir Eliza en haar eksentrieke dogter, Consuelo, 'n sangeres.

Natuurlik is Eliza sy verlore moeder, en ja, hy raak verlief op Consuelo. Al die krisisse word opgelos, maar nie sonder 'n skeut pyn en teleurstelling nie. Van die puikste tonele is ook die beskrywings van karakters in die sirkus waarmee die verteller vir ons Billy se outsiderskap wil beklemtoon.

Soos in die tipiese “quest”-roman is die karakter uiteindelik wyser (met alles wat dit behels) en hierom is die slot enigsins navrant:

“That night, I dreamed.
I was riding my bike along a desert highway, the wind blowing my hair out behind me - it had never been cut at all. The sun loomed before me on the horizon, as huge as though it was only a few miles away, but its heat didn't burn. As I sped along the road I felt the wheels gently lift from the cement of the highway, and the ground slowly dropped away; the I was free of the bike...”

Dan sien hy ook homself wat transformeer. Hy word 'n “bird creature, an eagle man” waarmee die skrywer dan die volledige proses van heelwording voltrek in sy karakter. In die tarot staan daar 'n arend voor die Heerser om sy gesag te beklemtoon. Die reis, werklik en spiritueel, is vir Billy voltrek. “...and I knew that I was home again, that I had come to rest while moving, that motion was rest, and that most of all it was good”(p. 291).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]