Tuesday, March 12, 2013

William Kowalski - Eddie's bastard (1999)



William Kowalski. Eddie's bastard. Black Swan, 1999. ISBN 0 552 99859 1.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die debuutroman van William Kowalski. Eddie's bastard ondersoek die betekenis en funksie van die familie en hoe die dood van 'n erfgenaam 'n familie kan beïnvloed. Billy word gelaat op die stoep van Thomas Mann se huis. Thomas Mann se seun is dood in die Vietnamoorlog, presies drie maande tevore, en nou het hy 'n kleinkind en erfgenaam.

Die roman is baie vlot geskryf. Dit begin met 'n herinnering uit die jong kind se perspektief. Hier is ook sprake van 'n soort magiese realisme en die tradisie van die suidelike roman word hier geaktiveer: spoke wat in huise ronddwaal, die oupa wat aan die kind die familiegeskiedenis oor en oor vertel, insinuasies van bloedskande en 'n gestorwe vader wat 'n ogie hou oor die aangenome kind.

Elke roman word ook aangekondig - soos in die negentiende eeuse ouktoriale roman - met 'n opsomming van die gebeure in die bepaalde hoofstuk. Die tegniek impliseer dan dat daar 'n instansie is wat die narratief orden.

Die effek van hierdie soort tegniek is natuurlik ook dat die leser deurentyd bewus bly van die feit dat daar 'n fiksionele vertelling voor jou afspeel. Hierom is dit dan makliker om onmoontlike situasies of die bonatuurlike te laat inspeel. Alles is immers toelaatbaar binne die grense van die romanvertelling.

Die kind kan sy afgestorwe vader sien en spoke uit die verlede bewoon die huis. Soos sy Grandpa voor hom, sal die seun ook die nuwe geslag deur die huis neem. "My life has been made of stories from beginning to end, and just when it seems one is ending, a new one begins. The world itself is woven of stories, each man and woman and child of us threading our own brightly colored tale into the bigger story that was already being told as we were born, and that will continue to be woven by others long after our threads have run out"(p. 479).

Wanneer die jong kind ontdek dat hy kan skryf, maak alles om hom sin. So kan hy die bloedskendige verhouding van 'n vriendin verwerk en die gemeenskap se vooroordele. Ook sy verhouding met sy oupa word deurgaans beskryf as die belangrikste relasie van sy lewe.

Daar is uitmuntende passasies in hierdie boek: soos die geboorte van 'n baba wat die jong kind sien; die beskrywing van 'n meisie se ambivalente gevoelens jeens die vader wat haar seksueel molesteer; die weergawe van die geskiedenis van 'n familie. Ook die beskrywings van Montreal is pakkend en die invloed wat 'n vreemde stad op 'n mens het.

Ook die werklike ouerskap wat teenoor die kind se fantasie staan, word onthul op 'n manier kenmerkend aan die belydenisroman: die brief van die ontslape digter los uiteindelik die geheim op. Op die koop toe word 'n ander familieskelet uitgehaal wat verduidelik wat die norse verhouding met die Simpsons verklaar.

Hierom die oupa se vrees dat hy sou verlief raak op Annie.

Die roman sluit ook aan by die Ierse romantradisie, omdat die Iers-Amerikaanse geskiedenis betrek word. Die Ierse musikante aan die einde van die verhaal is miskien 'n bietjie opgeplak.

Die roman moes ek lees ten tyde van 'n besige program, maar telkemale het ek teruggekeer na die vertelling. Dis 'n roman wat vir bietjies lees waarskynlik die beste werk. Juis omdat die gegewe so ryk is en daar is vinjette wat lank na die lees bly draai in die gemoed.

Dis Billie se verhaal. 'n Belydenisteks en die einde dui weer op 'n nuwe begin of sirkel wat voltooi moet word.

Dit is 'n lekkerlees roman en een wat nogmaals bevestig dat onder draai die duiwels rond in die ou streng gemeenskappe! 

En vir 'n debuutroman moet 'n mens die hoed afhaal vir die skrywer. Dit vergelyk goed met William Styron se Sophie's choice wat die insig in die menslike psige betref.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]