Saturday, March 23, 2013

G.A. Watermeyer (e.a.) - In Kringe. ’n Verhaal in drie stemme (1999)



G.A. Watermeyer (e.a.). In Kringe. ’n Verhaal in drie stemme. J.P. van der Walt, 1999. ISBN 0799326852.

Resensent: Joan Hambidge
 
In 1956 verskyn G.A. Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die vuurpyle vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die lewe verskyn.

Die verhaal is oerbekend: 'n man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus 'n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.

Die waarde van die novelle lê in die vermoë om subteks te hanteer. Onder meer in die kernpassasie wanneer die hings getem word en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies.

'n Mens lees soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat 'n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers Watermeyer en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle Marais tot Myrna en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.

Puritiste sal waarskynlik die piep kry, maar dit is tog 'n interessante literêre eksperiment. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag te kan volhou, moet maar self besluit word.

Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om te analiseer vanuit 'n psigoanalitiese perspektief) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. 'n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met 'n ongeskonde oog kan lees nie.

Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal 'n dagboek. Hierdie intieme belydenistegniek is by uitenemendheid geskik om al die intieme détails aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar het die volgende passasie maar by ons verbygegaan: “Toe A se hande onder haar atletiekhempie ingly en dit hoër op begin skuif, lig haar arms amper asof vanself om hom te help om dit oor haar kop te trek. Toe onthou sy, soos uit 'n ver verlede, hoe syagtig vel op vel kan voel, en sy help hom met ongedurige hande om van die res van hulle klere ontslae te raak. Sy trek hom oor haar, nie om te neem nie, maar om hom sy begeerde wens te gee, om hulle teen mekaar te voel, van voetsool na kuit, van dy na heup, van maag na bors, van biseps na handpalm en eindelik van wang na mond, na verkennende tong daarbinne.”

En nou vir die mooiste gedeelte: “Sy lê met haar arms na die kante toe uitgestrek en hy soos 'n gekruisigde oor haar met sy vingers in hare verstrengel. Toe lig hy hom op sodat hy haar kan oopmaak en sy hongerte in haar kan stoot. En haar hongerte word sy vervulling en sy hongerte haar vervulling.”

Na ons klaar gelag het, het Myrna egter weer 'n ervaring met haar eggenoot. Dit - en hierdie leser kan nie wonder wat Watermeyer sou dink nie - word 'n groteske verkragtingstoneel.

Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit 'n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die oedipale struktuur(die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by 'n jong student. Sy, op haar beurt is weer verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees.

Die bloedskendige word hier geaktiveer en volgens Freud is dit onderliggend aan die sogenaamde “familie romanse” wat gebaseer is op Sofokles se Koning Oedipus.

Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel en in  sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser(en hierdie een veral) met 'n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie asseblief 'n embargo op die woord bruusk plaas nie? Om nie te praat van honger nie!

En seks word hier in terme van 'n treinrit beskryf! 'n Trein sonder remme teen 'n duiselingwekkende spoed en die man wat veronderstel is om die drywer te wees(p. 23).

En die sogenaamde suspension of disbelief word so ver gevoer (Jacques was by toe Douw verongeluk het?)dat die leser se geduld net te ver beproef word.

Dit is jammer om 'n vertelling met soveel moontlikhede te sien verongeluk. 'n Beter redakteur kon beslis meer gemaak het van In kringe. En 'n uitlegfout soos op bladsy 238 is ook onaanvaarbaar. Boeke is tans duur. So versorg dit goed.

Daar word verwys na die “slordige intrige”(p. 246) en dit word ironies ook van toepassing op die verhaal as sodanig. Die einde? Om die kring te breek?

Aan die positiewe kant: 'n student wat wil navorsing doen vir 'n postmodernistiese projek kan al die aanhangels(supplements) bestudeer. En miskien sig afvra of die eerste verhaal nie al die implikasies reeds dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan eweens die taalgebruik nagaan en die leë metaforiek van liefdesverhale.

Hennie Aucamp se “Vir vier stemme” is die model vir 'n  perspektiefwissellende vertelling. Die aanhaling uit John Irving se Trying to save Piggy Sneed moes miskien meer letterlik opgeneem wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]