Monday, March 25, 2013

H.P. van Coller (Red.) - Perspektief & Profiel: Band I (1999)



H.P. van Coller (Red.) - Perspektief & Profiel: Band I. J. L. van Schaik 1999. ISBN 0 627 02346 0.

Resensent: Joan Hambidge

Perspektief & Profiel - 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis is uiteindelik met ons! Deel I is 'n dikke kluif van 'n boek, eintlik kompendium wat die leser neem op 'n reis deur die Afrikaanse letterkunde.

Daar is baie stories oor die ontstaan van hierdie boek. Dreigemente oor laat-kommers en laat bydraes. Selfs 'n prokureursbrief het glo die ronde gedoen. En dis waarskynlik juis die feit dat sommige bydraes vroeër as ander geskryf is, wat die boek ongelyk in aanbod maak.

Byvoorbeeld Karen  de Wet skryf 'n opvolg by Charles Malan. Hierdie skrywer fokus op die oeuvre, 'n ander kyk na die bydrae. Die een is poststrukturalisties; die ander outyds teksgerig. Die een literator skryf nie sonder om 'n hele resepsie van ander by te bring nie, wyl iemand soos Henning Snyman net op homself aangewese is.

'n Who's who van die Afrikaanse letterkunde dus, maar waar is De Lange byvoorbeeld? 'n Mens sou kon fieterfot tot die koeie stal toe loop, maar miskien is dit noodsaaklik om eerder te skryf dat hierdie studie waarskynlik aan die einde van die millennium wys dat daar verskillende metodes gedy binne die bedryf en dat verskillende strominge neffens mekaar bestaan.

Hierom maak die literatuurgeskiedenis die indruk van 'n potpourri. Anders as J.C. Kannemeyer se literatuurgeskiedenis waar een stem alles aanbied of die latere pogings van Cloete, Smuts en Botha, is hier verskillende metodes en bydraers gevra.

Die gevolg is 'n studie wat ongelyk is, maar een waarna die student gestuur kan word met 'n opdrag van hoe vergelyk verskillende bydraes? Watter implisiete ideologie is hier af te lese? Is die kritikus objektief?

Hoeveel resente teorie is bygewerk? Is die stuk 'n bydrae of praat dit gewoon net die voorafagaande publikasies na?

Daar kon ook kommentaar gelewer word op die hoeveelheid vroue wat binne die Afrikaanse letterkunde werksaam is. Die androsentriese letterkunde het dus plek gemaak vir die vrouestem. Maar hoeveel van hierdie skryfsters dink soos vroue of is gewoon net verlengstukke van die manlike denke?

By Lina Spies is daar onder meer 'n vroulike gevoeligheid te bespeur wanneer sy oor Elisabeth Eybers skryf, maar kan dieselfde geskryf word van Marisa Keuris wat meer wetenskaplik-neutraal is? 

Perspektief & Profiel wys eintlik 'n interessante probleem van die literatuurgeskiedskrywing binne 'n postmoderne tydvak (aan die einde van 'n millennium) uit: teenstrydige, disparate en selfrefleksiewe bydraes teenoor die outydse momument-agtige kanonisering sonder enige bevraagtekening.

Maar selfs in 'n kompendium soos hierdie is daar ook implisiete kanonisering aanwesing. Wie het besluit wie die geskiedenis sal haal? En wie het besluit wie sal 'n kommentaar oor die skrywer lewer?

As Van Wyk Louw geskryf het dat die klou alreeds die dier aandui, kan 'n mens skryf dat die literator alreeds die gehalte bepaal. As 'n jong literator oor 'n groot skrywer 'n bydrae lewer, dra dit beslis nie dieselfde gewig as wanneer 'n ouer literator hieroor skryf nie.

By die lees van Perspektief & Profiel het Kees Konyn se wonderlike artikel “Herkouers” weer tersaaklik geraak. Hoé literatore in wese napraters van mekaar is. Kees Konyn skryf:”Ek sien hulle daar rustig lê in die weikampies van Stellenbosch en Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein, van Johannesburg en Pietermaritzburg, die vreedsame herkouers, met hul groot onskuldige oë, hul gladgelekte lywe, hul breë, pap bekke wat onafgebroke in beweging is, wat sonder ophou Prinsen en Rijpma en Van Leeuwn en Rispens en De Vooys en Donker deurmekaar maal tot 'n vormlose, geelgroen prut”(p. 59).

'n Mens kan hierdie kragtige uitspraak aanpas met 'n die herkou van die poststrukturalisme en postmodernisme; die resepsie-estetika en ideologiekritiek. 'n Vormlose geelgroen prut darem nou nie heeltemal nie, maar beslis 'n kompendium van min opwinding.

Die waarde van die studie lê in die verslag van verskillende leesmetodes. Vir diegene wat hou van één deurlopende Kannemeyer-stem met dieselfde kriteria van oordeel en vooroordeel, sal Perspektief & Profiel 'n koorsang met welluidende en skitterende (en hier daar 'n vals noot) stemme vind. Miskien omdat die dirigent bloot samesteller was en gesukkel het om almal betyds by die repetisies te kry.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]