Monday, March 11, 2013

Fanie Olivier (Samest.) - Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (2001)



Fanie Olivier (Samest.). Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau,  2001. ISBN 0 7981 41301.

Resensent: Joan Hambidge

Die liefde, soos die donkie, is 'n wonderlike ding! Fanie Olivier se versameling Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte beleef nou sy derde, uitgebreide uitgawe. Nog steeds sonder 'n inleiding wat die leser tog sou wou sien by so 'n bloemlesing.

Want daar is redes vir die struktuur van die liefdesgedig: soos dat die sonnette van Petrarca sentreer rondom die oktaaf en sekstet wat 'n voorstelling word van Petrarca se verlangende kondisie. In die oktaaf droom hy nog oor Laura; in die sekstet word die harde werklikheid waar dat sy afwesig is.

Miskien het Petrarca sy Laura liefgehad, selfs ontdek ten einde poësie te kan skryf, aldus die psigoanalis Norman O. Brown. En Shakespeare se liefdesverse lyk weer anders. En by Neruda vind ons daardie nostalgiese verlange na die geliefde Mathilda. Ook is daar verse waarin die liefde vir haar besing word.

Liefdesverse is gewild en ná die film Il postino het die CD met Neruda se liefdesverse goed verkoop. En ons kan aflei uit hierdie "derde keur" met sy rooi roos ("Oh my love is like a red, red rose") dat die liefdesvers in Afrikaans ook gewild is.

Maar dit is 'n moeilike gedig om te skryf en nie verniet nie het die grote Opperman sy jong studente gemaan om oor iets anders as die liefde te dig. Ons het lieflike klassieke in Afrikaans soos G.A. Watermeyer se "Ballade op die dronkparty":

Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.

Dit is altyd 'n samesteller se goeie reg om te besluit wat vir hom of haar die "mooiste" of "beste" is. Tog raak enige kritiese leser ongeduldig as 'n mens verneem 'n bloemlesing is sommer oor 'n naweek saamgeklap. Die leser soek representasie, immers "die beste" van daardie digter. In hierdie opsig is De Lange & Krog se Die dye trek die dye aan 'n gebalanseerde en gemotiveerde verslag van erotiek en seks wat goed aangevul word deur Olivier se liefdesversameling.

Breytenbach en Van Wyk Louw se liefdesverse verryk hierdie versameling. Een van die winste van hierdie versameling is dat Olivier ook verse opneem van onbekender digters soos Everwyn Wessels of De Waal Venter.

'n Mens wonder waarom word daar verwys na Henning Pieterse in plaas van H.J. Pieterse en ook waarom daar nie uit die jongste bundel liefdesverse byvoorbeeld "Artisjok" gekies is nie?

In bykans elke gedig is daar 'n reël of waarheid oor die liefde. Is dit waar dat die meeste liefdesverse oor die landskap van verlies handel en dat dit in wese 'n vers van die eensaamheid is? Dat dit gaan om die winterherberg van verlies?

Later kry ek in my bed
'n haarpatroon, 'n geur;
relieke
van 'n liefdestyd.

Hierteenoor is die verse in die genoemde erotiek-bundel guitiger, speelser, jagser en waarskynlik meer afgestem op die vervlietende oomblik. Waarskynlik is daar in die liefdesvers sprake van verlies omdat die impak van die liefde dikwels eers na die afgelope liefdeservaring beskryf kan word.

Dit is ook opvallend dat jonger digters meer ironies dig (ek dink hier aan Marietjie Joubert se "Anatomie-les vir verliefde digters") en ander digters ook betrek soos Antjie Krog in die pragtige "My tyd is verby" wat inspeel op Neruda:

my tyd om surrealisties lief te hê is verby
met rose en duiwe ekstatiese tronke
liriese odes verander eventueel in huislike rymskemas

Ook in die liefdesvers word die politieke metafoor dikwels aangewend sodat die liriese liefdesgedig ook verslag lewer op die politieke of sosiale toestande van die tyd.

"en liefde, die sagte, gevoelige slang", waarsku 'n digter tereg!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]