Sunday, March 24, 2013

Harry Kalmer - Kniediep (1998)



Harry Kalmer: Kniediep. Human & Rousseau, 1998. ISBN: 0 7981 3843 2.

Resensent: Joan Hambidge

Dit was Umberto Eco, die Italiaanse teoretikus en skrywer van die roman The name of the rose, wat by geleentheid geskryf het oor die liefde: ek het jou lief; soos in 'n Barbara Cartland-roman. By die lees van Harry Kalmer se Kniediep dink hierdie leser: ek skryf 'n spanningsverhaal; soos Leonard.

'n Gewone spanningsverhaal - wel gewoon wat die plot betref - word die hele tyd ondermyn deur 'n siniese outeurstem wat die kodes van hierdie soort verhaal bevraagteken. Dit word dan 'n skrynende verhaal, want gewoonlik is die helde in spanningsverhale - dink maar aan James Bond - karakters sonder emosies. Altyd slaggereed vir 'n nuwe avontuur.

Doelbewus word daar gestruikel en in dieselfde asem verwys na James Bond! Ook is Strijdom Benade', 'n suksesvolle sakeman, 'n man met 'n vader-konflik. Hy is op soek na die moordenaar van Tash, die dogter wat hy help grootmaak het.

Sy broer heet Malan en die beskrywing van sy begrafnis is waarskynlik een van die mees skrynende stuk vertellings in hierdie roman wat 'n blik gee op dwelsmsmokkelary, korrupsie, die betekenis van familie. Bloedbande is vir baie mense ontoereikende bande - lees byvoorbeeld die vader se reaksie op sy seun se begrafnis; ook weier hierdie vader om sy seun te help om sy boete te betaal wanneer hy gearresteer word met 'n dronkbestuur-klag.

Waarskynlik hierom is die self-geskepte familie so belangrik vir Strijdom, 'n man wat nie emosioneel opgewasse is vir dit wat op hom wag nie: onder meer moet hy (saam met sy vader) sy broer in 'n bordeel uitken; hy word teen mespunt van sy Rolex beroof. En nog veel ander ervarings wat die leser sal meemaak.

Vir my is een van die sterk kwaliteite van hierdie vertellinge dat dit ook 'n blik gee op die emosionele geweld wat Afrikaanse kinders moes deurmaak in die apartheidskole. Kalmer se beskrywings - enigsins 'n terloopse opmerking of beskrywing - maak dan van hierdie roman ook 'n belangrike tydsdokument. 'n Mens kan sien hoe 'n nuwe geslag terugkyk op daardie ervarings wat vandag bykans 'n stuk absurde teater word in sy obsessie met rassisme, volkswaarhede, en dies meer.

Die ek-karakter is boonop HIV-positief; ook word sy komputer deur 'n virus bedreig. Hierdie metafoor is waarskynlik tersaaklik; betekenis word ondermyn. Daar is geen vastigheid of (betekenis)sekerheid nie. Dit noop 'n mens om ook weer te kyk na Susan Sontag se Aids and its metaphors en in welke mate Vigs ook al op 'n taalvlak binnegedring het.

Dit is dan 'n spanningsverhaal wat meer word as 'n blote spanningsverhaal. Die kodes van hierdie vertelling word ondermyn, opgeblaas en bloot-gestel sodat 'n mens op twee vlakke die verhaal meemaak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]