Tuesday, March 26, 2013

Peter Wilhelm - The bayonet field (2000)



Peter Wilhelm. The bayonet field. Ad Donker, 2000. ISBN 0 86852 220 1.

Resensent: Joan Hambidge

Van die oomblik wat jy hierdie versameling verhale, novellas en vertellinge begin lees, word jy in die maag getref. Dit is vertellinge wat die donker kant van die menslike psige teken. Hoe mense nie in wese kan ontsnap van pynlike ervarings, die verlede of verspeelde kanse nie.

Of dit 'n student is uit 'n arm gesin wat betrokke raak by 'n ryker meisie, of 'n vrou wat besmet is deur 'n grensvegter, die volledige skaal van emosionele pyn en ontsetting word hier ten toon gestel.

In die openingsverhaal “LM” word 'n man se mislukte verhoudingsgeskiedenis gesinkopeer met die politieke veranderinge in Mocambique. Ons, die leser, begryp waarom hy is wie hy is: die dood van 'n baba; die uitkenning van 'n vriend in 'n lykshuis, desperate seks met sy hospita word so goed vertel teen die agtergrond van die politieke oorname in hierdie land.

Die geskiedenis en geografie van Mapoto word goed weergegee. Ook die besoek aan die Polana hotel. Ook word waansin goed uitgebeeld in “Pyro Protram”, 'n vertelling wat die leser fnuik, omdat die fokalisator jou laat glo aan die man - totdat jy besef waarmee jy te make het.

Ook lyding van die grensvegter of struggle-prsoon word goed uitgebeeld. Peter Wilhelm trek nie terug nie. Hy vertel alles. ‘n Beswaar van ‘n leser sou waarskynlik kon wees dat die verhale op die duur so uitsigloos raak dat die die leser se sinne effe verlam raak onder die aanslag. Maar dit net tersyde.

Iewers merk 'n karakter op in “At the end of the war” dat oorlog nie gebeur soos wat mense dink nie. Dit is deur skrywers mooier en voorgestel....

In “Space invaders” word daar verwys na N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die bose”:

O waar sal jy gaan
En met watter skip?
Die aarde is branding
en oral is klip...

Dit staan in 'n verhaal wat die buitenissige aanspreek en wat 'n meer positiewe blik (probeer) gee. Soos “Elsewhere in  Africa.”

Vir my persoonlik was dit ‘n leeservaring wat geboei en gesteur het. Daar is geen nostalgie of romantiek by sy vertellers of fokalisators aanwesig nie. Hulle is in die algemeen teleurgestelde mense. Ontnugter met die politiek, met die private leefwêreld en die “condition humaine” in die algemeen.

Tereg heet ‘n vertelling “At the edge”.

'n Koerantbespreking kan nie reg laat geskied aan hierdie pakkende bundel nie. Dit is goed dat hulle in hierdie een versameling bymekaar gebring word. Peter Wilhelm se talent is soos vlymskerp bajonet.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]