Thursday, March 14, 2013

Studie: Die gesprek met die vader(s). Die Orpheus-mite in die digkuns van Johann de Lange

George de Forest Brush - Orpheus (1890)


“Transference is the repetition of infantile prototype relations, of unconscious desires in the analytic relation. Without transference, psychoanalysis is simply literary criticism, by an unimplicated, discriminating reader, lacking either affect or effect.” Jane Gallop in The daughter’s seduction (73).

I.

Johann de Lange se digkuns aktiveer ‘n spanning tussen maskuliniteite en psigoanalise. Jane Gallop wys in haar studie, The daughter’s seduction, op die opposisie tussen feminisme en psigoanalise, 'n model wat toegepas kan word op die werk van De Lange. Die afwesige vader is die teken in die onbewuste van De Lange wat die verhouding tot die geliefde en die Umwelt bepaal. Hierom die soeke na verplaasde vaderfigure in ander digters soos Van Wyk Louw, Ernst van Heerden, Thom Gunn, ensomeer. (Die moeder se versaking vind ons eweneens in die verhouding tot vrouedigters soos Sheila Cussons, Wilma Stockenström en Ina Rousseau.)

Die gay-seun ervaar dieselfde pyn en verwerping as die jong dogter wat deur haar eerste liefdesobjek, die vader, versaak word. Hieroor het Freud uitgebreid geskryf in die Dora-saak. By De Lange is die “closed circle” van die gesin verbreek en die Lacaniaanse “insistence of the letter in the unconscious” word tematies herhaal in die ervaring van melancholie, eindigheid én besef van die breekbaarheid van alles. De Lange skryf uitgebreid oor sy verhouding met sy ouers in Vreemder as fiksie.

Die konstruksie van die self in Lacaniaanse terme is kultuur-gebonde en die gay-seun wat opgroei in 'n sterk patriargale gemeenskap word dus verwerp deur die maskuliene gemeenskap. In ‘n bundel soos Nagsweet word daar freneties ge-cruise in 'n soektog na die verlore vader, die vader wat die kind versaak het deur die dood. Die heteroseksuele seun se Oedipale opstand teen die Laius-vader is hier egter verplaas na 'n vermanliking van die Orpheus-mite. Orpheus soek na 'n man wat 'n betekenaar is vir die vader. Alleen in die dood en deur die skryf van die gedig kan die pynlike en immer-durende afwesigheid van die vader ópgehef word. Die gedig is in psigoanalitiese terme sowel suture as byvoegsel om hierdie leegheid óp te hef.  
“One cannot kill the Father who is already dead,” argumenteer Gallop in navolging van Juliet Mitchell se siening van die komplekse verhouding tussen feminisme en Freud (1982, 14). Oedipus-De Lange kan nie die vader-Laius verslaan nie: die vader het hóm deur sy voortydige dood as kind versaak en hierom moet daar ‘n nuwe mite gevind word om die vader te besweer.

II.

Feministiese teoretici fokus dikwels op die raaisels van die sfinks, oftewel, die vreesaanjaende figurant wat Oedipus moet oorwin ten einde die stad binne te gaan.  [1] By De Lange vind ons die mite van Orpheus, met ander woorde, die domein van die sfinks, wat in Freudiaanse terme die “unheimliche” representeer,  word “vertaal”  as Orpheus wat na die onderwêreld moet vertrek. Oedipus los die raaisel op (oor die aard van die mens). In party weergawes verslaan hy die sfinks; in ander pleeg die sfinks selfmoord. Dan betree Oedipus, nadat hy reeds sy vader per ongeluk doodgemaak het, die domein van die bloedskendige wanneer hy met sy moeder Jokaste gemeenskap het. Orpheus se onvermoë om sy geliefde se dood te aanvaar, laat hom na die onderwêreld gaan. Waar Oedipus onwetend bloedskande pleeg, word Orpheus direk beveel om nie terug te kyk nie. Hy oortree en verloor die geliefde dan verewig. Beide mites fungeer dus rondom oortreding én betreding.

Die volgende gedigte gaan vervolgens bespreek word:

“Sonnet aan Orpheus” (Wordende naak)
“Orpheus langs die swembad” (Nagsweet)
“Orpheus dismembered” (Nagsweet)
“Orpheus in die middestad” (Nagsweet)

De Lange problematiseer die manlike of falliese diskoers. Hy gebruik die verhaal van Orpheus wat sy vrou Eurydike verloor het nadat ‘n slang haar gepik het. Orpheus vertrek dan na die Onderwêreld (Tainaron) om na die geliefde te soek. Hier tref hy Hades en Persephone aan, wat geraak is deur sy ellende en verlies. Hy vind dan vir Eurydike en hulle mag vertrek na die Bo-Wêreld op voorwaarde dat hulle nie sal terugkyk nie. Wanneer hulle egter na bó beweeg, sien hy 'n voël wat vlieg en in verrukking kyk hy terug. En dan, weens sy oortreding van die reël, gly sy terug in die ryk of domein van die dooies. [2]

Veral twee Franse psigoanaliste werk met die Orpheus-mite, te wete Maurice Blanchot en Jacques Lacan. In Blanchot se beroemde The gaze of Orpheus: and other literary essays word die mite van Orpheus gebruik om kreatiwiteit of die skryfproses te sien as ‘n kompensasie vir verlies. Orpheus se sang simboliseer dus die digterlike vertolking van afskeid en verlies, ‘n deurlopende tema in die werk van De Lange. Vir Blanchot is die dubbelvlakkigheid relevant: die spanning tussen lewe en dood.

Blanchot sien die “ek” alreeds as 'n konstruksie van die dood. Orpheus se ambivalensie is ooglopend: hy behoort tot die orde van sowel die lewe as die dood, net soos die cruiser in De Lange se gedigte telkens beweeg tussen die wêreld van die alledaagse én die transgressiewe. Deur die besoek aan die onderwêreld, stel die spreker homself bloot aan die dood: gevare soos aanranding of Vigs kan hom na die onderwêreld verban en waarskynlik is daar 'n onbewuste begeerte om in die dood één te word met die vader.

Die Lacaniaanse lesing van die Orpheus-mite is dubbelsinnig, te wete ‘n wêreld van die lewe en die dood. Veral in die sogenaamde spieëlfase vind ons alreeds die dubbelkantigheid: die kind ervaar skeiding van die moeder en sodoende word hy deurgaans bewus van sy on-afheid of gebrokenheid. Slegs in die spieël ervaar hy heel-heid of een-heid. [3]

III.

Gallop, Blanchot en Lacan verskaf belangrike teorieë vir die interpretasie van die verhouding tussen digter én teks. Gallop se studie wys op die belangrike hiate, veral in die Freudiaanse psigoanalise met betrekking tot die verhouding tussen dogter en vader. Blanchot se studie aktiveer 'n bykans romantiese benadering tot die kuns, met ander woorde, die gedig oorkom die dood of afwesigheid, terwyl Lacan se siening van Orpheus gelyk gestel kan word aan begeerte (“yearning”, desire”).

Veral Gallop is tersaaklik vir die lees van De Lange se Orpheus-gedigte: sy gedigte is 'n her-inskripsie van ‘n vader-teks, soos sy vertaling van Rilke se “Sonnet aan Orpheus”. Hierdeur maak die digter homself sigbaar en hoorbaar. Veral binne 'n eng en dikwels homofobiese leesgemeenskap vind die digter ‘n ruimte om uiting te gee aan sy pyn. Die psigoanalitiese teorie oor vroue kan ook op gays van toepassing gemaak word: “The seduction which the father of psychoanalysis exercises refuses her his body, his penis, and asks her to embrace his law, his indifference, his phallic uprightness.” (75) De Lange se homoseksuele liggaam staan dus nie in disrespek tot die vader nie, maar speel dus die verlange na die vader uit. Soos wat Orpheus tydelik met Eurydike versoen word, hef die gedig die pyn of verlange op.


IV.

Sonnet aan Orpheus
Rainer Maria Rilke

Spierblom wat die anemoon
met die veldlumier sloom
open tot die lig polifoon
luid die moer instroom,

in die blom-ster stil gespan,
spier wat eindeloos ontvang,
dikwels so volkome oorbeman
dat selfs die sonsondergang

skaars die oopgespreide blom-
blaarrande toe laat gaan:
jy, van soveel wêrelde besluit en som!

Ons geweldenaars, ons hou langer.
Maar wanneer, in watter soort bestaan,
is elk oplaas oop, en ontvanger?

Binne die De Lange-oeuvre word hierdie vertaling getransponeer binne die wêreld van die gay-belewenis. Die teks word “polifoon” of meerduidig. Dit is nie meer ’n natuurvers nie, maar word binne die konteks van die De Lange-oeuvre ‘n gedig waarin die homoseksuele belewenis vóóropstaan. Die “spier wat eindeloos ontvang” verwys na die rektum. “Oorbeman” aktiveer die cruising-idee in die oeuvre wat in Nagsweet eksplisiet ondersoek word. Die geweld-motief aktiveer eweneens die gay-onderwêreld wat hier na vore kom.

Orpheus langs die swembad
vir Willie

soos 'n standbeeld
die soort skoonheid
wat hoort in ‘n museum

stil
asof jy pas     
ophou adem het –

jou ore
het met die jare
toegegroei

jou arms
afgebreek
en soek geraak

en waar jou hart was
in jou ribbekas
is nou net marmer

koud en naak

In hierdie gedig word die rolle tussen Orpheus en Eurydike ómgekeer. Die objek van begeerte is soos ׳n standbeeld wat hoort in ‘n museum. Die geliefde hoor nie die spreker nie; is eweneens in onmag om gevoelens te vertolk of behoeftes te bevredig. Ook die hart, die digterlike simbool van die liefde, is (soos) marmer: koud en naak. Die geliefde representeer egter die vader se kilheid jeens die seun. Elke mislukte verhouding heraktiveer hierdie pynlike verlies.

Orpheus dismembered

En as jy gaan, as alles
tot stilstand kom:
wat word dan van my?
Sonder jou
harde borskas,
jou steil rug,
die wit sneeu
op jou arms,
jou boude wat vuismaak
as jy loop,
jou groen oë –
hoe hou ek dit?
En jou heupe, tuin
van dorings en rose:
hoe vind ek ooit weer
my pad daaruit terug?
Hoe sprokkel ek
jou weer bymekaar,
hoe breek ek
die leuenspreuk
van jou lag?

Nog meer pynlik is die gedig “Orpheus dismembered”: as alles verby is, word die Orpheus-figuur soos Osiris in stukke opgebreek. Die geliefde vra homself af hoe sal hy die ervarings en indrukke behou. Tog was die liefde alreeds ׳n ruimte van ambivalensie (“tuin / van dorings en rose:”) en uiteindelik is dit onmoontlik om alles saam te snoer. Reeds ten tyde van die verhouding is die afskeid aanwesig: die leuenspreuk (metafoor) van die lag.  Die spreker beleef dus in die kortstondige ervaring alreeds die einde met die wete dat dit 'n gedig sal word.

Orpheus in die middestad

Ek het hom leer ken
deur 'n ou loergat
tussen twee toilette
een smoormiddag
in die middestad,
lippe teen die hout
hom afgesuig,
op my tong sy jeug-
dige sout geproe,
gefokus op sy genot
die wit en onbesmette
stringe uitgejuig:
my naakte maal,
my onbekende
openbare fees.

In die laaste gedig is daar ׳n kortstondige oomblik van jouissance: die geliefde is ‘n  “naakte maal”, ‘n “onbekende / openbare fees”. Dit is egter alles kortstondig en die spreker beweeg terug in die ruimte van tydelike een-heid met die vader vóór die versaking. Ook dubbelringe, nes polifoon vra om ׳n dieper lesing van die teks.

V.

En as teensang van Emily Dickinson:


The Soul selects her own Society

The Soul selects her own Society –
Then – shuts the Door –
To her divine Majority –
Present no more –

Unmoved – she notes the Chariots – pausing –
At her low Gate –
Unmoved – an Emperor be kneeling
Upon her Mat –

I've known her – from an ample nation –
Choose One –
Then – close the Valves of her attention –
Like Stone –

Camille Paglia behandel hierdie gedig as een haar 43 klassieke gedigte in die Engelse digkuns. Break, blow, burn betrek hierdie bekende gedig van Dickinson. Hierdie gedig aktiveer eweneens ‘n spanning tussen lewe en dood (die “Chariots” wat haar sal vervoer), maar die gedig is in ‘n ánder toonaard geskryf as De Lange se Orpheus-verse.

Sy sluit haar af van die lewe en die liefde. By De Lange is die geliefde ‘n standbeeld; in die Dickinson-gedig word die siel soos steen.

Sy is reeds dood soos Eurydike.

VII.

Onderliggend aan die Orpheus-mite is die verhouding met die vader.

Johann de Lange se volgehoue gesprek met die biologiese figuur wat hy bloot aanspreek as “Pa”  nie vader nie, aktiveer ‘n verdere dimensie van die identiteit van die digterpersona. Die Freudiaanse proses van oedipalisasie of selfidentiteit word kompleks op sy kop gekeer, omdat die kind (De Lange) die vader word van sy biologiese vader. Die vergifnis kan nie volledig wees nie; die vader is immers die dief van sy kinderjare en die letsel of verwonding is dit wat onbewustelik van een bundel na ‘n ander oorgedra word.

Die vier gedigte gee elke keer ‘n nuwe perspektief op die verhouding tussen vader en seun. In die eerste gedig word die bou-motief uitgewerk met die vergifnis-refein (“maar ek vergewe jou”). Daar is egter nie sprake van vergifnis nie gedagtig die motto van Anne Sexton waar die digter probeer om die vader te vergewe, maar dit nie kan regkry nie. Dieselfde geld die vier De Lange-gedigte: juis deur die herhalingsdrif word die leser bewus daarvan dat vergifnis nie moontlik is nie. Die vader is die dief van sy kinderjare en iemand wat onder ‘n eklips van pynpille weggevlug het van die realiteit van kinders versorg. ‘n Eklips is letterlik wanneer ‘n astronomiese liggaam tydelik deur ‘n ander een verdonker word.

Totality during the 1999 solar eclipse. Solar prominences can be seen along the limb (in red) as well as extensive coronal filaments.

An eclipse is an astronomical event that occurs when an astronomical object is temporarily obscured, either by passing into the shadow of another body or by having another body pass between it and the viewer. An eclipse is a type of syzygy.

The term eclipse is most often used to describe either a solar eclipse, when the Moon's shadow crosses the Earth's surface, or a lunar eclipse, when the Moon moves into the Earth's shadow. However, it can also refer to such events beyond the Earth-Moon system: for example, a planet moving into the shadow cast by one of its moons, a moon passing into the shadow cast by its host planet, or a moon passing into the shadow of another moon. A binary star system can also produce eclipses if the plane of the orbit of its constituent stars intersects the observer's position.


In “Pa II” word die beeld van die eklips verder gevoer: die spreker sien die skadu van die vader wat langs hom op die grond val. Die vader se lewe het ook ‘n skadu oor die seun se lewe gegooi. Hy trek op sy vader, maar is bewus van die vader se afwesigheid en stilte. Die vader is deur die dood vir ewig op parool geplaas. Deur hierdie beeld te gebruik, aktiveer De Lange dat die vader deur sy selfdood nooit tot rus kan kom nie en dat sy lewe ook ‘n onvervulde belofte bly. Die kind egter voltooi die vader se lewe en maak deur die bouwerk van die gedig die vader se lewe klaar. Hy kan egter geen antwoorde vind vir die vader se dood nie; dit bly leë kamers en die gedig se klanke (die troffel wat teen die stene tik) is ‘n soort letterlike weerklank van hierdie paradoksale en pynlike besef dat hy die vader liefhet, maar ook verwyt.

Die onvermoë om te vergeef word in “Petidiendroom” verder uitgewerk. In hierdie aangrypende distigon blyk versoening selfs in ‘n droom onmoontlik te wees. Alleen deur die vader se dwelmsverslawing na te boots, kan hy nader aan die vader kom. Dit is egter nou die vader wat terugpraat met die seun in ‘n droom en aan die kind ‘n smal ampule aanbied. Die vader hoop dat dit hulle mag nader bring aan mekaar. In hierdie somber droom kan hy egter nêrens ‘n veilige plek vind om die dwelms te gebruik nie, want hy word deur ander agtervolg en alle plekke ruik na oorskot. In hierdie droom word versoening gelyk gestel aan die abjekte in Kristeva se terme. Dit is asof die spreker die volledige onversoenbaarheid in ‘n koorsdroom beleef. In die vierde vers kyk die spreker na ‘n foto van die vader. Die vader staan op Kerkplein in Pretoria en ofskoon hy netjies aangetrek is, is die vier brons krygers agter hom deur groenspaan oortrek. Hierdie beeld wys op die negatiewe emosie wat die spreker koester oor die vader en De Lange die digter van die paradoks stel dit dan klinkend:

Langs jou, op die vaal sement,
val jou skadu ambivalent.

Die vier tekste:

Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy 'n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
en tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar 'n wolkekrabber,
'n padkafeetjie langs die pad;
kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
en vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks en jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
en mag die onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

(Uit: Akwarelle van die dors)

*

Pa I

En tog het ek hom lief: al was hy die dief
van my kinderjare, slapend onder die eklips
van pynpille. Aantreklik en werkloos
en ons soms sonder kos. Ek wonder hoekom
hy nie maar daai slag met ons
teen die berg afgery het          
soos hy gedreig het nie; hy het my

in elk geval saamgevat.
Donker sy droewe oog en sy wanhoop
so volkome dat ek gevrees het
vir sy siel. Op ‘n kampbedjie
in sy broer se huis het hy homself
so ver weggevat dat ek hom
vir jare nie kon kry nie.

Nou begryp ek méér: hy was net ‘n seun,
en ek het nooit probeer vergewe
of verstaan: hóm wat deur
‘n dodelike liefde aangedryf
nagelaat het onder andere
‘n seun wat in pyn en herinneringe
soveel ouer is as hy.

(Uit: Vleiswond)

*

Pa II

Ek hoor ‘n troffel
teen die stene tik
en sien jou skuldig
oor jou bouwerk buk:

jou hande pak
die stene van ‘n huis
wat immer onvoltooid
jou faling wil bewys.

Ek sien jou weer,
‘n foto: op Kerkplein,
hande-in-die-sakke
en oë vol son en pyn.

Jou skraal skadu val
langs jou op die grond.
En jou sober lag,
weet ons, was ‘n front.

Ek kan sien hoe sterk
ek trek op jou:
die voorkop, mond,
en ken, en ek onthou

jy lê iewers in die grond,
vir ewig op parool,
jou mond ‘n onvervulde
belofte. Ek dool

deur jou stiltes,
jou leë kamers gee
niks terug, as net jou
weerklank waar ek tree.

Ek onthou jou,
als ten spyt,
met liefde
en verwyt:

newelagtig, byna skim,
jou gestalte benerig wit,
jou lyne byna argeloos,
(half ydel elke lid)

deur ‘n god gekrabbel
in die lug.

(Uit: Vleiswond)

*

Petidiendroom
Never blunt your veins with love, bind them

Ek loop my pa na jare raak
& hy probeer weer vrede maak.

Hy gee vir my ʼn smal ampule –
verdowing met ʼn streng skedule,

& hoop dit sal ons nader bring
soos die naald intiem deur weefsel dring.

Ek soek koorsig na ʼn plek om te gebruik,
maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

(Uit: Algebra van nood)

*

Pa

Op ’n foto wat ek van jou het
luier jy swart & wit op Kerkplein.
Jy dra ʼn wit hemp & oortrektrui,

die wyepyp-broek se naat
is pynlik netjies ingestryk,
die skoene gepoleer.

Agter jou tuur die vier brons
krygers hand op die roer
uit groenspaan van die tyd.

Jy lyk seunsagtig, rusteloos,
sigaret in jou linkerhand,
& glimlag half sku.

Langs jou, op die vaal sement,
val jou skadu ambivalent.

(Uit: Algebra van nood)


VIII.

Marius Crous reageer op hierdie aspek van De Lange se digkuns en dekonstrueer mitologie.

Die voorblad van Vol draadwerk bevat ‘n kunswerk, “Ongetiteld” van Charles Tait. Die torso van ‘n man word deur skerp drade bedreig en omvou. Draadwerk aktiveer die idioom van dwars-wees. Vol knope dan, in Lacan se sin van die woord.

Die bundel open met Freud se bekende stelling (“Everywhere I go I find a poet has been there before me”) en word opgevolg met Kristeva se siening van die chora waar digterlike taal sig skuilhou, d.w.s., in die pre-simboliese orde. “Anterior to naming”, maar ook hibridies oor die posisie ten opsigte van die naam-van-die-vader.

Dit is ‘n bundel van die abjekte – Kristeva het eweneens oor die aard van abjeksie geskryf, as synde ‘n paradoksale toestand van afsku én aantrekking. Die slotvers “Endumion” (80) aktiveer hierdie toestand waarin die digter sowel die mitologie as die skoptofiliese verenig. Dit is balsem vir die spreker in die vers en hiermee wil die gedienstige, gedweë, mooi liefdesvers gedekonstrueer word.

“Ná die lees van Simon LeVay” (79) word die rede vir obsessies en abjekte gesoek. Hier is ‘n sardonies-kritiese soeke vir “waar slaap die onderbewussyn soos ‘n skone / lyf…” Bekend vir The sexual brain (1993) en Gay, Straight, and the Reason Why: The Science of Sexual Orientation (2010) behandel hierdie Brits-Amerikaanse neurowetenskaplike die verskille tussen straight en gay mans se neurostrukture. Hierdie omstrede studies gaan lynreg in teen Freud se sieninge van die prosesse van oedipalisering. Dis ‘n verdere “draadwerk”-motief in die bundel waarmee die digter die Freudiaanse onderbou waarmee hy begin het, dekonstrueer. So gesien, wil die bundel die “skemergebiede” van die homoseksuele bestaan nog verder vat as sy voorgangers in die digkuns.

Daar word verwys na ‘n derde oog van plastiek (10), wat die siniese, wráng toonaard van die bundel bepaal. (Nie derdeoog!) Die hart se draadwerk teenoor die geloof wat gesien word as ‘n draadwerk van matryse (59). Niks is enkelvoudig nie en hierom word ‘n sterk mitologiese raamwerk opgeroep om die gevoel van ontheemding te verduidelik. Die naam van die vader is ook die nee van die vader, word Lacan pertinent aangehaal (53, 54, “Vaderland”), wat sowel die Freudiaanse rol van die moeder onttroon as die Vader/vader as heerser. Oraloor vind ons die blik van die obsessiewe kyker, die fetisj-bedrade, die liefhebber van die “golden shower”.

‘n Afdeling heet nie om dowe neute nie “Aufhebung” en hier word beweeg van die (oer)mitologie (waarop Freud geteer het), na Freud, na Lacan, na LeVay, na die Sex Pistols. Verskillende denkrigtings word gedekonstrueer. Vandag se wetenskap is more se mitologie. Moderne “mitologie” word ook onder die loep geneem: die selfdood van Sylvia Plath in “Lupercal”(44): hier is die toespeling of The white goddess opvallend en hoe die feministe na haar dood Hughes die verwyt gemaak het vir haar selfdood. En hoe dit weer in die tyd verander het, aldus Janet Malcolm in The silent woman. Boonop speel die film Sylvia ook tersluiks hier in: die James Bond-swembroek.

Daar is ‘n opposisie tussen ‘n Blakeaanse “Song of Innocence” en “Song of Experience”, wat regdeur die bundel loop.

Onderliggend bly die leser bewus van ‘n melancholiese draad, wat ons opnuut terugneem na Freud se seminale essay hieroor.

Die leser word uitgedaag om mitologies spits te lees en uitdagende psigoanalitiese toepassings te maak.

Teenoor die apostase of afwysing van religie staan die mitologie van o.a. Anchises se liefdesavonture. Dit word weer geplaas teenoor die banale seksuele avonture van die ek. Homerus teenoor Vergilius. Ons vind Dido en Carthago. Die ghat in Varanasi of die trappies na die heilige rivier waar lyke verbrand word.

‘n Ryk verwysingsveld oor die verhouding tussen lewe en dood word hier uitgewerk: Die Odusseia, Die Aneid en die Bengali-siening van die dood.

Ook die Ogygia, die eiland in Die Odusseia word weergegee. Soos die gedeifieerde Antinous.

Daar is onthutsende portrette soos “Wawielstraat” (68) en ‘n meedoënlose bevraagtekening van die Reële in Lacan se terme. ‘n Sentrale vers is dan ook “Hades” (24) waar die lot van die “onbegraafdes” beskou word. Die catch-22 van hierdie bundel is dat die digter júis in sy poging om die mitologie of religieuse sake te onttroon, dit ook erken. Die spreker bly dus vasgevang in die “kamer van katse en kettings” (24).

Endnote:

1. Vir ‘n komplekse analise van al die teorieë rondom die sfinks en haar verhouding tot die moeder Jokaste, verskaf Marianne Hirsch se studie The mother / daughter plot (Indiana University Press, 1989) ‘n insigryke opsomming van die bekendste feministiese debatte. Teresa de Lauretis, Cixous, en andere. Die fundamentele vraag is: waarom het die sfinks haarself soos die moeder Jokaste doodgemaak?

2. Gluck se opera Orfeo ed Euridice (1762) is veral bekend en nou onlangs is die opera in Suid-Afrika by die DVD-nouveau-teaters vertoon. Die verfilming is gemaak in die New Yorkse operahuis, die Metropolitan en Stephanie Blythe vertolk die rol van Orpheus. Die rol is geskep vir ׳n vrouesanger, gewoonlik ‘n mezzo-sopraan.

3. Oor Lacan het ek al uitgebreid geskryf. Die leser word verwys na “Die onopgeloste raaisel met spesifieke verwysing na Die Jakkalssomer van Dirk Jordaan”, (afgetrek op 15 Junie 2009).

                                     
Bibliografie:

Blanchot, Maurice. 1995. The gaze of Orpheus: and other literary essays. Vertaal deur Lydia Davis. New York: Barrytown Limited.

Crous, Marius. 2012. Vol draadwerk. Pretoria: Protea.

De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1984. Waterwoestyn. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.
De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.
De Lange, Johann. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1996. Vreemder as fiksie. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2000. Tweede natuur. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2010. Judasoog. ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange.
Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2011. Weerlig van die ongeloof. Pretoria: Protea Boekehuis.
De Lange, Johann. 2012. Vaarwel, my effens bevlekte held. Kaapstad: Human &
Rousseau.


Flieger, Jerry Aline. 1986. "The Purloined Punchline: Joke as textual paradigm" in Robert Con Davis se Contemporary literary criticism. New York: Longman.

Gallop, Jane. 1997. Feminist accused of sexual harassment. Durham: Duke University Press.
Gallop, Jane. 1982. The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Ithaca: Cornell University Press.

Hirsch, Marianne. 1989. The mother / daughter plot. Bloomington: Indiana University Press.

Koestenbaum, Wayne. 1989. Double talk - the erotics of male literary collaboration. Londen: Routledge.

Kristeva, Julia. 1984. Powers of Horror. An essay on Abjection. New York: Columbia University Press.

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

Malcolm, Janet. 1993. The silent woman. Londen: Papermac.

Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.


© Joan Hambidge