Jeanette Ferreira. Charlotta.
Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3908 0.
Resensent: Joan Hambidge
Ek het Jeanette Ferreira se jongste roman Charlotta tydens 'n slaaplose nag begin
lees. Die uitgewerspampflet bemark Jeanette Ferreira as 'n populêre en ernstige
skrywer. Maar nou lees ons:”Jeanette Ferreira se twee vorige romans wat tydens
die Anglo-Boereoorlog afspeel, Babette
en Catharina, het menslike lotgevalle
tydens hierdie oorlog na lesers gebring soos die datums en veldslae van
dokumente dit nooit kan doen nie.” Is die soet gevoel dalk die laatnag
vyekonfyttoebroodjie wat ek onder my tande proe?
Nee, want ons verneem verder:”Charlotta vertel vanaf
die jaar voor die oorlog tot en met die vredesluiting, van bedrog en
familietwis, van een vrou wat die oorlog met 'n Rooikruisvlag in haar hande en
drif in haar siel tegemoetgaan.”
Die liriese intensiteit en passie is gewis daar. Dit is
voorwaar 'n epiese verhaal maar sonder
enige ironie of afstand. Deurentyd is die leser bewus van die enorme navorsing
wat dit moes gekos het en dwing die historiese navorsing respek af, maar alles
is so hooggestem, so histeries, dat die leser (en veral hierdie leser) dat die die vyekonfyt later aan alles begin
vaskleef. Tag, dink jy: is dit die verdomde toebroodjie of die roman?
Jeanette Ferreira kon myns insiens 'n goeie roman
geskryf het. Nou het sy iets geskep wat tussen
'n goeie populêre roman en ernstige roman deurval. 'n Mens kan nie twee
literêre gode dien nie. Populêre skryfsters se ernstige werk word altyd deur 'n
middelmoot-aanslag gekortwiek. 'n Mens kry dieselfde gevoel by Eleanor Baker
wat dit slegs met Verbeelde werklikheid kon ontglip.
Maar as jy lus is vir iets op die vlak van 'n Gone with the wind is hierdie roman aan
te beveel. Vir die leser wat onder meer respek had vir Ferreira se kampusroman
en haar poësie, is Charlotta 'n boek
vir die laatnag mét vyekonfyt en 'n nat lappie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]