Tuesday, March 26, 2013

Minette Walters - The breaker (1999)



Minette Walters. The breaker. Macmillan, 1999. ISBN 0 333 747712 7.

Resensent: Joan Hambidge

Minette Walters - saam met Ruth Rendell, Patricia Cornwall, Elizabeth George – skryf briljante speurverhale. Sy het dan ook sowat tweejaar gelede Exclusive Books se Amaboeke-prys verower vir die beste speurverhaal in die kategorie vir vroulike speurverhale.

Walters is in wese 'n moderne Agatha Christie wat 'n mens imponeer met waarheidsgetroue navorsing. As Agatha Christie skryf oor die Hotel Catarac in Egipte kan 'n mens maar gaan kyk: dit is presies hoe dit lyk; so ver is die afgrond, en so is die hotel gesitueer. Dus kan 'n mens glo die karakter sou aan hoogtevrees  gelei het.

In The breaker word die leser van foto's voorsien (sowel die westelike as die oostelike perspektief word afgeneem), 'n kaart, forensiese en mediese verslae. Hierdie wetenskaplike agtergrond maak die verhaal dan “waar” of lewensgetrou. Hier is nie sprake van “suspension of disbelief” wat tot die uiterste getoets word nie.

The breaker is nie alleen 'n goeie speurverhaal nie, maar dit is ook literêr goed geskryf. Walters se taalbeheer en beeldgebruik dwing respek af.

'n Vrou word vermoor en twee jong seuns beloer haar lyk. Wanneer hulle agterkom dat hulle seksueel geprikkel word deur 'n dooie mens, verander sake egter dramaties. Dit blyk ook dat die dooie vrou, Kate 'n jong kind van drie het. Sake word ook meer kompleks wanneer dit Kate betrokke was by 'n akteur met 'n ongesonde belangstelling in pornografie...

Ook haar eggenoot is onder verdenking; die kind voel ongemaklik by hom en Walters buit die leser se suspisie uit: dikwels is 'n “onskuldige” eggenoot verantwoodelik vir so 'n misdaad eerder as 'n pervert. Dan duik daar ook 'n ander verhouding op en die leser word dus vele leidrade gegee wat opgevolg moet word.

Die donker, troebel onbewuste van die mens word ondersoek in hierdie genoeglike speurverhaal. Speurverhale as sodanig werk met die primordiale magte van die onbewuste en Freud et al. het al belangrike studies geskryf oor waarom lesers bevredig word in die soektog na die skuldige. Etienne Leroux se Een vir Azazel funksioneer ook meesterlik rondom hierdie soektog na die sondebok of skuldige.

Dit is 'n baie goeie roman wat 'n mens van die begin af boei. Die moordenaar is inderdaad 'n onverwagse-verwagse persoon. Lees net baie deeglike aan die forensiese verslae vir die werklike leidraad! En, Walters span moderne tegnologie in soos dat selfoon-rekeninge opgespoor kan word, die kwessie van afspraak-verkragting in om die verhaal modern te maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]