Ken Barris. Evolution
- a novel. Zebra Press, 1998. ISBN 1 86872 248 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Ken Barris se The
jailer's book (1997) het verlede jaar tereg die M-N-boekeprys in die
Engelse kategorie verower. Vir sy kortverhaalbundel Small change (1988) het hy die Vita-toekenning otvang en as digter
die Ingrid Jonker-prys vir An
advertisement for air (1993).
Sy jongste roman Evolution
- a novel. In die kolofon word vermeld dat Dineke Volschenk die redakteur
was van hierdie roman. Sy het al uitstekende werk gedoen veral met André Letoit
se romans.
Evolution is 'n interessante roman. Dit werk teen die agtergrond
van die leser se kennis van evolusie en : die roman is ook 'n proses van
evolusie wat 'n mens meemaak. Jessica Kruger besluit om te skryf oor oupa,
Eugene se geheime liefdesverhouding met die “bediende” Jolene Galant. Eugene is
'n dosent aan onderwyskollege in Franschoek.
Die tyd is 1937 en dit aktiveer Afrikaner-Nasionalisme,
die Tweede Wêreldoorlog en Afrikaner-mores op sy ergste. Eugene is nie alleen besig om die
kerk en die gemeenskap se religieuse waardes te “ondermyn” nie, maar hy is ook
besig om 'n verhouding, en daar is vir hom werklik liefde op die spel, met die
bruinvrou, Jolene te hê.
Ook sy vrou Anfra word helder geteken as 'n
gerepresseerde Afrikaner-nooi. Die eerste seksuele ervaring met haar
warmbloedige eggenoot is 'n teken van Barris se vermoë om suggestief te kan
skryf(p. 87).
Ons het in wese drie verhale in hierdie roman wat
evoluerend op mekaar inwerk. Die kleindogter Jessica se verhaal (1996). Sy het
'n verhouding met 'n swart man, te wete Teboso Ngqayimbana (haar antropologie
dosent). Die ontmoeting tussen hom en haar ouers, 'n klassieke “guess who's
coming to dinner” aktiveer 'n steeds voortslepende konserwatisme in hierdie
land.
Jessica het 'n ander blik op sake. En dit maak haar dan
opgewasse vir die skryftaak en navorsing oor die familiegeheim, te wete die
oupa se liefdesvergryp. Op 'n slim manier aktiveer Barris dan ook die
historiografie en in welke mate moderne geskiedskrywing sterk oraal gebaseer is
en werk met her-skrywing. In die derde en laaste afdeling besoek sy die ou
vrou, Jolene en háár perspektief op die gebeurde is weer anders as wat Eugene
dit ervaar het of Jessica dit wil neerskryf.
Tussendeur is daar ook die leser wat al-lesende meemaak
aan hierdie proses van evolusie. Nie alleenlik is die geskiedenis en sieninge
oor evolusie wat verander het nie, maar ook die leser se vashouplek op die
storie wat voor hom/haar gekonstrueer word.
Die oupa word ter take geneem deur sy kollege wat hom
tug oor sy moderne sieninge. Die leser van nou weet egter dat dit juis die
kennis van evolusie is op alle vlakke wat tot gevolg het dat 'n mens hierdie
spronge in tyd kan saam-lees. Elke stuk vertelling verïroniseer of relativeer 'n vorige stuk “geskiedenis”.
Elke mens onthou of wil onthou soos wat sy/haar ideologie dikteer.
En die outeur? Ek
meen dat hierdie roman vernuftige kommentaar lewer op die ewolusie-proses in
die roman. In die laat-neëntiende eeuse roman is die skrywer aanwesig deur
opsommende hoofstuk-titels, klein kommentare. In die laat twintigste-eeuse
roman is die skrywer afwesig. Die leser word die skrywer wat die roman moet
voltooi of “invul”.
Barris speel vernuftig met die tradisie van die roman.
Die romanskrywer is nie meer soos Flaubert soos God orals aanwesig nie. Die
moderne roman maak van die leser 'n medespeler en 'n klein godjie.
Moet egter nie bevrees wees nie. Dit is nie 'n geleerde
roman wat die leser sal afskrik of vervreem nie. dit bly steeds 'n roman oor
die menslike kondisie en daardie ewige emosie, naamlik die liefde, wat
betekenis gee aan alles.
Vir my kry die roman werklik vaart vanaf die tweede afdeling.
Die eerste gedeelte klink die karakters nog te veel na romankarakters wat “praat”
asof hulle in 'n roman is.
Ken Barris is 'n romanskrywer om dop te hou. Hy skryf
vir die intelligente én gewone leser. En dit is waarskynlik die werklike kuns
van 'n goeie romanskrywer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]