Saturday, March 30, 2013

Om alleen te reis: ‘n Lacaniaanse ondersoek. Aantekeninge tydens ‘n reis deur Frans-Kanada [1]


Jacques Lacan © 2009-2013 Patrick Valas

It is up to you to be Lacanians. As far as I am concerned, I am a Freudian.
Jacques Lacan [2]

Die ervaring van reis benadruk die gespletenheid van die ego. Daar is enersyds die ervaring van die nuwe of onbekende wat altyd gekoppel word aan die bekende of dan die plek van herkoms. Die ego reguleer die ervarings of indrukke immers aan dit wat bekend is of wat ‘n bekende representasie is van die ónbeleefde, ónbekende ruimte. In hierdie soektog word die gespletenheid van die self gedemonstreer en word die bewuste en onbewuste, die semiotiese en simboliese in opposisie tot mekaar gebring. Hierdie essay reis dan ook tussen konvensioneel-akademiese tekste en die internet – tekste wat soms hier verdwyn van webwerwe. Die teks lewer kommentaar op die agting en kritiek van ‘n bekende teoretikus.

Beide Freud en Lacan werk met die digitomie van eros en thanathos. By Lacan is daar egter ‘n groter klem op die doodsdrif (5, Internet Encyclopedia of Philosophy. Besoek op 13.3.06).


I. Le mange de….(dasein)
Die doodsdrif is vir Lacan die dwingendste aspek van ego-formasie wat uitgelewer is aan paranoïa. Paranoïa – gekoppel aan selfuitwissing en selfverminking – is opvallend aan hierdie reisiger se ervaringswêreld. Die Niagara-valle naby Toronto, kan gelees word as die onbewuste wat angs en onsekerheid in self-refleksie openbaar.


II.
CN-toring in Toronto, Kanada

Hierteenoor kan die CN-toring, die hoogste toring op aarde, gesien word as ‘n representasie van die Lacaniaanse fallus wat betekenis reguleer. 

In die 360 Restaurant neem ek toeristies die stad waar wat meer as 351m onder ons lê. In beheer. Bykans soos op ‘n foto, lê Toronto. Ná die Niagara-valle, wat die ónbeheerbare, bruisende onbewuste simboliseer, is die CN-toring die ruimte van intellektuele beheer.


III. ‘n Hittegolf in Ottawa

Parlement Huis in Ottawa, Kanada

Die effek van die hittegolf (30 grade Celsius) lei tot uitputting en ontsteltenis. Selfs paranoïa. Reis is waarskynlik een van die duidelikste prosesse waarbinne die ego-konstruksie opgebreek kan word in al sy brokstukke en veelvuldige nabootsings.

Die reis kry onverwags ‘n onheilspellende  en onvoorspelbare wending wanneer my verskillende verhoudings tot stilstand kom. Weens verskillende selfoon-frekwensies kan my selfoon nie konnekteer met Kanada nie. Ek waarsku vriende/geliefdes vooraf. Een voel beledig en sms my kort voor my reis: Ek het nie verwag jy moet kontak hou nie. Ons praat as jy terug is.” Selfs die aand met my vertrek, bewaar hy die swye en stuur hierdie boodskap 3 keer terug. Hy reageer wel tweekeer op internet in e-posse. Weliswaar afstandelik.

In hierdie tyd droom ek van ‘n vorige geliefde wat my opbel. Wanneer ek egter terugbel, besef ek die nommer het ondertussen verander. Alle kontak via fone, internet en ander tegnologie blyk onmoontlik te wees. Al kontak wat gemaak kan word, is deur drome. Ek droom egter nie van die huidige geliefde nie. Indien wel, weet ek dit nie.

Ek droom ek is op ‘n skip, na my besoek aan die Titanic-museum in Halifax waar artefakte van die ramp op uitstalling is.


IV. “Wo Es war, soll Ich werden”

Vir Lacan is die ego ‘n illusie, uiteindelik ‘n produk of skepping van die onbewuste. In Lacaniaanse psigoanalise is die onbewuste die rede vir alle betekenis en waaraan alles gemeet word. (Klages on Lacan. Besoek op 13.3.06).

As die onbewuste alle betekenis skep en reguleer, is dit noodsaaklik om hierdie onbewuste, en meer spesifiek, die reisende onbewuste te probeer karteer. Tot dusver is die onbewuste beskryf in terme van ‘n vloed (die Niagara-valle), ‘n hoë toring (die CN-toring) as die fallus of betekenaar. Ook word die hittegolf in Ottawa verbind met uitputting, ontsteltenis of paranoïa. Die arbitrêre aard van die betekenaar – naamlik dat dit na niks of alles verwys nie – is eweneens kenmerkend van Lacaniaanse psigoanalise. 

Dit is die ego self wat betekenisse aanstig of signifieer. Meer spesifiek, die reisende ego fokus op spesifieke landmerke of bakens ten einde beheer uit te oefen. “There is no anchor, nothing that ultimately gives meaning or stability to the whole system”, argumenteer Klages [2]. Sy gebruik die voorbeeld van ‘n woordeboek om hierdie sisteem te verduidelik: elke woord lei jou net na nog ‘n woord, wat jou na nog ‘n woord lei. Die drie fases in Lacaniaanse psigoanalise, die Reële, die Verbeelde en die Simboliese korrespondeer toevallig met die drie landmerke wat hier beskryf word.

Die essensie van die psigoanalitiese benadering het te make met verlies (“loss”, Klages, 3) aan die Reële, ‘n simboliese plek wat nooit weer gevind kan word nie. Hierom is daar geen taal in die Reële nie, ‘n plek van suiwer aksie. (“There is no absence or loss”). Vir die reisiger is die Reële voorstelling of representasie: dit wat al gelees is oor ‘n plek of dit wat in reisgidse of –boeke staan.

“To Lacan ego, or self, or “I”dentity, is always on the same level a fantasy, an identification with an external image, and not an internal sense of separate whole identity” [4].

In die sogenaamde spieëlfase beweeg ons buite onself met die wanperspersepsie dat ons volledig is [4]. Ons /ek verlang altyd terug na die Reële, na die eenwees met die moederliggaam en die oomblik wanneer dit verlaat, verlang jy altyd terug daarna.

Die Ander is immers gekoppel aan Begeerte.

Die belangrikste aspek van Lacaniaanse psigoanalise is dat dit gelees moet word as ‘n soort metapsigologie. Hierdie teks oor reis is eweneens ‘n metanarratief van sowel skrywer as teoretikus se obsessie met reis, die verbrokkeling van die self, digterskap, kreatiwiteit.

Menslike identiteit is vir Lacan per definisie gedesentraliseerd. (Internet Encyclopaedia of Philosophy, 2). Juis hierom vind my reisobsessie aansluiting by Lacan.

Veral twee fases in die formering van die ego is hier tersaaklik, naamlik die orale fase (om lief te hê, is om te verslind) en die anale fase (om te bemeester, is om te vernietig).
Die analysand se begeerte tot die “talking cure” ten einde konflik op te los of te oorwin, word vir die reisende skrywer die “writing cure” met die wete dat alle betekenaars leeg is en net deur die betekenis wat die skrywer as reisiger daaraan verleen, ‘n betekenis (her)win.

“The subject of the unconscious is the subject of the enunciation” (14). Volgens Lacan verraai ons meer deur parapraxis en simptome van die liggaam as wat ons besef.

Wat vertel die liggaam of wat verraai die onbewuste tydens reis?

Tydens die reis deur Frans-Kanada (Toronto-Ottawa-Québec-Stad-Montréal-Halifax) word die onbewuste gekonfronteer met ‘n onlangse ervaring. Die ontydige dood van ‘n kollega, ‘n Lacaniaan, word “unheimlich” verbind aan die reisgids se seun se dood. Peter se seun is tweejaar gelede in Ottawa vermoor. Op 7 Februarie 2005 word die skrywer van hierdie artikel meegedeel dat haar kollega vroegoggend vermoor is. 

Op hierdie reis word die skrywer teruggeneem na die moord op haar kollega toe die reisgids haar meedeel dat sy seun presies tweejaar gelede vermoor is. Hy het ‘n bed vir ‘n hawelose aangebied en is wreed deur hierdie persoon vermoor, ‘n vrye betekenaar, gekoppel aan geen vaste ruimte of betekenis nie. Ook die reisiger, bewegend van hotelkamer na hotelkamer op hierdie reis, word ‘n soort vry betekenaar (“floating signifier”). Die interaksie met die toergids aktiveer die pynlike herinnering aan die dood van die kollega.                          

Ek is waar ek nie dink ek is nie. Ek is waar ek nie reis nie. Ek is waar ek reis. Ek reis waarnatoe ek nie is nie. Dit is die paradokse wat die onbewuste aan my verraai.

Foto: Joan Hambidge 

In Halifax, aan die einde van my reis, besoek ek die Titanic-museum. Die Titanic het my deur soveel jare al gefassineer en is in etlike gedigte as metafoor aangewend.

Verskillende artefakte word hier uitgestal om die impak van die ramp te karteer. Onder andere word ‘n dekstoel uitgestal voor ‘n foto van die Titanic.

Die log-boek wat die kaptein gehou het, word ook uitgestal. In potlood word die verskillende fases van die naderende ramp neergeskryf. Iewers in die buik van die skip het iemand in spanning hierdie log-boek gehou en D.J. Opperman se siening, dat poësie onder uiterse spanning geskryf word, is opmerklik in hierdie logboek waarin die waarnemings al hoe sneller en driftiger word. Die aard van die digkuns as ‘n vinnige en kompakte reaksie op ‘n werklike of verbeelde ramp, word goed vergestalt.

Met potlood geskryf om ook iets van die efemere of vervlietende aard van die digkuns op te som. Paradoksaal is dit uitwisbaar, maar terselfdertyd word dit in ‘n museum bewaar.

Die kartering van pyn en angs word dus so verewig, net soos wat ‘n digter se gedig lank na die ervaring behoue bly in ‘n bundel of versameling.

Hoe ons trauma voorstel of signifieer – in hierdie geval in terme van die Titanic – is eweneens tersaaklik (15).

“Mange ton dasein!” (Oftewel, eet jou eksistensie). By Michel Foucault het ons die Filosofie van wantroue en by Jacques Lacan die Filosofie van Paranoïa.

In die eerste hoofstuk tot die Écrits verwys Lacan na “Le Facteur de la Verité” wat letterlik beteken die waarheidfaktor of die posman bring die waarheid.

In sy lesing van Poe se “The purloined letter” beklemtoon Lacan dat die brief se inhoud nie verander in die verhaal nie. Wat wel verander, is die interpretasie van die brief en in wie se besit die brief is. Volgens John Haber in “Who is Jacques Lacan?” is dit enblematies van hoe die onbewuste werk. (Haber’s Art Reviews; Who is Jacques Lacan? Besoek 2005/06/22)

Lacan was gekant teen terapeutiese pretensies en die siening dat die ego genees kan word. Volgens hom is die werklike punt van psigoanalise nie heling nie, maar die analitiese proses sélf. (Jacques Lacan, ÉcritsBesoek 2005/07/20).

“I identify myself in languages, but only by losing myself in it like an object. What is realized in my history is not the past definite of what was, since it is no more, or even the present perfect of what has been in what I am, but the future anterior of what I shall have been for what I am in the process of becoming” (Écrits). Die reis deur Frans-Kanada aktiveer ‘n digterlike reaksie: die besoek aan die Titanic inspireer my tot die skryf van die volgende vers:

Waar is jy Freda Plekker?
- ‘n hartseerballade

Gesigslose, verwaarlose Freda Plekker
o waar is jy nou?
Is jy dalk in die diepsee-waters,
saam met skulpfluisteraars
in ‘n klein submarien soekend na die Titanic
se oorblyfsels?
Is jou gesig perdalks
weggevreet deur skulpe,
seewier en klein vissies?
Of is jy miskien by Peggy’s Cove
besig om ‘n grys poskaart te versend?
Of in Halifax
in die skeepskaptein se log-boek opgeskryf:
“hou één kamer oop in jou hart”.
O Freda Plekker,
jy het nie saam met die Titanic gesink;
ek lees jou SOS’e,
dra die “vermoeide bagasie” van jou woorde.

L’envoi

Party digters sterf salig-salig soos ‘n Piet Snot;
ander sommer net aan ‘n suurstoftekort.

*

Vir Lacan is daar vier diskoerse: die Meester, die Universiteit, die Histeriese Een, die Analis... Vir die skrywer van hierdie essay is die vier diskoerse die Reis, die Intellektueel, die Digter en die Waarnemer of Belewer.

Die onbewuste praat ‘n taal parallel aan die alledaagse taal wat ons praat (Haber’s Art Reviews; Who is Jacques Lacan? 1. Besoek 2005/06/22). Die taal van die onbewuste kom onder andere in drome na vore. ‘n Herhalende droom van waarskuwing lui soos volg: ek moet ‘n sekuriteitsdeur installeer. Elke keer wanneer ek dit probeer doen, word ek in die rede geval of ondermyn. Uiteindelik blyk dit uit die droom dat die bure ‘n soortgelyke sekuriteitsdeur geinstalleer het, maar dat daar ‘n ontploffing was. Die paradoksale aard van hierdie droom kom sterk na vore: enersyds is ‘n sekuriteitsdeur iets wat moet beskerm of afweer; andersyds dui die ontploffing daarop dat dit ook kan ondermyn.

Hierdie is ‘n herhalende, byna obsessiewe droom. In een nag tydens etlike slaaponderbrekings, word die droom driekeer herhaal. Ek moet sekuriteit, beskutting vind, maar die sekuriteit of beskutting ondermyn my.

Waarskynlik is hierdie droom gekoppel aan persoonlike onsekerhede, en meer spesifiek, aan skryfonsekerhede. In hierdie tyd word die skrywer toenemend bewus daarvan dat die skryfproses, die sogenaamde ruimte van beskutting, al hoe meer ‘n ruimte van kritiek en verdagmaking word. Die skrywer word al hoe meer bewus van onsekerhede oor die waarde van skryf. Skryf is dus nie meer ‘n plek van beskutting of stilte nie. Dit is dus nie meer ‘n plek waarin konflik opgehef word nie. Dit word die rede vir konflik, ambivalensie, uitlewering. Onsekerheid het inbeweeg in hierdie ruimte van stilte en die twyfels vreet aan die outeur.

Skryf word dan ‘n proses van opgawe – en ‘n herbesoek of reis terug na bekende bakens in die oeuvre.

Die alambiqué-styl wat volgens die Middel-Engels soos volg verduidelik word: Alembyk, sb. a retort (used in alchemy), C3; alambic, NED; limbeck, ND, Sh.; lymbecke, (Minsheu).—OF. alambic, Sp. alambique (Minsheu); Arab, al-anbA-q; Gr. [Greek: ambic]. stem of [Greek:ambix], a cup. Retort dan as wederwoord of skerp antwoord, is hoe ‘n mens hierdie styl moet verstaan wat aan Jacques Lacan toegedig word. [3]

Elisabeth Roudinesco in haar studie oor Lacan vertel die volgende anekdote oor Lacan. [4] In die herfs van 1975 reis Lacan na die VSA. Volgens homself was hy wêreldberoemd en hy het by sy aankoms in New York aangekondig dat hy graag die Metropolitan Opera huis privaat sou wou besoek. Bekend vir sy humeur wanneer hy teëgegaan word, het sy gashere besluit om die direkteur van die Met op te bel en vir hom te sê dat Jean-Paul Sartre inkognito die operahuis wou besoek. Hy is egter gewaarsku om nie die filosoof se naam te noem nie en op hierdie wyse, skryf Roudinesco, is sowel die operadirekteur tevrede gestel as Lacan.

By ‘n latere besoek aan MIT het hy egter Noam Chomsky se gramskap op die hals gehaal toe hy opgemerk het dat hy met sy voete dink! (“We think we think with our brains,” said Lacan. “But personally I think with my feet. That’s the only way I really come into contact with anything solid. I do occasionally think with my forehead, when I bang into something. But I’ve seen enough electroencephalograms to know there’s not the slightest trace of a thought in the brain.”) Vir Chomsky was dit egter genoeg bewys dat hierdie man van sy kop af is. En skielik, net hier, kom my skepsis oor Lacan na vore en op die reis keer ek opnuut terug na die digterlike proses:


Die skryfproses as sonnet
(‘n parodie)

Hoe goed om te weet! Poësie spruit
nie net uit poësie, maar uit jou
dartelende borste, sagte heupe – veral jou mond,
(geheimsinnig), ‘n stilstaande hysbak

tussen die derde en vierde vak.
Reddingswerkers, toevallig hier rond,
hardloop heen en weer: “Dis nou
of nooit! Ek is kloustrofobies, kry my uit!”

Maar totaal vasgevry
deur jou borste, hande
en besitlikheid: dwíngend

soos ‘n rympatroon, word ek vry
vanoggend in ‘n vers. Van alle kante.
Ek wou nog sê…


Die skryfproses, nogmaals as sonnet
(‘n selfgesprek)

Hoe goed om te weet! Poësie spruit
net uit poësie, lankal nie meer uit jou
hangende borste, sletterige heupe – veral jou mond,
(kwetsend) is ‘n opgaande hysbak

op pad na die derde of  vierde vak.
Reddingswerkers, nogmaals hier rond,
Hardloop heen en weer:”Dis nou 
finaal!” Ek is kloustrofobies, kry my uit!”

en totaal van álle illusies bevry
oor jou eens koesterende borste, veral troostende hande
en bystand, lojaliteit: dwingend

soos ‘n rympatroon word ek vry
vanoggend in ‘n vers van alle kante.
Ek het niks meer te sê.


Die skryfproses as gebreekte sonnet
(vir Lesbia)

Et atque mea Lesbia, vergeef my
vir al die dwingende, grensoorskrydende verse!
Gisteraand, helaas vir die soveelste keer,
sit ek vas in ‘n hysbak op die grondvloer.
Voorheen kon ek hieroor veelseggend dig:
hoe ek kloustrofobies raak, reddingswerkers met drif
aanspreek (“Fok, kry my net hieruit!”).
Op ‘n skrefie die hysbakdeur óópforseer;
beelde en rympatrone in die proses verbeur.
O Lesbia, kyk na die merke op my lyf:
na soveel jare se se buigsaamheid van verdriet,
is al wat my kan red jou troostende, lieflike ....

In hierdie tyd word ‘n mede-digter van plagiaat beskuldig. Die “uncanniness” van die reis word verder beklemtoon, want dit is uit die werk van ‘n Kanadese digter wat sy die vers vertaal het sonder erkenning. Sy moet uiteindelik ook haar prys teruggee en ‘n onverkwiklike letterkundige storm bars los.

Terselfdertyd ontstig dit my geweldig en word ek telkemale bewus van die ongelooflike Schadenfreude van die deelnemers. Die verguising van die digter. Die aanklag teen die Afrikaanse digkuns as sou alle digters plagieer en skelmstreke uithaal.In Jungiaanse terme word hierdie digter die judasbok. Sy betaal vir die kollektiewe skuld van álle oortredings.

In Lacan se terme is dit opvallend dat hy paranoia definieer as ‘n aanval teen die self.
Waarom sou hierdie digter só nalatig opgetree het?

Bertolt Brecht het na die verskyning van die “Drei Groschen Oper” ‘n aanklag van plagiaat in die oog gestaar. In antwoord op die aanklag dat hy ‘n onbekende Franse skrywer se werk sonder erkenning oorgeneem het, het hy op sy gebruiklik sardoniese manier geantwoord: “Ek is laks by die erkenning van enige geesteseiendom.” Hy is ontmasker deur ‘n Berlynse kritikus wat sy mes in gehad het vir Brecht, ‘n anekdote van my Duitse kollega, Gunther Pakendorf.

Plagiaat is altyd ‘n hoogs emosionele onderwerp wat twee reaksies ontlok: vir sommige lesers is dit letterdiefstal, die oorname van iets en die voorgee dat dit jou eiendom is en dus ‘n oortreding van kopiereg. Vir die skrywer is dit ‘n verwikkelde onderwerp. Alle skrywers weet dat skryf nabootsing of navolging is, emulasie, afkyk, naboots….

Presies waar is geleen en hoe word kreatiewe impulse oorgeneem? Wat is (per ongeluk) ‘n oorname?

Ek reis verder en kyk na twee DVD’s op my dra-rekenaar op ‘n trein tussen Montréal en Halifax: Lacan se studie oor paranoia wys daarop dat dit die self is wat sigself aanval.

The shining van Stanely Kubrick is ‘n film waarin paranoia vergestalt word. ‘n Man, ‘n romanskrywer, aanvaar ‘n werk as opsigter by ‘n afgeleë hotel. Hy word gewaarsku dat in die winter kan hierdie hotel jou oordeel aantas, omdat jy volledig afgesluit is van die buitewêreld. Die vorige man het in so ‘n toestand sy vrou en tweelingdogtertjies met ‘n byl vermoor.  Jack (vertolk deur Jack Nicholson) se volledige ineenstorting is ‘n manjifieke analise van hierdie psigiese toestand. 

Kubrick gebruik die labirint om hierdie psigiese proses voor te stel. Die vrou en kind stap buite in die labirint van die tuin, terwyl die skrywer hulle dophou. Ook die hotel is soos ‘n labirint waarin verdwaal kan word. Die skrywer se gesprekke met die dooies en sy inbeweeg in die parapsigologiese dimensie is eweneens ‘n doolhof wat betree word. Ook die kyker wat die proses van “the shining”, ‘n metafoor vir psigiese voorwetes, betree die labirint van die onsekere dimensie.

Alfred Hitchcock se Psycho aktiveer eweneens paranoia. Die sekretaresse vlug uit Phoenix, Arizona met die geld van haar prokureursbaas wat sy moes inbetaal. Sy slaan op vlug, vermoedelik omdat haar minnaar nie met haar kan trou nie, omdat hy te veel onderhoud aan sy gewese vrou moet betaal. Sy reis wég van haar baas en werk en Hitchcock gebruik die montage-tegniek om te vertel wat gebeur het sedert haar vertrek. Is dit wat sy dink of is dit wat daar werklik gesê word? Hierdie onsekerheid skep egter paranoia by die kyker: so word jy betrek by haar vlug. Die polisieman wat haar langs die pad stop, besef dat sy skuldig is aan iets, omdat sy die hele nag in die motor geslaap het.

Wanneer sy by die Bates Motel inboek, ontmoet sy Norman. As ‘n psigotiese persoonlikheid is hy waarskynlik die hoogste voorbeeld van ‘n paranoïese figuur. Hy het sy moeder vermoor, omdat hy haar betrap het met ‘n ander man in die bed. Dit blyk dat hy die lyk opgegrawe het. As ‘n taksidermis kon hy die lyk bewaar soos die voëls in die motel. 

Die Freudiaanse familieromanse word hier deur Hitchcock besonder uniek voorgestel. Die begeerte van Norman Bates vir sy moeder kan nie werklik uitgeleef word nie, maar hy sublimeer dit duur haar lyk in klere uit te stal in haar slaapkamer. Hy voer ook gesprekke met haar sodat die kyker aanvanklik dink sy is lewendig. Dit is eers wanneer ons gekonfronteer word met haar lyk dat die waarheid deurdring. Soos die gebruik van stemme om Janet Leigh se herinneringe en die werklikheid te verbeeld, gebruik Hitchcock ook hier die tegniek van stemme.

More eindig die reis in Halifax waar die Titanic geberg word; vir my ‘n simbool van die skryfproses...


Bronne:

Matthew Sharpe. 2005. Lacan, Jacques [Internet Encyclopedia of Philosophy]. University of Melbourne, Australia.


Jacques Lacan. 2001. Écrits: A Selection. Routledge. ISBN 9780415255462


Endnotas:

1. Die titel is ontleen aan Fanie Olivier se bekende digbundel Om alleen te reis. Human & Rousseau, Kaapstad. 1973.

2. Mary Klages. Klages on Lacan. University of Colorado, Boulder.


4. Elisabeth Roudinesco. 1997. Jacques Lacan. Polity Press, 574.

5. Resensie van Elisabeth Roudinesco se Jacques Lacan, Polity Press:
“The ultimate emptiness of the mysteries which Lacan expounded in his seminars, and of his entire intellectual enterprise, is perhaps best conveyed by his last major project – in which, having already reduced human psychology to a series of pseudo-algebraic linguistic equations, he set out to discover the mathematical formulae (“mathemes”) to which he believed all human psychology could be reduced. As equations, ratios, arrows and diagrams of complex knots covered the blackboard in the three-day meeting on mathemes which took place in 1976, many members of Lacan’s audience felt guilty at understanding nothing or very little of something that, as one of them put it, “everyone important seems to feel is so crucial'”. ["Lacan goes to the opera". New Statesman, July, 1997: p. 574]